Die polisie in Centurion ondersoek die moontlikheid dat sewe lede van ’n beweerde motorfietsdiefstalsindikaat ook vir die vergifting van talle inwoners se diere verantwoordelik kan wees.

Volgens kapt. Agnes Huma, woordvoerder van die Wierdabrug-polisiekantoor, het die mans Woensdag op aanklag van vermoedelike huisbraak in die hof verskyn.

Dit het gekom nadat die polisie inligting van die beweerde sindikaat se bedrywighede ontvang en opgevolg het.

Volgens Huma is die mans Dinsdag in die oggendure in ’n wit Toyota Quantum-bussie vasgetrek. Sy het gesê die polisie ondersoek steeds of die vermeende motorfietsdiewe ook vir die vergiftigings verantwoordelik was.

Die verdagtes, almal tussen 25 en 35 jaar oud, het ook meer as een stel klere oor mekaar aangehad.

Sy het bevestig met hul inhegtenisnemings is geen gif in hul besit gevind nie. Hulle is in die buurt Rooihuiskraal-Noord aangetref.

Volgens Huma is daar wel huisbraaktoerusting, waaronder balaklawas, gevind en die mans het handskoene gedra. Die verdagtes, almal tussen 25 en 35 jaar oud, het ook meer as een stel klere oor mekaar aangehad. 

Sy wou nie die statistieke gee van hoeveel voorvalle van elk (motorfietsdiefstalle en vergiftigings) daar was nie.

Die Facebook-blad Centurion Concerned Citizens, waarop inwoners inligting uitruil om misdaad te bekamp, het egter Woensdag ’n waarskuwing geplaas dat hulle die laaste tyd “talle” voorvalle gehad het waar honde oor Centurion heen vergiftig is.

Asseblief, probeer om jou hond sover moontlik agter in die erf te hou.

In dié plasing word egter aangedui nog diere is vergiftig nadat die mans aangekeer is.

“Net gisteraand (Dinsdagaand) was daar twee voorvalle in The Reeds (’n woonbuurt hier). Asseblief, probeer om jou hond sover moontlik agter in die erf te hou. Ondersoek die voorkant van die erf voor jy weer toelaat dat jou hond daar kom.

"Moet geen vleis, kos of enigiets verdags met jou kaal hande optel nie. Gebruik ’n koerant om dit op te tel. Moenie eens deur die koerant aan die vleis raak nie,” lui die inskrywing.

Vra jou veearts vir hul 24/7-noodnommer en wat jy in so ’n noodgeval moet doen voor jy daar aankom.

Die administreerder van die groep het mense aangeraai om enige vergiftigings of pogings tot vergiftiging by die groep, die polisie en hul veearts aan te meld.

“Vra jou veearts vir hul 24/7-noodnommer en wat jy in so ’n noodgeval moet doen voor jy daar aankom."

Tekens dat jou hond moontlik gif ingekry het

Wees op die uitkyk vir blou, pers, wit, baksteunkleurige of besonder helder rooi tandvleis of tong by jou geliefde troeteldier. Sy tong moet normaalweg lig tot medium-pienk wees. As jou hond se tandvleis van nature swart is, is sy tong die beste aanduiding.

  • Tree “dronk” op
  • Ongekoördineerd
  • Braking
  • Urineer oormatig
  • Diarree
  • Vinnige hartklop (meer as 180 slae per minuut)
  • Koors (moenie 39,2 grade Celsius oorskry nie)
  • Eetlus wat skielik verdwyn
  • Verloor bewussyn
  • Verval in ’n koma
 Bronne: wikihow.com, petmd.com