Sal dáárdie telefoonoproep die omstrede presidentskap van Donald Trump sink? Dít is die vraag sentraal tot die drama wat ontvou het sedert sy Demokratiese teenstanders in September aangekondig het hulle wil hom in ’n staat van beskuldiging plaas.

Trump het glo op 25 Julie vanjaar tydens ’n foonoproep druk geplaas op Wolodimir Zelenski, die nuutverkose president van Oekraïne, om sy vernaamste politieke teenstander in volgende jaar se verkiesing, die Demokraat Joe Biden, se vuil wasgoed te soek en dit uit te hang.

Hoe kon die politieke groentjie nee sê, vra kritici. Trump hou immers die sleutel tot R5,9 miljard se militêre hulp aan Oekraïne. Kritici sê dis ’n eenvoudige geval van omkopery, maar Trump hou vol dis een groot misverstand.

Foto: Gallo Images/Getty Images
Pres. Wolodimir Zelenski. Foto: Gallo Images/Getty Images

’n Rits getuies is geroep om voor die ondersoekpaneel te getuig. Hulle moet besluit of die president in ’n staat van beskuldiging geplaas moet word. Trump sê egter nóg hy nóg sy vertrouelinge in die Withuis sal voor die ondersoekpaneel verskyn.

Miljoene kykers het die verrigtinge dopgehou sedert van die getuienis voor die paneel sedert 13 November aanlyn en op die televisie uitgesaai is.

En dit het geklink soos die storielyn van ’n politieke riller, met bewerings van doodsdreigemente, geheime rekenaarbedieners, diplomatieke intrige en toesmeerdery.

As die paneel besluit Trump het oortree, sal hy in die Amerikaanse senaat, oftewel die land se hoër huis, verhoor word. En as hy daar skuldig bevind word, verloor hy sy werk en Amerika sy president . . .

DIE PLOFBARE GETUIENIS

Ander het geweet – en verstaan . . .

Die Amerikaanse ambassadeur in die Europese Unie, Gordon Sondland, het getuig daar is by hom geen twyfel Trump het militêre hulp aan Oekraïne – wat die Kongres maande gelede goedgekeur het – as afpersmiddel weerhou nie.

Foto: Gallo Images/Getty Images
Gordon Sondland. Foto: Gallo Images/Getty Images

Gordon, ’n hotelmagnaat wat ’n ambassadeur geword het nadat hy $1 miljoen aan Trump se inhuldigingskomitee geskenk het, het boonop beweer topamptenare het geweet waarmee Trump besig is.

Dit sluit die adjunkpresident, Mike Pence, en die Amerikaanse minister van buitelandse sake, Mike Pompeo, in.

Die waarnemende ambassadeur in Oekraïne, William Taylor, het dié bewerings beaam: “Ek het dit duidelik verstaan: Geld vir militêre hulp sou nie kom voor die president van Oekraïne hom eers tot die ondersoek na Biden verbind het nie.”

Hy het dit ’n “nagmerrie-scenario” genoem en verwys na ’n “slangnes” van mense in Trump se binnekring.

Die gesprek met die ambassadeur

David Holmes, ’n politieke raadgewer by die Amerikaanse ambassade in die Oekraïense hoofstad, Kiëf, het in die openbare verhoor bevestig wat hy reeds agter geslote deure aan die paneel gesê het: Hy het ’n dag ná Trump se gesprek met Zelenski ’n telefoongesprek tussen die president en ambassadeur Gordon Sondland gehoor.

“Die president se stem was hard en herkenbaar, en ambassadeur Sondland het die foon ’n ruk weg van sy oor af gehou, vermoedelik oor die president so hard gepraat het,” het hy getuig.

“Ek het toe gehoor hoe vra pres. Trump: ‘So, gaan hy die ondersoek doen?’ Ambassadeur Sondland het geantwoord ‘hy gaan dit doen’ en bygevoeg pres. Zelenski sal ‘enigiets doen wat jy hom vra’. ”

David het onthul Gordon het vir hom gesê Trump stel nie daarin belang om Oekraïne te help nie; al waarvoor hy omgee, is “groot dinge wat die president bevoordeel, soos die Biden-ondersoek”.

Die geheime bediener en gesensorde transkripsie

Die veiligheidsbeampte Alexander Vindman het getuig die transkripsie van Trump se oproep aan Zelenski is op ’n geheime rekenaarbediener “weggesluit” pleks daarvan om dit te bewaar waar personeel van die Withuis maklik toegang het daartoe. Dis glo ’n teken dat die betrokkenes nie wou hê dit moes uitlek nie.

