Hulle was aanvanklik ekstaties toe hulle ná jare van probeer eindelik hoor hulle verwag ’n baba. En daar was toe nie net een hartkloppie nie, maar sommer twee.

Tweelingdogters is op pad, het hul dokters gesê. Al die tyd, geld en opoffering wat hulle in in vitro-bevrugting ingeploeg het, het ná al die hartseer en teleurstelling vrugte afgewerp. Hulle sou oplaas ouers word.

Maar vir die Koreaans-Amerikaanse egpaar sou vreugde in verbasing verander, en toe in skok en eindelik ondenkbare hartseer.

Toe die twee babas gebore word, was dit nie dogtertjies nie, maar seuntjies – iets wat nie ’n probleem sou wees as dit nie was vir die feit dat die dokters gesê het hulle het tydens die in vitro-bevrugting (IVB) vroulike embrio’s ingeplant nie.

Die babas het ook duidelik nie ’n druppel Oosterse bloed gehad nie. En toe onthul DNS-toetse die babas is nie net nie aan die egpaar verwant nie, maar ook nie aan mekaar nie.

So het ’n saak begin wat Amerikaners vasgenael gehou en ernstige vrae oor die etiek en veiligheid van die IVB-proses in Amerika laat ontstaan het. Aan die kern van die sage is die CHA-vrugbaarheidsentrum in Los Angeles, wat hulself as ’n “mekka van voortplantingsgeneeskunde” beskryf.

Dit was na dié sentrum dat die egpaar, wat net as AP en YZ bekend is om hul identiteit te beskerm, hulle gewend het om hul droom te vervul om ’n kind te hê nadat hulle sedert hul troue in 2012 sonder sukses probeer het om swanger te raak.

AP en YZ, wat in Queens, New York, woon, het verlede jaar die tog na Los Angeles aangepak om ’n maand lange program van toetse, medisyne en prosedures te ondergaan. Dit was suksesvol en agt embrio’s kon geoes word.

In Julie 2018 het AP ’n embrio laat inplant, maar nie swanger geraak nie. ’n Maand later het die kliniek twee vroulike embrio’s ingeplant – en dié keer het dit gewerk. Teen September het AP ’n tweeling verwag.

Die proses om ’n baba te hê sou hulle byna R1,4 miljoen uit die sak jaag, maar die opgewonde swanger paar het geglo dit sou die geld werd wees. Rooi ligte het begin flikker toe die egpaar vir roetine-ultraklankondersoeke gaan.

Die personeel wat die skanderings doen, het aanhou sê hulle verwag seuns, maar toe AP en YZ by die kliniek daaroor navraag doen, het die dokters die skanderings afgemaak en gesê foute word dikwels met sulke ondersoeke gemaak.

Maar toe die tweeling op 30 Maart deur middel van ’n keisersnee in ’n hospitaal in New York gebore word, was dit inderdaad seuntjies en nie dogtertjies nie.

En dit was toe dat die ouerpaar besef het daar is iewers groot fout . . . AP en YZ, wat nie geïdentifiseer wil word nie omdat hulle “verleë en verneder” voel, doen nou regstappe teen die kliniek.

In hofdokumente sê hulle hulle het permanente emosionele angs opgedoen. Die emosionele wipwarit het egter nou eers momentum begin kry. AAN die ander kant van die land in Glendale, Kalifornië, het Anni Manukyan en haar man, Ashot, ’n foonoproep gekry wat hul wêreld geskud het.

Anni (36) het reeds ’n mislukte ronde IVB beleef toe die CHA-kliniek haar in April bel en vra sy moet vir ’n DNS-toets kom. Die uitslag was skokkend.

Hul dogter, Ella, gee haar nuwe boetie, Alec, ’n drukkie. Foto: Great Ormond Street-hopsitaal

Hulle het ’n seun, het Anni en Ashot gehoor, maar ’n vreemdeling het 4 500 km daarvandaan in New York aan hom die lewe geskenk. Dit was een van die babas wat AP gehad het, want Anni en Ashot se embrio is verkeerdelik in AP ingeplant.

“Ewe skielik het my brein gedink: Ek het nie kans gekry om ’n band met my baba te vorm nie. Ek kon hom nie dra nie. Ek kon hom nie vashou nie. Ek kon hom nie binne my voel nie,” sê ’n tranerige Anni in ’n video wat haar prokureur uitgereik het.

Weke van regstruweling het gevolg en op die ou end het die Manukyans die dienste van die voorste gesinsregprokureur Eric Wrubel van Manhattan bekom en op ’n vliegtuig na New York geklim.

Terwyl die Manukyans, wat ook nou die CHA-kliniek dagvaar, versoek het dat die baba aan hulle oorhandig word, het AP en YZ net so hard probeer om die tweelingseuntjies te behou. In ’n hartverskeurende brief aan Anni het die geboortema gesmeek om albei babas te kon hou.

