'n Kat met nege lewens, lui die gesegde – en pres. Jacob Zuma het sy voorlaaste een opgebruik toe hy op 8 Augustus 2017 die agtste mosie van wantroue teen hom in die parlement oorleef het. Maar dié geslepe politieke strateeg se rateltaai bewind is blykbaar 'n doodskoot toegedien toe sy eksvrou, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, nie daarin kon slaag om in Desember as die nuwe leier van die ANC verkies te word nie.

Cyril Ramaphosa, 'n oogappel van oudpresident Nelson Mandela en 'n gerespekteerde sakeman, het die organisasie se leisels oorgeneem ná 'n naelskraapse oorwinning. Kort daarna het hy sy spiere gebult om Zuma uit die tuig te lig.

Die land hou asem op vir 'n belangrike ANC-aankondiging Dinsdag om 14:00. Kan dit wees dat Suid-Afrika – ná luide teenkanting teen die president uit die burgerlike samelewing, opposisiepartye en ANC-strydrosse – eindelik die einde van die Zuma-era gaan sien? Ons kyk terug na Zuma se politieke oorlewingspad.

'n Geheime stemming

Opposisiepartye het moed geskep omdat minstens 25 ANC-LP’s dié keer teen hul leier gestem het, maar ondanks al sy skandes en toenemende teenkanting het Zuma weer laaste gelag.

Baie Suid-Afrikaners was hoopvol dat die opposisie se wantrouemosie dié keer sou slaag nadat die speaker, Baleka Mbete, ’n geheime stemming aangekondig het. Maar dit is met 198 stemme teen 177 teengestaan, en in daardie stadium was dit 'n uitgemaakte saak dat Zuma president sou bly tot die aanbreek van 2019 se algemene verkiesing.

Die platjie

En dit wys jou net: Van oorleef kan jy Zuma min vertel. Hy het immers as ’n arm kind uit die KwaZulu-Natalse platteland, wat volgens sy eie vertelling nooit skoolgegaan het nie en homself leer lees en skryf het, sy weg tot in die Uniegebou gebaan.

In die pylvak na die presidensie het hy baie mense bekoor. Hy was die platjie wat sy pad na die presidensie oopgedans het – die singende, laggende populis wat in 2007 saam met die sanger Steve Hofmeyr gebraai het.

In Maart 2007 het die destydse adjunk-president saam met Steve Hofmeyr, Leon Schuster, Kallie Kriel en dr. Dan Roodt om die braaivleisvuur ontmoet. Foto: Facebook (White Privilege vs Black Poverty in South Africa)

Kerkleiers het hom destyds geseën en hy was die held van die Suid-Afrikaanse werkersklas, wat aanvanklik meer aanklank by dié “100% Zulu Boy” gevind het as by oudpres. Thabo Mbeki, sy voorganger met sy reputasie as afsydige intellektueel.

Gedleyihlekisa: 'die een wat lag terwyl hy my seermaak'. . .

Maar die skyn bedrieg, het menige teenstander van Jacob Gedleyihlekisa Zuma intussen aan hul lyf gevoel.

Agter daardie kekkellag en verhoogmanewales skuil ’n politieke straatvegter en uitgeslape strateeg; een wat veg om te wen. Sy tweede naam beteken nie verniet “die een wat lag terwyl hy my seermaak” nie.

Van kinderjare tot kommunis

Maar hoe het iemand wat later so omstrede sou wees dan ons president geword – en hoe kon hy byna twee termyne lank in die amp oorleef ondanks soveel skandes en teenkanting?

'n Deel van die antwoord lê juis by sy nederige herkoms; die ander deel by die oorlewingstaktiek wat hy as uitgewekene tydens die apartheidsjare aangeleer het. Soos om deals te maak, om te operate, soos die voormalige intelligensiebaas van ’n bevrydingsbeweging noodwendig moes doen.

As kind het Zuma dit moeilik gehad. Hy is op 12 April 1942 in Nkandla in Zoeloeland gebore. Sy pa, ’n polisieman, is dood toe hy nog baie jonk was, en sy ma was ’n huiswerker.

