Sy was op 19 die jongste deelnemer nog aan Survivor South Africa, maar sy staan geen tree terug vir haar ouer of meer ervare eilandgenote nie.

Reg aan die begin van die sesde seisoen van dié M-Net-reeks het Katinka Oosthuizen haar span die eerste uitdaging help wen toe hulle van ’n boot in die see met vlotte na ’n eiland in die Filippyne moes roei. Roei het hulle geroei, en hulle het eerste daar aangekom.

“Ons het rys gewen,” vertel Katinka trots asof dit goud was.

Op dag nege het sy haar span ’n ander uitdaging help wen, maar toe ’n ander deelnemer, Marthinus Oosthuizen, bitsig reageer en haar afmaak, het dit haar nie van stryk gebring nie.

Want “Die Kat”, soos sy haarself noem, kan van kleins af haar man staan.

‘’n Mens moet jouself verkoop en vertel waarom jy ’n aanwins vir die reeks sal wees.’

Katinka vertel sy het nog altyd ouer as haar ouderdom gevoel, want sy sorg al sedert haar skooldae vir haar eie inkomste. Met haar onderneming Katinka Produksies skep sy video’s vir haar YouTube-kanaal, en sy verkoop klere met haar tweedehandseklerereeks, Golden Olden Finds.

Sy skenk van haar inkomste aan gemeenskapsprojekte op haar tuisdorp, Mosselbaai, en gebruik die res om die fondament vir haar lewe te bou. Op 15 het sy al vir haar ’n plekkie op die internet oopgekrap.

Haar sakemanpa, Francois (44), het ’n kop vir tegnologie en het haar help leer hoe om aanlyn te woeker op Vine, waar ’n mens video’s van ses sekondes kan plaas. Katinka het begin eksperimenteer en toe in 2016 ’n treffer losgelaat: haar video met die titel Olga die Pliggie.

In dié video van net ’n minuut skeer sy die gek met pligsgetroue meisies op skool – daardie presteerders in “okkie rokke” (ook nie lank nie, ook nie kort nie), medaljes, balkies en twee netjiese vlegsels. Ja, sy sou ook na haarself kon vinger wys – sy was immers toe ’n prefek aan die Hoërskool Punt.

En toe deel die gewilde Facebook- en Instagramblad Sarkasties die video, en dit versprei soos ’n veldbrand.

Katinka vertel sy was voor in die koor met die sosiale media. “Ek het voor al my maats Instagram gehad,” sê sy trots.

Vandag is dit haar kos, en ook haar brood en botter. Sy het 43 500 volgelinge op Instagram, 20 700 aanhangers op Facebook en 19 000 intekenare op haar YouTube-kanaal, wat sy in 2014 in haar gr. 9-jaar begin het en waar sy gereeld nuwe video’s uit haar lewe deel.

Hierin dryf sy die spot met situasies uit haar en ander se alledaagse lewe. Verlede jaar was sy in die program Wat Maak Jy? op VIA (kanaal 147 op DStv) waarin vloggers, oftewel videobloggers, video’s uit hul eie lewe deel.

Sy het ook in 2017 begin studeer aan die rolprentskool Afda in Kaapstad, maar teen Junie opgeskop.

“Ek het God gevra om vir my iets legit te gee wanneer ek weer teruggaan huis toe. En toe gebeur al hierdie dinge.”

“Hierdie dinge” verwys na haar avonture op die Survivor-eiland – daardie wilde niemandsland waar Die Kat en haar mededeelnemers nou op die kassie veg om oorlewing en die groot boerpot.

Sy het haar skilder-ma, Maria, se kreatiwiteit gekry en haar pa, die sakeman Francois, se kop vir sake. Hier kuier hulle in Maria se ateljee saam met hul steekhaarbrakkie, Snoefie.

Toe ons by haar huis op Mosselbaai aanklop, maak sy die deur oop met ’n kwinkslag: “Welcome to my humble abode.”

Sy praat met ’n innemende lispel en haar oë is opvallend blou. Sy is die ene borrelende jong selfvertroue. Katinka woon in haar eie woonstel agter haar ouers, pa Francois en ma Maria (44), ’n skilder, se huis.

