Snuffelhonde en twee klein masjiengrawe is deur die Duitse polisie ingespan in ’n poging om getuienis rondom die verdwene Maddie McCann op ’n perseel aan die buitewyke van die Duitse stad Hanover in te samel.

Woensdag het dit bekend geword dat ’n kelder gevind is, maar bitter min inligting is daaroor bekend en die polisie hou dit doelbewus baie dig. Die kelder was glo eers deel van ’n klein gebou wat laat in 2007 gesloop is. En daar word gegis dat Brückner dalk iets met die kelder te doene gehad het.

Volgens ’n kennis van hom het hy glo daaroor gefantaseer om ’n Josef Fritzl-soort kelder met klankdigte mure by sy huis te laat bou. “Hy het ’n kelder gehad en gesê hy wil dit met swaar plate uitvoer, soos die ou van Oostenryk,” word beweer.

Wie is Josef Fritzl?

In 2008 het dit bekend geword dat Josef Fritzl sy dogter Elisabeth in ’n klankdigte kelder onder hul huis in Amstetten, Oostenryk, aangehou het. Sy is 18 jaar lank daarin aangehou en voortdurend deur hom verkrag en seksueel aangerand.

Sewe kinders is uit die afgryslike situasie gebore. Hy het vir sy vrou, Rosemarie, en die polisie gesê Elisabeth het weggeloop en by ’n kultus aangesluit, berig Spiegel Online.

Op die terrein

Intussen het die polisie die hele gebied afgesper en ekstra ondeursigtige skerms opgerig. Die lugruim bo die uitgrawing is ook gesluit om te keer dat helikopters en hommeltuie met die soektog inmeng.

 

’n Buurman beweer Brückner het op die perseel ingetrek in dieselfde jaar toe Maddie verdwyn het. Hy het Brückner die laaste keer in Julie daardie jaar gesien voor hy met vakansie weg is. Met sy terugkoms in Augustus was Brückner nie meer daar nie. En die gebou op die perseel was gesloop.

In hierdie stadium is dit nog onseker wie die gebou gesloop het.

Enkele weke gelede het die polisie ook ’n verlate fabriekseiendom in die naburige Saxony-Anhalt deursoek, ’n plek waar Brückner na bewering ook gebly het. Duisende foto’s op videobande en USB-stokkies wat daar begrawe was, is gevind. Van die beeldmateriaal sluit die seksuele mishandeling van kinders in. Dit is nie bekend of enige foto's van Maddie gevind is nie.

Kate en Gerry McCann.
Kate en Gerry McCann.
Maddie McCann.
Maddie McCann.


Volgens die BBC het Kate en Gerry McCann gesê hulle sal nooit moed opgee om Madeleine (Maddie) lewend te vind nie. “Wat die uitkoms ook al is, ons moet weet, want ons moet vrede vind.”

Hoekom Brückner?

Die Duitse polisie het die verkragter Christia
Die Duitse polisie het die verkragter Christian Brückner as die hoofverdagte in die saak geïdentifiseer. Foto: Shutterstock

Brückner het glo in 2007 in ’n kampeerwa in die Ocean Club-kompleks op Praia da Luz gewoon waar Maddie en haar gesin tydens hul vakansie gebly het. Voor dit het hy op ’n vervalle kleinhoewe in die omgewing gewoon.

Die Ocean Club-oord waar die McCanns tuisgegaan he
Die Ocean Club-oord waar die McCanns tuisgegaan het. Foto: Gallo Images/Getty Images

Hy is ’n veroordeelde pedofiel, dwelmsmous en verkragter en is tans agter tralies in Kiel, Duitsland.

  • In 2018 is hy sewe jaar tronkstraf opgelê vir die verkragting van ’n 72-jarige Amerikaanse toeris op Praia da Luz in 2005. Hy het nog nie sy vonnis hiervoor begin uitdien nie, want in hierdie stadium teken hy by die Europese menseregtehof appèl aan teen die vonnis. Die uitslag van sy appèl word binne enkele dae verwag terwyl sy huidige vonnistydperk in Januarie verstryk.
  • Brückner het glo ook intussen sy aansoek om vroeë parool vir die dwelmklagte teen hom laat vaar omdat hy glo sy geloof in die regstelsel verloor het.
  • Hy is ook skuldig bevind aan seksklagte wat tot 1994 strek, onder meer ’n aanval op ’n negejarige meisie, en word verbind met ’n rits ander kinderverdwynings, onder meer dié van ’n vyfjarige Duitse meisie en sesjarige Duitse seun.

Nog ’n moontlike slagoffer

Intussen glo Hazel Behan (nou 37), wat in 2004 in Praia da Rocha in Portugal verkrag is, dat Brückner die skuldige is.

Hy is van ’n soortgelyke verkragting aangekla ’n jaar nadat Hazel aangerand is en twee jaar voor Maddie verdwyn het. Forensiese getuienis van kardinale belang met potensiële DNS is egter vernietig in opdrag van ’n regter, ’n algemene praktyk in Portugese sake waar daar geen verdagte geïdentifiseer is nie.

Bronne: thesun.co.uk, sky.com, bbc.com, independent.co.uk, theguardian.com, mirror.co.uk

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe