Seekoei
Nadat ’n seekoei in die Fourways-omgewing opgemerk is, het bespiegelings ontstaan dat dit moontlik Harpo die seekoei is wat vroeër in die Hartbeespoortdam gewaar is. Foto: Twitter/Crime Air Network Initiative

Eers is behoorlik kopgekrap oor Harpo die seekoei wat na die Hartbeespoortdam koers gekies het om sy moeë lyf in die soel water van dié dam af te koel, maar nou lyk dit asof dit moontlik dieselfde dier is wat onlangs naby die Jukskeirivier in Chartwell, Gauteng, gewaar is.

Vroeër vandeesmaand het die spesialisondersoeker Mike Bolhuis en sy span ingespring om ’n verdwaalde seekoei – wat Harpo gedoop is – by die Hartbeespoortdam te red.

Destyds is vermoed die dier kon deur ’n rivierkanaal toegang tot die dam verkry het omdat die Jukskei- en Krokodilrivier die dam binnevloei, maar die dier het hom oënskynlik uit die voete gemaak voor Mike en sy span hom kon vastrek.

Maar die einde van die seekoei se stadswandelings was dit helaas nie. Dae later is ’n seekoei weer in Chartwell opgemerk, en nou is daar vermoedens dat dit dalk Harpo is wat nog nie sy wandeltog voltooi het nie . . . 

“Daar is nog geen bevestiging of dit wel Harpo is wat in Fourways gewaar is nie,” sê Werner Bester, een van Mike se ondersoekbeamptes, aan Huisgenoot. “Dit is heel moontlik, maar daar bestaan verder ook ’n moontlikheid dat dit twee verskillende seekoeie kan wees. Ons weet nie verseker nie.” 

Seekoei
Nadat ’n seekoei in die Fourways-omgewing opgemerk is, het bespiegelings ontstaan dat dit moontlik Harpo die seekoei is wat vroeër in die Hartbeespoortdam gewaar is. Foto: Twitter/Crime Air Network Initiative

Die nuus oor ’n seekoei in Chartwell, in die Fourways-omgewing, volg nadat die departement van landbou en landelike ontwikkeling in Gauteng Maandag ’n waarskuwing uitgereik het.

Nozipho Hlabangana, ’n woordvoerder vir die departement, het inwoners gemaan om nie die dier te nader of te voer nie. 

“Die seekoei het tot nou nog geen skade aangerig nie, en ook nog geen mense- of dierelewe bedreig nie,” sê sy.

Nozipho sê die departement reken die seekoei wat in Chartwell opgemerk is, is moontlik afkomstig van die Hartbeespoortdam-omgewing – daar waar Harpo voorheen gewaar is. 

“Ons kan nie met sekerheid bevestig nie, maar daar bestaan die vermoede dat dit dieselfde seekoei is. Die belangrikste is om te onthou dis ’n wilde dier en dat dit self na sy gebied van oorsprong sal terugkeer,” vertel sy.

Foto's: Videoskermgrepe
Foto's van Harpo wat vroeg vandeesmaand by die Hartbeespoortdam geneem is.

Sover hul kennis strek, sê Werner en Nozipho, is die dier sowat vyf dae gelede opgemerk.

Werner sê tot nou het nog geen reservaat in die omgewing ’n vermiste seekoei vermeld nie.

“Niemand weet waar hy vandaan kom nie,” hou hy vol.

Maar dis daarom dat hulle reken dis ’n wilde dier wat “per ongeluk” aanvanklik toegang tot die Hartbeespoortdam verkry het, sê Nozipho.

“Ons het reeds kontak gemaak met verskeie plaaslike bewaringskundiges wat sal ingryp wanneer die dier weer gewaar word of skade veroorsaak, maar die waarskynlikste scenario is dat die seekoei self weer na sy natuurlike omgewing sal terugkeer.”  

Sy sê die departement moedig mense nogtans aan om waaksaam te wees.

“Wees versigtig wanneer jy die dier gewaar, hou jou afstand en moet die dier op geen manier uitlok nie; hulle is geneig om aggressief te wees.”

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe