Mattia (38) het in ’n onderhoud met die televisiekanaal RAI gesê: “Siekte, genesing, pyn en hoop. Dis hoe ek my storie as herstelde COVID-19 pasiënt kan opsom.

“Ons klou almal aan die hoop dat dit vinnig sal eindig vir onsself, ons geliefdes en alle ander mense. En dan is daar die vrees dat dit nooit sal eindig nie – of ten minste nie in die nabye toekoms nie.”

Mattia is op 20 Februarie in die Codogno-hospitaal in die noordelike Italiaanse provinsie van Lombardy opgeneem – dis waar COVID-19 eerste kop uitgesteek het voor dit reg oor Europa versprei het.

Mattia is die volgende dag na die San Matteo de Pavia-hospitaal oorgeplaas waar hy glo 18 dae in die intensiewesorgeenheid deurgebring het.

Sy swanger vrou, Valentina, en sy pa is ook met die virus besmet en sy pa is een dag ná hom in die hospitaal opgeneem.

Sy pa is kort daarna dood aan komplikasies wat met die virus verband hou. Valentina het die siekte geklop en op 7 April die lewe aan die paartjie se dogter, Giulia, geskenk.

“Ek was siek, ek het gesond geraak, ek het my pa verloor, en was gelukkig oor die geboorte van my dogter,” het Mattia gesê. “Ons gaan aan, en ons lewens maak net sin wanneer hoop vir ons ’n nuwe perspektief gee. Vir my het hoop gekom met die geboorte van my dogter Giulia.”

Mattia is op 25 Maart uit die hospitaal ontslaan ná 18 dae in die intensiewesorgeenheid en meer as ’n maand se baklei teen die virus. Hy het in daardie tyd ’n groot hoeveelheid antibiotika, MIV-behandelings en ander medikasie ontvang.

Volgens onlangse syfers deur die Johns Hopkins-universiteit het Italië 159 516 COVID-19-gevalle, 20 465 verwante sterfgevalle en 35 435 wat herstel het.