Nadat ’n anonieme CIA-beampte in Augustus die fluitjie geblaas het oor die oproep, het die Withuis sy bewerings probeer afmaak deur ’n transkripsie van die oproep uit te reik. Maar hoewel Trump volhou die dokument bied ’n “presiese woord-vir-woord-transkripsie”, het Alexander getuig groot dele van die gesprek “was nie behoorlik (in dié transkripsie) vasgelê nie”.

Doodsdreigemente en beledigings

Foto: Gallo Images/Getty Images
Fiona Hill. Foto: Gallo Images/Getty Images

Fiona Hill, ’n voormalige regeringsraadgewer oor Rusland en Europa, het getuig sy het doodsdreigemente ontvang om haar te ontmoedig om voor die ondersoekpaneel te getuig.

Die slagoffer van ’n smeerveldtog

Foto: Gallo Images/Getty Images
Marie Yovanovitch. Foto: Gallo Images/Getty Images

Trump het in sy gesprek met Zelenski gesê Marie Yovanovitch, Amerika se voormalige ambassadeur in Oekraïne, is “slegte nuus” en gesê sy “gaan ’n paar dinge deurmaak”.

Marie, wat in Mei as ambassadeur herroep is, het aan die ondersoekpaneel gesê sy was die slagoffer van ’n smeerveldtog deur Trump en sy bondgenote. Hulle het diplomate in onguns probeer bring wat kennis dra van beweerde pogings om Oekraïne te dwing om Joe Biden te ondersoek.

Sy het ontsteld gelyk toe sy getuig Trump se dreigemente en beledings was “baie intimiderend”. Hy het op Twitter daarmee volgehou terwyl sy getuig het.

IN DIE KRYT

Op die aanval

Adam Schiff

Foto: Gallo Images/Getty Images
Adam Schiff. Foto: Gallo Images/Getty Images

Dié demokratiese Kongreslid lei die ondersoek wat moet bepaal of Trump in ’n staat van beskuldiging geplaas moet word. Hy het aan Stanford en Harvard se roemryke regskole studeer en as aanklaer gewerk voor hy die politiek betree het.

Die Demokrate het hom gekies om die ondersoek te lei oor sy “stil, metodiese werkwyse”, maar Trump het hom in die openbaar gespot en hom die bynaam “Shifty Schiff” gegee.

Vir die verdediging

Devin Nunes

Foto: Gallo Images/Getty Images
Devin Nunes. Foto: Gallo Images/Getty Images

As die top-Republikein in die vervolgingsondersoek is hy Trump se vurigste verdediger in die verhoor. Hy probeer getuies wat sy baas se oordeel in twyfel trek ooglopend ontsenu.

Jim Jordan

Foto: Gallo Images/Reuters
Jim Jordan. Foto: Gallo Images/Reuters

Dié voormalige stoeikampioen wat nou sy lyf politikus hou, laat die wenkbroue lig met sy aggressiewe styl van kruisondervraging. Hy is as een van die president se kwaaiste “aanvalshonde” beskryf.

WAT KOM VOLGENDE?

Teen druktyd was die openbare verhoor vir eers afgehandel terwyl Amerikaners Dankseggingsdag sou vier. Die huis van verteenwoordigers, oftewel die laer huis van die Amerikaanse Kongres, se geregtelike komitee sal vroeg in Desember bymekaarkom om te besluit of daar wettige gronde is om Trump in ’n staat van beskuldiging te plaas.

Die president en sy prokureur is genooi om dit by te woon, maar dis ’n ope vraag of hulle dit sal doen. As die komitee bevind daar is grondige redes vir beskuldiging, sal politici in die huis van verteenwoordigers daaroor stem.

Dit kan voor die einde van die jaar gebeur. Aangesien die Demokrate die meerderheid in die huis van verteenwoordigers het, word daar verwag hulle sal ten gunste van ’n staat van beskuldiging wees.

As dit gebeur, sal Trump vroeg in 2020 in die senaat, die land se hoër huis, verhoor word om te bepaal of hy skuldig is aan “wesenlike misdade en oortredings”.

Sy Republikeinse Party beheer die senaat met 53-47; dus sal 20 mense in sy eie party teen hom moet stem om hom skuldig te bevind. Kenners voorspel dit sal waarskyn- lik nie gebeur nie – veral in ’n verkiesingsjaar. 

BRONNE: CNN.COM, TELEGRAPH.CO.UK, GUARDIAN.CO.UK, BBC.CO.UK