’n Maand later het kundiges beendigtheidstoetse op die dogtertjie uitgevoer en bevind sy is agt jaar oud. In 2012 het ’n dokter bevind sy's eintlik 11 jaar oud.

Nou is die paartjie, Kristine en Michael Barnett, wat intussen geskei is, in die hof oor hulle hul aangenome “dogter”, Natalia Grace Barnett.

Hulle het haar in Tippecanoe County in Indiana, Amerika agtergelaat toe hulle in 2013 met hul drie biologiese kinders Kanada toe getrek het ter wille van hul begaafde seun Jacob se verdere onderrig.

Natalia is volgens hofrekords in Mei 2014 uit die woonstel in Lafayette in die deelstaat gesit en in 2016 het sy glo Tippecanoe County verlaat.

Die kinkel? Tot vandag toe kan niemand vasstel of Natalia eintlik ’n tienerdogter of ’n volwasse vrou is nie.

Nuwe geboortedatum

Sowat twee jaar ná hulle vir Natalia aangeneem het, het die Barnetts ’n mosie by die Marion-hof in Indianapolis ingedien rakende Natalia se ouderdom. Dit is goedgekeur op grond van mediese getuienis en die regter het Natalia se geboortedatum vanaf 2003 na 1989 verander.

Dit het haar toe van haar ’n 22-jarige vrou gemaak in plaas van ’n toe negejarige dogtertjie soos aanvanklik aangedui is. 

WISH-TV het ’n afskrif van wat na bewering van ’n dokter afkomstig is, van Kristina ontvang.

Skermgreep: mediahartlandtv.com
Skermgreep: mediahartlandtv.com

Daarin word beweer dat alle rekords vanuit die Oekraïne rondom Natalia se ouderdom heeltemal ontoereikend is en dat sy aansienlik ouer is as wat sy voorgee om te wees.

In die brief word beweer dat ’n tandarts wat haar in 2011 behandel het, bevind het haar tandstruktuur is soortgelyk aan dié van 'n volwassene.

Omstreeks 2012 is sy tydens ’n ondersoek by ’n psigiatriese hospitaal as minstens ’n 14-jarige geskat. Sy het na bewering ook in daardie stadium na bewering begin erken sy's ouer as 18.

Vreemde optrede

Volgens Kristine het Natalia vreemd opgetree. Haar woordeskat was baie gevorderd vir ’n klein dogtertjie en daar was bloedvlekke op haar beddegoed en onderklere wat daarop dui dat sy dalk haar maandstonde gehad het, sê Kristine. 

Kristine sê Natalia het hulle ook begin dreig dat sy hulle gaan steek terwyl hulle slaap, het bleikmiddel in haar koffie gegooi en het een keer probeer om haar teen ’n elektriese heining te stoot. 

’n Jaar later het hulle vir Natalia ’n woonstel gehuur en haar net daar ‘agtergelaat en verwaarloos’ en met hul drie biologiese kinders na Kanada verhuis. Dit terwyl Natalia se  geestestoestand agteruitgegaan het en sy glo nie na haarself kon omsien nie. 

Die egpaar het aan die media gesê hulle is belieg oor Natalia se regte ouderdom. 

Die lang arm van die gereg

Tog is Kristine en Michael intussen op 11 September vanjaar met twee aanklagte van misdadige verwaarlosing van 'n afhanklike aangekla.

Michael het ook na bewering vir die polisie gesê hy het geweet en geglo dat Natalia wel ’n kind was toe hulle haar aangeneem het. Volgens Michael het Kristine vir Natalia aangesê om vir mense te sê dat sy eintlik 22 jaar oud is.

Niemand weet tot vandag toe of Natalia nou vanjaar 30 of 16 jaar oud word het nie.  

Kristine en Michael het op 27 September onskuldig gepleit op die aanklagte teen hulle en verskyn weer op 11 November in die hof vir ’n voorverhoor. Die hofsaak begin volgende jaar op 28 Januarie. 

Dit is onseker waar Natalia haarself vandag bevind.

Feit of fiksie?

Intussen sien talle aanhangers van rillerflieks ’n sterk ooreenkoms tussen Natalia en die fliek Orphan (2010).