Ek soek ’n Sampie,” was 2017 se hutsfrase van die jaar, spot Francois Jacobs. Byna elke dag het die 28-jarige akteur iewers by ’n vrou gehoor hoe sy ook ’n “Sampie” begeer.

“Baie vroue wou by my weet of daar nog sulke mans bestaan,” vertel die ster oor sy karakter in Huisgenoot se eeufeesfliek, Vir die Voëls.

Presies ’n jaar het verbygerol sedert dié fliek uitgereik is, en Francois glimlag steeds breed toe hy vertel hoe sy eerste hoofrol in ’n rolprent sy lewe verander het. Daardie groot glimlag en ondeunde streep, sy deursettingsvermoë en toewyding om die liefde te laat werk het alles van Sampie ’n droomman vir duisende bewonderaars gemaak.

Aan Francois se sy is die 27-jarige Simoné Nortmann, sy medester in die fliek wat die rebelse en oopkop Irma speel. Ook Simoné se lewe het soos handomkeer verander sedert sy as Irma voor die kansel vasgesteek en die trougaste vertel het hoekom sy Sampie so hard vir haar liefde laat werk het.

“Ek kry talle boodskappe van mense wat vir my vertel hoe hulle hulle met Irma vereenselwig en trane in die fliekteater afgevee het,” vertel Simoné.

Simoné Nortmann en Francois Jacobs. Foto: Lubabalo Lesolle

Vir die Voëls is gegrond op die ware liefdesverhaal van Irma en Sampie de Klerk van Newcastle wie se liefdespad so ryk aan intrige was dat dit uit honderde Huisgenoot-lesers se inskrywings as inspirasie vir die draaiboek gekies is. Die fliek is in samewerking met kykNET en The Film Factory vervaardig.

Die twee jong akteurs het onlangs vir hul toneelspel in dié rolprent elk ’n Tempo-toekenning gewen – as aktrise en akteur van die jaar – en Vir die Voëls is met ’n Tempo as rolprent van die jaar bekroon.

Boonop het Simoné pas teruggekeer uit Amerika, waar sy Vir die Voëls die afgelope maand verteenwoordig het op drie van die vyf internasionale rolprentfeeste waarvoor dit gekies is. Om die kroon te span is sy op een van die feeste, die Tallgrass-fees in Kansas, as die beste aktrise in ’n hoofrol aangewys. En op die gesogte Edmonton-fliekfees in Kanada het die rolprent die prys vir die beste internasionale rolprent verower.

Die fliek het van Irma en Sampie rolmodelle gemaak, vertel die akteurs. “Die De Klerks is deesdae bekende name en gesigte – selfs in Amerika,” vertel Simoné. “Ek het hulle by die Aardklop-kunstefees in Potchefstroom gesien, en Irma borrel oor. Dis wonderlik om te sien watter geleenthede die ervaring haar gegee het, soos om meer te skryf en selfs praatjies by geleenthede te lewer.”

Hulle het ook albei nog kontak met die De Klerks. Francois stuur af en toe vir hulle ’n e-pos en Simoné gesels nog gereeld met Irma.

Stories wat mense se hart aanraak – soos Irma en Sampie s’n – moet vertel word, sê Francois. “Dit verander lewens.” Dis dié dat hy en Simoné Huisgenoot-lesers nou aanmoedig om hul ware liefdesverhale in te skryf vir Huisgenoot en kykNET se tweede fliekkompetisie.

Vir die Voëls het nie net Irma en Sampie se lewe ingrypend verander nie; dit het ook nuwe geleenthede geskep vir die twee jong akteurs.

Simoné Nortmann en Francois Jacobs. Foto: Lubabalo Lesolle
Simoné Nortmann en Francois Jacobs. Foto: Lubabalo Lesolle
Simoné Nortmann en Francois Jacobs. Foto: Lubabalo Lesolle

Francois was voorheen hoofsaaklik te sien in skurk- of boelierolle, onder meer as Henk in 7de Laan en Tyres in die fliek Hollywood in My Huis.

“Dit was lekker om vir ’n slag die gawe ou te speel,” vertel die akteur, wat deesdae ’n aanbieder in die kykNET-reeks Fiësta is en ook nou speel in wyle PG du Plessis se toneelstuk Die Nag van Legio in die Kunstekaap in die Moederstad.

