“Ons kon nie eens my gradeplegtigheid vier nie, want ons het nie geld nie,” het sy aan Huisgenoot vertel.

Annamore het haar graad aan Unisa behaal.  

Huisgenoot het van haar storie te hore gekom toe Adri Hugo van Brackenfell in die Wes-Kaap, by wie Annamore al sedert 2011 as huishulp werk, ’n roerende inskrywing op Facebook gemaak het. 

“Sy is so ’n inspirasie. Ek weet nie hoe kry sy dit alles reg nie,” sê Adri. 

Breinkanker is verlede jaar by Annamore se vierjarige seun, Ryan, gediagnoseer. Hy is die jongste van haar drie kinders.

“Dit was moeilik. Hy het vir ’n operasie gegaan om die gewas te verwyder, maar hulle kon nie al die kanker verwyder  nie, want dit was te na aan sy breinstam. Hy het ook vroeër vanjaar bestraling gekry,” sê Annamore.  

Foto: Verskaf
Ryen (4) is besig om te herstel ná hy bestraling ontvang het vir breinkanker. Foto: Verskaf

Annamore het in 2007 saam haar man, Chrispen Chimwamafuku, uit Zimbabwe gevlug en hulle is tot vandag toe nog in die land onder vlugtelingstatus.

Verskaf
Annamore Mabhii en haar man, Chrispen Chimwamafuku het nou beide 'n graad agter hul naam.

Ten spyte van twee grade agter sy naam, het haar man gesukkel om werk te kry.

“Hy is ’n wetenskaponderwyser en het ook maatskaplike werk studeer. Hy het sy honneurs in opvoedkundige sielkunde gedoen,” vertel sy.  

Hy werk tans op kontrak by ’n skool, maar dié kontrak verval volgende jaar Februarie.  

Annamore het intussen as ’n huishulp begin werk om die pot aan die kook te help hou en ook self daarvan gedroom om verder te studeer.

“Ons altwee het ’n passie vir studeer. Daar was tye dat ons gesukkel het om kos te koop, maar ons het geweet ons moet aanhou om onsself te verbeter. Ons kon nie net opgee nie,” sê Chrispen aan Huisgenoot.  

foto: Verskaf
Annamore se kinders van links is Christine (10), Ryen (4) en Tendekai (12).

Annamore sê sy glo haar en haar man se studies het hulle toegerus om Ryan se kanker diagnose beter te hanteer.  

“Ons help ons kinders en die gemeenskap om dit te verwerk,” sê sy.  

Adri sê haar gesin is ewig dankbaar teenoor Annamore.  

“Ten spyte van Ryan en moeilike finansiële omstandighede glimlag Annamore altyd. Sy het drie kinders, maar kon nog ’n graad voltooi. Daar is nooit ’n taak wat benede haar is nie. Sy het ons van hardwerkendheid, taakgerigdheid en ook nederigheid geleer,” sê Adri.  

Klein Ryan gaan volgende maand vir nog ’n ondersoek en die familie hou duim vas dat dit goeie nuus is.  

“Ek hoop om in die rigting wat ek studeer het te werk. Ek wil mense help. Dit is my passie,” sê Annamore.  

Sy wil spesifiek berading doen en is ook geregistreer om haar honneursgraad te doen.  

“Ek skuld nog R7 900 vir my honneurs. Waar ons die geld gaan kry, weet ek nog nie, maar dit sal uitwerk.”

Adri sê sy het sommer bewoë geraak toe sy Annamore se gradeplegtigheid verlede week by gewoon het.  

“Die Here moet oor haar pad stuur wat vir haar besin is. Ons sal haar mis, maar sy is tot soveel meer in staat,” sê Adri.