’n Skildery wat sy self geverf het, hang by die ingang. Uit haar kunstalent maak sy ook lekker geld, want sy verkoop van haar skilderye. Sy beduie na die een by die ingang – dis van ’n vrou met ’n lemoen op haar neus; sy het dit in haar matriekjaar geverf.

“Dit was in my oudisievideo vir Survivor,” laat sy val.

Wanneer sy nou na haar oudisievideo kyk, skaam sy haar dood oor die selfbemarking, erken sy. “Maar ’n mens moet jouself verkoop en vertel waarom jy ’n aanwins vir die reeks sal wees.”

In die video staan Katinka in ’n rooi swembroek en vertel sy sal kan hand bysit as iemand in die water in die moeilikheid raak, want sy is ’n lewensredder.

Sy kyk al van kleins af Survivor. Dis ’n familietradisie, en sy het altyd gespot sy wil deelneem, want “’n mens word maer en wen geld”.

Sy was op 19 die jongste deelnemer nog aan Survivor SA.

Maar toe sy eers gekies word en in die Filippyne land, was sy skielik nie so seker hoe sy moet maak om die ander, ouer deelnemers te uitoorlê nie. Sy was net 19 en het eers op 5 Mei haar 20’s betree.

“Ek was onseker oor hoe om die spel binne te gaan. Maar ek was vasbeslote om nie al die eerste paar dae my kop op ’n blok te sit nie. My strategie was om low-key te speel.”

Maar kort voor lank het sy haar staal gewys. Op dag nege het sy haar stam, Mindanao, gehelp om die immuniteitsbeeldjie te wen sodat nie een van hul lede uitgestem kon word nie.

Sy het soos ’n ratse kat een van haar nege lewens gewaag om groot houtblokke op mekaar te stapel. Dit moes drie sekondes lank so staan. En sy het dit reggekry.

“Sy is hier om iets te bewys. Ek is nie. Ek is hier om te wen,” het Marthinus in sy onderhoud in daardie episode gesê. “Sy het nie eintlik ’n persoonlikheid nie en dryf net hier oral rond.”

Katinka lag en vertel haar naastes het dit die vorige aand op televisie sien uitspeel. “My hele familie was oorgehaal om Marthinus by te kom.”

Daar op die eiland het sy egter net opgestaan en weggestap.

“Ek het respek vir ouer mense,” verduidelik sy nou. “Ek is nie bang om vir myself op te staan nie, maar ek wou nie ’n scene maak nie. Dis die ding waarvan ek die minste hou. En as iemand op my skree.”

Op die boot op pad na die eiland het sy gewonder of dit ’n goeie idee was om haar grimering by die huis te los toe sy van die ander vroue se vals wimpers en hare met professionele sonstrepies sien.

Maar haar oog was toe al op die doelwit. Die eerste taak wat sy vir haarself op die Survivor-eiland gegee het, was om palmtakke te weef vir beskutting.

“Ek het in vorige seisoene gesien hoe dit op tropiese eilande reën.”

Katinka vertel die muskiete en sandluise het haar lelik bygekom. Die seerplekkies het dae lank nie gesond geword nie.

‘Die letsels gaan bly. Ek het ’n ander mens teruggekom'.
Katinka op die strand van haar geliefde Mosselbaai.

“Die letsels gaan bly. Dis oorlogswonde wat my altyd aan dié lewensveranderende ervaring sal herinner. Ek het ’n ander mens teruggekom.”

Die Kat sê sy was nog altyd positief oor haar lyf en maak seker sy word nie te maer nie.

“Jy kon my vetrolletjies op die eiland sien. Dis goed so. Baie van my volgers is tienermeisies wat met hul selfbeeld sukkel.”

Hier in haar woonstel, haar kreatiewe nes, drup haar persoonlikheid van die mure af. Oral teen die mure staan haar mantras in bordkryt geskryf: “Life is your ministry” en “It is cool to be kind”.

Ook: “Be patient. Be present. Be the light.”

“Dit was met hierdie lewensleuses dat ek die spel gespeel het,” vertel sy. “Op Survivor het volgers my gesien op my rouste – emosioneel onstabiel. Ek wil hê die inhoud op my YouTube-kanaal moet ook vir nuwe intekenaars wys jy kan net jouself wees.

“Jy gaan nie net altyd positiewe reaksies kry nie. Jy moet dit verwag. Bly net getrou aan jouself. Weet wie jy is.”