’n Mens sou dink teen dié tyd moet hy ’n senuwrak wees. Twee van sy staatmakers kan tronk toe gaan, en onheilspellende frases soos “staat van beskuldiging” word rondgeslinger.

Maar pres. Donald Trump steur hom net mooi niks aan die onweerswolke nie.

“Ons bly aan die wenkant,” het die Amerikaanse president (72) onlangs verkondig op ’n saamtrek van die Republikeinse Party in Charleston, Wes-Virginië. Politieke waarnemers was stomgeslaan, want in dieselfde week het ’n dubbele, verdoemende slag hom getref.

Sy oudprokureur Michael Cohen (51) en ’n oudbestuurder van sy verkiesingsveldtog, Paul Manafort (69), is skuldig bevind aan ’n rits oortredings, waarvan sommige was om Trump se bas te red.

Michael Cohen.

Cohen het in ’n federale hof erken hy het twee vroue, die porno-ster Stormy Daniels (39) en die eks-Playboy-model Karen McDougal (47) se stilswye gekoop oor hul beweerde affairs met Trump. Cohen, vir wie Trump al as sy “fixer” bestempel het, hou vol hy het bloot die opdrag “van ’n presidentskandidaat” uitgevoer.

Hy is ook skuldig bevind aan vyf klagte van belastingontduiking. Manafort is onder meer skuldig bevind aan agt klagte van bank- en belastingbedrog weens die miljoene wat Russies gesteunde politici in Oekraïne hom vir sy raad betaal het.

Dié oortredings het aan die lig gekom in ’n ondersoek in Amerika na Russiese inmenging in hul presidentsverkiesing van 2016, waarin Trump onverwags vir Hillary Clinton geklop het. Cohen het dit intussen duidelik gestel hy sal in die ondersoek hierna saamwerk.

Paul Manafort.

En omdat Trump hom in die 12 jaar dat hy sy prokureur was met sy grootste geheime vertrou het, sal hy ’n waardevolle getuie wees. In dié tyd het Cohen graag oor sy lojaliteit aan Trump gespog. Maar noudat vyf jaar tronkstraf hom in die gesig staar, het hy oënskynlik van deuntjie verander . . .

Nog sleutelfigure na aan Trump is al aan allerlei misdade skuldig bevind – van belastingontduiking tot lieg vir die FBI. Sal hy dieselfde paadjie loop as oudpres. Richard Nixon weens die Watergate-skandaal? Noudat “die ergste uur van Trump se presidentskap’’ aangebreek het, meen party politieke kenners sy dae in die Withuis is getel . . .

Hier is nog sleutelspelers wat Trump se kaartehuis ineen kan laat tuimel:

GEORGE PAPADOPOULOS

Papadopoulos (31), Trump se raadgewer oor buitelandse beleid tydens sy verkiesingsveldtog, het erken hy het vals verklarings aan die Amerikaanse speurdiens (FBI) afgelê oor sy kontak met Russe tydens die veldtog. Aanklaers sê sy volgehoue leuens het kanse beduiwel om sleutelgetuies te kruisondervra.

JAMES COMEY

Toe Trump hom verlede Desember as direkteur van die FBI afdank, is gegis dis uit vrees oor wat hy alles oor die president se bande met Rusland kan verklap.

Maar Comey (57) het vroeër vanjaar wraak geneem met sy onthullende boek, A Higher Loyalty. Daarin vergelyk hy Trump met ’n mafiabaas en sy presidentskap met ’n wegholveldbrand. Ook Comey werk saam in die ondersoek.

MICHAEL FLYNN

Hy was net 24 dae lank Trump se nasionale veiligheidsraadgewer toe hy bedank.

Dit was nadat Flynn (59) erken het hy het vir adj.pres. Mike Pence (59) gelieg toe dié hom uitvra oor sy kommunikasie met die Russiese ambassadeur voor Trump president geword het.

Flynn het einde2017 ’n ooreenkoms met Mueller aangegaan. Daarin het hy onderneem om ten volle in die ondersoek na Russiese inmenging saam te werk.

PRES. WLADIMIR POETIN

Die wêreld was verstom oor Trump se oorvriendelikheid met die Russiese president op ’n mediakonferensie in Julie in Helsinki, Finland. Gevra oor buitelandse inmengery in die Amerikaanse presidentsverkiesing, was Trump versigtig om die vinger na sy Russiese eweknie te wys.

“Ek hou albei lande verantwoordelik,” het hy gesê. “Ons dra almal die skuld.” Hoekom so tegemoetkomend teenoor Rusland?

Dit het mense laat wonder: Het Poetin (65) dalk verdoemende inligting oor Trump wat dié tot elke prys geheim wil hou?

RICK GATES

Gates (47), ’n politieke konsultant, was Manafort se adjunk terwyl dié hoof van Trump se veldtog was. Rick het voor die kommissie van ondersoek erken hy het vals verklarings afgelê en hom aan “sameswering teen Amerika” skuldig gemaak deur belasting te ontduik.

Hy het ook erken hy het voor die verkiesingsveldtog van 2016 vele oortredings begaan – van die indien van vervalste belastingopgawes tot die stigting van dopfirmas om banke te mislei om lenings toe te staan – alles glo in opdrag van Manafort.

ROBERT MUELLER

Mueller is hoof van die Amerikaanse kommissie van ondersoek na Russiese inmenging in die Amerikaanse presidentsverkiesing. Die 74-jarige spesiale aanklaer was 12 jaar lank, van 2001 af, direkteur van die FBI.

Al het Trump sy ondersoek as ’n “heksejag” bestempel, sê Mueller hy sal alles in sy vermoë doen om uit te vind of die president met Rusland geheul het om die verkiesing in sy guns te swaai.

STORMY DANIELS

Dié porno-ster het ’n miernes oopgekrap toe sy begin vanjaar onthul het sy het ’n swygooreenkoms aangegaan oor die onbeskermde seks wat sy na bewering in 2006 met Trump gehad het. Hy was toe al getroud met sy derde vrou, Melania (48).

Dit het intussen aan die lig gekom Daniels is kort voor die Amerikaners in November 2016 stembus toe is sowat R1,75 miljoen vir haar stilswye betaal. Trump beweer hy het niks hiervan geweet nie, maar uit getuienis in sy oudprokureur Cohen se verhoor blyk dit hy het.

MELANIA TRUMP

Die laaste paar maande lyk dit asof Amerika se presidentsvrou ál killer teenoor haar man word.

Ná al die onthullings oor sy sekskapades met porno-sterre en modelle – en dit in die maande nadat sy die lewe aan hul seun, Barron (12), geskenk het – is dit seker nie verbasend nie.

In ’n onthullende boek deur ’n voormalige Withuis-werker, Omarosa Manigault, skryf sy: “Melania tel die slapies af tot (Trump) die amp neerlê en sy van hom kan skei.” En dalk sal sy nie meer te lank hoef te wag nie. 

Bronne: Telegraph.co.uk, Guardian.co.uk, Nytimes.com, CNN.com

Foto's: Gallo Images/Getty Images, Getty Images/Reuters, Twitter