“Ek soen sy voetjies elke dag. Ek bad hom. Ek het hom geborsvoed,” skryf sy.

“Ons is hul ware ouers en ons is die mense wat by hulle wil wees. Ons is lief vir hulle, hulle is ons s’n en hulle is ’n tweeling; hulle behoort nie geskei te word nie. Hulle krul teen mekaar op; hulle slaap elke tweede aand bymekaar. Hoe kan jy hulle skei?”

Die emosie het hoog geloop toe die twee egpare op 10 Mei in die hof van aangesig tot aangesig kom. “Hulle het ingekom en gehuil, en toe ek hulle sien, het ek begin grens. My man het my probeer vashou,” vertel Anni.

“Selfs die sekuriteitswag het gehuil.”

“Dit was die emosioneelste en verpletterendste saak waarby ek in 25 jaar van praktisering betrokke was,” sê Eric. “Jy kon ’n speld hoor val.”

’n Uur van regsargumente het gevolg en ná ’n kort pouse het die regter haar uitspraak gelewer: “DNS is DNS en genetika speel ’n groot rol in alles; dus hoort die baba by Anni en Ashot.”

AP en YZ sou een van die babas aan wie AP die lewe geskenk het aan sy genetiese ouers moes oorhandig. “Daar was so te sê ’n uitbarsting van snikke,” sê Eric. “Nie een van die egpare kon praat nie.”

Die regter het ’n kort oorgangstydperk gelas voor die finale oorhandiging die Maandag. Dit het twee besoeke van ses uur behels waartydens die Manukyans hul nuwe seun sou kon sien.

Ná die uitspraak het Anni en Ashot R8 350 aan babagoed gaan bestee en Anni het die aand babaklere in hul hotelkamer gewas. Hulle het hul seun op ’n reënerige Saterdag ontmoet.

Eric het ’n kinderoppasdiens en motor gehuur om die baba van die egpaar in Queens se huis na die hotel te bring.

“Toe die motor stilhou, het ek gehardloop. My man het die sambreel oor my kop gehou. Ons het net gehardloop en hom gegryp,” vertel Anni.

Hulle het die motorstoel met ’n kombers toegegooi, weer binnetoe gehardloop en dit in die voorportaal op die vloer neergesit.

“Ek het die kombers oopgemaak wat bo-oor hom was en nie geweet wat om te voel nie. Ek het gehuil. Hy was so klein; hy was so broos. Ek het hom ses uur lank net vasgehou.”

“Niemand moet hul baba in die voorportaal van ’n hotel ontmoet nie,” sê Anni. Hulle het hom Alec genoem.

Dit was vir Anni belangrik om AP te ontmoet. “Ek wou haar persoonlik bedank, want sy verdien dit,” het sy aan die New York Post gesê.

“Sy het my kind nege maande lank gedra, sy het hom gevoed, sy het hom versorg, sy het sy doeke omgeruil. Dit kon anders geëindig het.”

Trane het weer gevloei toe Anni en Ashot die egpaar ontmoet.

“Ons het al vier histeries gehuil,” sê Anni.

“Hulle het gesê: ‘Ons is jammer; ons is baie jammer. Ons moes julle hom voorheen laat kom haal het. Dis net dat ons vir hom lief is. Ons wou hulle versorg, want hulle was ons eie.’

“Daar was geen spanning in die vertrek nie. Dit het gevoel of ons vriende is. Daar was net liefde, want ons almal het liefde van dieselfde kind.”

’n Week later het nog hartseer vir AP en YZ gevolg toe hulle die ander baba aan wie AP die lewe geskenk het aan sy biologiese ouers moes oorhandig.

Dié ouerpaar is intussen opgespoor nadat die DNS-toetse gewys het dit is hul baba, maar wil nie geïdentifiseer word nie. Die vraag oor wat met hul eie embrio’s gebeur het, spook nou by die New Yorkse egpaar.

Is dit weggegooi? Is dit steeds gevries? Of is dit in iemand anders ingeplant? Het ’n ander vrou dalk die lewe geskenk aan die babas wat vir hulle bestem was?

Die saak is ’n skokkende skending van protokol, sê dr. Amber Samuel, ’n spesialis by die vereniging vir moeder-fetale geneeskunde in Amerika.

“Daar is maatreëls dat dit nie moet gebeur nie; dus was hier ’n ware versuim,” sê sy.

“Iemand was aan die slaap agter die stuur.”

Nadat hulle net ’n kort rukkie ouers was, is AP en YZ se droom om ’n baba te hê nou weer iets van die tragiese verlede.

Die twee het hulle glo afgesonder en is verslae oor die debakel.

“Hulle het vir ons gesê hulle kon nie die moed bymekaarskraap om daaroor te praat nie,” sê ’n vriend. “Hul verlies is net te verpletterend.”