Sy het met hom van die een plek na die ander getrek agter werk aan, een van die redes waarom hy nooit sy skoolloopbaan voltooi het nie.

Sy politieke opvoeding het in die townships rondom Durban begin. Hy was skaars 17 toe hy by die ANC en dié se jeugliga aansluit.

Zuma was gou by ander politieke gevangenes bekend vir sy liefde om te sing en dans.

In 1963 het hy by Umkhonto we Sizwe (MK), die ANC se militêre vleuel, en die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) aangesluit. En dis in 1963 dat hy naby Zeerust aangekeer is toe hy die land vir militêre opleiding wou verlaat.

Hy is vir 10 jaar weens hoogverraad na Robbeneiland gestuur, waar hy saam met onder andere Nelson Mandela aangehou is.

Zuma was gou by ander politieke gevangenes bekend vir sy liefde om te sing en dans, nes hy dekades later op die verkiesingspad sou doen. Tydens sokkerwedstryde op Robbeneiland was hy die skeidsregter en vredemaker.

Ná sy vrylating in 1973 het hy gehelp om ANC-strukture in die destydse Natal (nou KwaZulu-Natal) te herorganiseer. En in dié tyd het hy as intelligensieoperateur vir die ANC begin werk in ’n skaduagtige wêreld waar jy gedurig aan verraad blootgestel is.

In 1975 is hy landuit, eers na Swaziland; later na Mosambiek en Zambië. Tydens sy jare as uitgewekene het hy die leer begin klim: In 1977 het hy lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) geword; in 1986 die ANC se intelligensiebaas; en in 1998 lid van die SAKP se politburo.

Geraamtes in die kas

In Swaziland het hy saamgewerk met Thabo Mbeki, wat destyds die werwing van MK-rekrute beheer het. Bronne in die ANC het al vertel dis veral as intelligensiebaas dat Zuma sy nering gevind het.

Danksy dié werk weet hy waar al die geraamtes in die kas is en skroom hy glo nie om die kennis te gebruik nie.

Gewapen met dié politieke vaardighede het hy in 1990, nadat die verbod op die ANC opgehef is, na Suid-Afrika teruggekeer en aan die onderhandelings oor ’n nuwe, demokratiese bestel deelgeneem.

En dis ook in dié tyd dat sy plattelandse Zoeloe-herkoms hom op die pad na die presidensie geplaas het.

Bloedverspilling

’n Bloedige politieke oorlog tussen die ANC en IVP, wat duisende lewens sou eis, het sedert die 1980’s in KwaZulu-Natal gewoed. Niemand het beter as Zuma geweet hoe belangrik beheer oor die provinsie met sy miljoene Zoeloe-stemme is nie.

In die 1994-verkiesing was Zuma die ANC-premierskandidaat vir KwaZulu-Natal. Maar dinge het nie vir hom volgens plan verloop nie.

Op die dag toe die KwaZulu-Natalse verkiesingsuitslag in 1994 bekendgemaak is, was hy so kwaad soos ’n slang toe hy by die wetgewergebou in Pietermaritzburg instorm.

Hy, ’n Zoeloe-tradisionalis van Nkandla, kon nie die etniese tuiste van die Zoeloes vir die ANC wen nie. Mangosuthu Buthelezi, IVP-leier, was toe die ware “100% Zulu Boy”.

Eers was Zuma dwars. Hy wou die uitslag van die “bekookte verkiesing” in die howe beveg; ANC-lede sou die provinsiale wetgewer boikot. Later is die boikot-plan laat vaar, maar in die wetgewer was die IVP en ANC soos twee veghane.

Breek Buthelezi se houvas van vrees op die Zoeloe-koning, Goodwill Zwelithini. Sodoende breek jy ook Buthelezi se houvas op Zoeloe-hoofmanne.

Zuma het stilweg die verdeel-en-heersplan begin uitvoer wat eindelik die provinsie vir die ANC sou wen – en vir hom baie invloed sou bekom.

En hier het hy al gewys hoe ongenaakbaar hy kan wees.