Simoné het voor haar rolprentdebuut in Vir die Voëls net as die skoolmeisie Nadia in 7de Laan en as Joanie in die eerste seisoen van die kykNET-komediereeks Hotel verskyn. Sy sê sy voel steeds emosioneel wanneer sy oor Vir die Voëls praat. “Dit was ’n voorreg om ’n fliek te maak wat so ’n dapper storie vertel.”

Sy is tans te sien in die tweede seisoen van Hotel op kykNET.

Die twee het albei aan die Universiteit Stellenbosch drama studeer en mekaar daar leer ken, maar eers ’n hegte vriendskap gesmee terwyl hulle aan Vir die Voëls gewerk het.

Francois bewonder Simoné se eerlikheid.

“Simone sal sê wat op haar hart is. Sy is ’n straight shooter.” Al kom hulle goed klaar, verskil hulle ook taamlik baie, verduidelik Simoné. “Ek is beslis die introvert en hy die ekstrovert.”

Simoné meen dis juis hul verskille wat die vonk na die silwerdoek gebring het.

Ek is beslis die introvert en hy die ekstrovert.

Die belangrikste liefdesles wat Simoné se rol in Vir die Voëls haar geleer het, is om nooit jou ware self weg te steek nie.

“Irma was so onbeskaamd haarself, ten spyte van al haar seerkry.

“Ek is deesdae meer realisties oor die liefde. Irma en Sampie se verhaal het vir my gewys dat liefde ’n keuse is en tyd verg,” verduidelik sy.

Simoné is deesdae enkellopend nadat sy die afgelope ses jaar iemand in haar lewe gehad het.

Sy erken: “Dit was iets groots vir my: om oukei te wees om alleen te staan en dinge alleen te doen.”

Francois is ook enkellopend, maar sê hy glo “aanhouer sal wen tot op ’n punt. ’n Mens moet mekaar in die middel ontmoet om dit te maak werk.”

By Sampie het hy geleer ’n mens hoef nie volmaak te wees om onvoorwaardelike liefde te gee of te ervaar nie.

Simoné en Francois saam met Sampie en Irma de Klerk, op wie se liefdesverhaal Vir die Voëls gegrond is.

“Niemand is perfek nie; julle moet mekaar se verskille aanvaar; dis tog wat julle in die eerste plek op mekaar verlief gemaak het.”

Die silwerdoek is ’n plek waar albei die volgende klompie maande sal boer.

Van 8 Desember af is Simoné saam met Leandie du Randt Bosch te sien as die veeartsenykundestudent Nikki in die rolprent Vuil Wasgoed. In Februarie begin die verfilming van Ivan Botha se nuwe fliek, Stroomop, waarin sy Vivian speel, ’n karakter wat haar grootste vrese konfronteer.

Francois sal te sien wees in die fliek Kanaries, wat handel oor die Weermag-koorgroep wat tydens die Grensoorlog opgetree het. Hy vertolk daarin die rol van die boelie, Tian.

Die twee is in April saam te sien in die rolprent Wonderlus, maar speel nie teenoor mekaar nie en het nie saam tonele geskiet nie. Simoné speel Lindie, die akteur Stiaan Smith se liefdesbelangstelling, terwyl Francois nie meer wil verklap oor sy karakter, Dawid, nie. Die fliek handel oor ’n troue wat skeefloop en ’n groep vriende wat ná die troue wil uitpluis wat gebeur het.

Hulle het talle toneelspeellesse in Vir die Voëls geleer wat hulle altyd sal bybly. Francois koester die dissipline en verantwoordelikheid wat sy eerste hoofrol by hom gekweek het.

Simoné sê sy het veral besef hoe belangrik spanwerk is.

“Dit gaan nie oor een persoon nie; dis ’n goed geoliede masjien. Daar is nie plek vir divas nie.” 

Skryf so in vir ons tweede fliekkompetisie

Dink jy jou eie liefdesverhaal sal die volk net so aangryp soos dié van Sampie en Irma?

Deel dan jou storie met ons – dit kan as inspirasie dien vir die tweede fliek wat Huisgenoot en kykNET saam maak. Vertel jou ware liefdesverhaal in hoogstens 3 000 woorde en stuur dit na hgfliek@huisgenoot.com.

Die sluitingsdatum is 15 Januarie 2018.

’n Paneel beoordelaars van Huisgenoot en kykNET sal die verhaal met die meeste potensiaal kies en dit sal dien as grondslag vir die draaiboek.

Skryf in en kyk hoe jou storie dalk die silwerdoek haal.