Die meesterplan, soos dit destyds klandestien in ’n Durbanse hotelkroeg vir my uitgestippel is deur ’n ANC-gesinde lid, was eenvoudig: Breek Buthelezi se houvas van vrees op die Zoeloe-koning, Goodwill Zwelithini. Sodoende breek jy ook Buthelezi se houvas op Zoeloe-hoofmanne.

Doen jy dit, breek jy die IVP se houvas op die plattelandse Zoeloe-gemeenskappe.

By die Shakadag-vierings in KwaDukuza – waarheen die destydse Nelson Mandela nie genooi is nie omdat Buthelezi kwansuis nie sy veiligheid kon waarborg in die plofbare KwaZulu-Natal nie – het Msholozi (Zuma se prysnaam) in luiperdvelle saam met die Zoeloe-koning die impi’s se lofsange aangehoor.

Zuma het agter geslote deure met die koningshuis onderhandel: Verwerp Shenge (Buthelezi se prysnaam) in die openbaar en die nasionale regering sal die uitgebreide koningsgesin met hul paleise en huishulpe onderhou. Jy sal beskerm word teen die IVP se wraak.

Zwelithini het geluister. En die bloed het gevloei, ook dié van koninklikes. Maar dit het gewerk.

IVP-oorheersing in KwaZulu-Natal het begin taan en ál meer Zoeloe-stemme sou na die ANC gaan.

'Opstand in die paleis'

Dit was 1999 toe Zuma die adjunkpresident van Suid-Afrika word. En toe, in 2004, word hy ingesleep by die korrupsieverhoor van sy vriend die Durbanse sakeman Schabir Shaik.

Mbeki het hom uit sy pos as adjunkpresident van die land verwyder, maar hy het aangebly as adjunkpresident van die ANC. Zuma en sy ondersteuners het onmiddellik die storie begin versprei dat Mbeki van Zuma ontslae wou raak omdat hy hom as ’n bedreiging beskou.

Hoekom?

Omdat Mbeki glo ambisies vir ’n derde, ongrondwetlike leierskapstermyn gehad het. En dit was die begin van Zuma se paleisopstand teen Mbeki.

Zuma se bondgenote in die veldtog was vakbondleiers soos Gwede Mantashe, wat in Desember 2017 tot die algemene voorsitter van die ANC verkies is, en Zwelinzima Vavi, voormalige hoofsekretaris van Cosatu en nou adjunkvoorsitter van die Millennium-arbeidsraad en Julius Malema, die omstrede EFF-president.

Agter die skerms het vakbondtakke hul steun agter Zuma begin gooi.

Khwezi

En toe, in 2005, word hy aangekla van verkragting nadat ’n jong vrou, toe net bekend as Khwezi, beweer het Msholozi het teen haar wil met haar seks gehad. Ontleders het gemeen dis die einde van Zuma se presidensiële ambisie, maar hulle was verkeerd.

Buite die hof het duisende Zuma-ondersteuners saamgedrom, baie in tradisionele Zoeloe-drag. Vir die skares was hy weer die ongeskoolde tradisionalis uit ’n arm huis nes hulle s’n wat vir hulle sing en dans.

Die Zuma-kamp het ook die storie versprei dat die verkragtingsklag deur sy politieke vyande in die ANC bekook is. En toe hy vrygespreek word, het sy ondersteuners, die armes wat gevoel het Mbeki gee nie vir hulle om nie, dit as die waarheid omhels.

Van toe af was Mbeki se doppie eintlik reeds geklink.

Desember 2007

Fast forward na Desember 2007, in die groot wit markiestent op die kampus van die Universiteit van Polokwane. Dis die opening van die ANC-leierskonferensie.

Mbeki lyk verstom terwyl ANC-afgevaardigdes hom uitjou en sirkelbewegings met hul vingers maak, die teken vir verandering.

Dae later, met die stemme getel, strompel ’n sigbaar verpletterde Mbeki van die verhoog af terwyl die seëvierende Zuma uitdrukkingloos toekyk.

Op 9 Mei 2009, ’n dag so reënerig soos toe Mbeki in Polokwane verslaan is, word Zuma voor die Uniegebou as president van Suid-Afrika ingehuldig.

Malema en ’n paar makkers sing een van Zuma se bekendeverkiesingsliedere: “My mom was a kitchen girl . . .” En ver onder op die grasperk drom derduisende gewone mense saam en blaas op vuvuzelas.

“Jacob Zuma raak toenemend ’n albatros om die nek van die ANC,” meen prof. André Duvenhage, politieke wetenskaplike aan die Noordwes-Universiteit. 

Oor die jare het Zuma sy posisie verskans en oorleef deur sy lojaliste in kernposte in die regerende party se topstrukture aan te stel.

Enigiemand wat nie sy beleid steun nie, word uitgewerk, soos die destydse finansiesminister, Pravin Gordhan, en ander kabinetsministers tydens die “nag van lang messe”.

Weens die party se durende struggle-kultuur stel lede ook tradisioneel die ANC se eenheid en belange eerste.

Zuma se keuse vir sy opvolger as ANC-president in Desember was sy eksvrou, Nkosazana Dlamini-Zuma.

Maar Cyril Ramaphosa het Zuma se “gesalfde" uitgeskakel en is as nuwe president aangewys. Dlamini-Zuma het nie die paal onder die topses gehaal nie.

NUWE JAAR, NUWE SKANDE

Hier is die agt grootste storms wat pres. Jacob Zuma tot dusver oorleef het.

1. Die korrupsieskandaal

In 2004 was Zuma, destyds adjunkpresident, ’n kernfiguur in die bedrogverhoor van sy finansiële raadgewer, Schabir Shaik.

Met Shaik se skuldigbevinding in 2005 het die staat sy en Zuma se verhouding as oor die algemeen korrup beskryf. Pres. Thabo Mbeki het Zuma as adjunkpresident afgedank. Shaik is in 2009 op mediese parool vrygelaat nadat hy minder as drie jaar van sy 15 jaar tronkstraf uitgedien het.

Zuma is in Desember 2007 van bedrog, korrupsie, geldwassery en rampokkery aangekla, maar die nasionale vervolgingsgesag (NVG) het in April 2009 alle klagte laat vaar.

Die DA wil die klagte laat herinstel. Die hooggeregshof het 2016 bevind die destydse NVG-hoof, Mokotedi Mpshe, se besluit om die klagte te laat vaar was “irrasioneel”.

2. Die verkragtingsaak

In Desember 2005 is Zuma, toe ANC-adjunkpresident, aangekla van verkragting. Die slagoffer (31), toe net bekend as Khwezi, was die dogter van ’n vriend.

Khwezi was MIV-positief ten tyde van die beweerde verkragting.

Zuma het getuig sy het ingestem tot seks en hy het daarna gestort om te voorkom dat hy ook MIV/vigs opdoen. Zuma is in Mei 2006 van die verkragtingsklag vrygespreek. Khwezi (haar regte naam was Fezekile Kuzwayo) se familie het verlede Oktober bevestig sy is oorlede.

3. Die Nkandla-storm

In 2009 het die Mail & Guardian berig dat opknappingswerk van R65 miljoen gedoen word by Zuma, toe reeds staatspresident, se privaat woning in Nkandla. En belastingbetalers moet die meeste daarvan betaal.

Adv. Thuli Madonsela, destydse openbare beskermer, het voor haar uittrede bevind Zuma moet self betaal vir alle werk wat nie om veiligheidsredes gedoen is nie.

Maar hy het ondersoeke deur die departemente van openbare werke en polisie gelas, wat hom van betaling kwytgeskeld het.

Die DA en EFF het regsoptrede geneem en die konstitusionele hof het in 2016 bevind Zuma het die Grondwet oortree deur Thuli nie te gehoorsaam nie.

Later is bereken Zuma moet R7,8 miljoen van die opgraderings van altesaam R246 miljoen self betaal – vir ’n amfiteater, beeskraal, hoenderhokke en swembad.

4. Liefdeskind

Zuma was net agt maande staatspresident toe die land in Januarie 2010 hoor hy het ’n liefdeskind verwek by Sonono Khoza, dogter van sy sokkeradministrateur-vriend, dr. Irvin Khoza.

Die dogtertjie, glo Zuma se 20ste kind, is in Oktober 2009 gebore, net drie maande voor hy ’n vyfde keer getroud is.

Sy losbandige gedrag as staatshoof van ’n land met so ’n hoë voorkoms van MIV/vigs is erg gekritiseer.

“Ek is spyt oor die pyn wat ek my familie, die ANC en Suid-Afrikaners oor die algemeen aangedoen het,” het Zuma gereageer.

5. Guptagate

In 2013 het ’n straler vol gaste uit Indië op die Waterkloof-lugmagbasis geland vir die Sun City-spogtroue van Vega Gupta, susterskind van die invloedryke Gupta-broers, Ajay, Atul en Rajesh.

Hulle is deur ’n blouligkonvooi na die troue begelei. Zuma het die amptenaar Bruce Koloane die skuld gegee.

Die Gupta-broers. Foto: Gallo Images/Getty Images

Zuma se vriendskap met die Guptas bly omstrede. ’n Beweerde korrupsienes is ook vanjaar oopgekrap met die #GuptaLeaks-skandaal: meer as 100 000 gelekte e-posse.

Van dié boodskappe onthul glo hoe die Guptas Zuma se vertrouelinge met vakansies, geld en direkteurskappe in hul maatskappye bederf het.


6. Nenegate

In Desember 2015 het Zuma die minister van finansies, Nhlanhla Nene, met die taamlik onbekende parlementslid Des van Rooyen vervang. Die rand het onmiddellik drasties verswak.

Op 10 Desember 2015 word Des van Rooyen deur Sisi Khampepe as die nuwe minister van Finansies ingesweer. Hy sou die pos 'n volle vier dae beklee. Foto: Gallo Images/Getty Images

Ná vier dae het Zuma onder druk van senior ANC-lede en die sakesektor Van Rooyen met Pravin Gordhan vervang.

“Die rand se afwaartse vertoning was nie weens dié kabinetskommeling nie,” het Zuma egter volgehou.

7. Staatskaping

In November 2016 is Thuli Madonsela se langverwagte staatskapingsverslag bekendgemaak.

Volgens die verslag van 355 bladsye het die Gupta-sakeryk soveel invloed in staatsdepartemente en instansies soos Eskom dat hulle moontlik die staat se besluitnemingsproses tot eie voordeel kan beïnvloed.

In Januarie 2018 het Zuma bes gegee en die Zondo-kommissie aangestel na aanleiding van Madonsela se verslag.

Sy het die besluit verwelkom en gesê twee jaar het reeds verstryk sedert haar verslag ter tafel gelê is, maar "liewers laat as nooit".

Intussen het dit bekend geword (Woensdag, 24 Januarie 2018) dat die UDM en Cope vertoë gerig het dat Zuma persoonlik R1 miljoen moet neersit voordat hy teen die staatskapingverslag appèl aanteken.

8. Nag van lang messe

Einde Maart 2017, om middernag, het Zuma vyf ministers, onder andere Pravin Gordhan, afgedank en nog vyf verskuif – sonder die wete van senior ANC-bestuurslede.

Pravin Gordhan. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die rand het getuimel en kort daarna is Suid-Afrika se kredietgradering na rommelstatus verlaag.

Derduisende mense het op 6 April aan #ZumaMustFall-protesoptogte landwyd deelgeneem.

Ekstra bronne: theguardian.com, city-press.news24.com, sowetanlive.co.za, buzzsouthafrica.com, mg.co.za, Volksblad, Reuters, Star, netwerk24.com, wikipedia.org, ewn.co.za, Die Burger, economist.com, huffingtonpost.co.za, maroelamedia.co.za, news24.com
FOTO'S: GALLO IMAGES/CITY PRESS/SIPHO MALUKA, GALLO IMAGES/THE TIMES/PUXLEY MAKGATHO, GALLO IMAGES/BUSINESS DAY/MARTIN RHODES, SUNDAY TIMES/SIMPHIWE NKWALI, GALLO IMAGES/GETTY IMAGES

Die oorspronklike artikel het in Huisgenoot (24 Augustus 2017) verskyn.