Vandeesmaand is dit net meer as een jaar sedert die Johannesburgse sakeman Wayne Johnson (43) verdwyn het nadat hy vermoedelik gekaap en ontvoer is. Maar wat presies op daardie tragiese dag afgespeel het, bly vir sy geliefdes ná al die weke en maande steeds ’n raaisel.

Vir Charl Smith (45) – Wayne se lewensmaat – is dit ’n nagmerrie sonder einde.

“Hoe gaan jy voort?” vra Charl toe Huisgenoot hom Woensdagoggend met hom oor Wayne se verdwyning praat.

Hy antwoord self: “Jy staan soggens op en sê vir jouself: ‘Vandag gaan ek doen wat ek kan’. Jy dink nie aan môre of oormôre of weke en maande van nou nie – jy moet elke dag weer daardie selfde krag inspan om jouself te laat aangaan.” 

Wayne was die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir die Konferensiebedryf (Saaci) en bestuurder by ’n sakeonderneming in Johannesburg toe hy op 12 Junie verdwyn het.

Kollegas van Wayne het destyds vertel die sakeman het op daardie dag tydens middagete gou winkels toe gegaan – glo om ’n das te koop vir ’n troue wat hy en Charl die daaropvolgende naweek sou bywoon.

Maar Wayne het nooit teruggekeer werk toe nie. Nadat Charl hom by die Rosebank-polisiekantoor as vermis aangemeld het, het ’n privaat speurder sy selfoon tot in Tembisa nagespoor, waar dit verkoop is. Sy silwer Renault Clio is ook later gevind, maar van Wayne was daar nooit weer 'n teken nie. 

Wayne en Charl
Hulle het drome gekoester het oor ’n lang lewe saam. Nou is dit alles verpletter. Foto: Verskaf

In September verlede jaar, drie maande ná sy verdwyning, het die Gautengse polisie drie verdagtes in die saak vasgetrek. Een is later vrygelaat, maar twee is steeds agter tralies in die Johannesburg Sentrale gevangenis. Hulle word van moord aangekla en wag op ’n verhoordatum.

“Ons was 10 jaar lank saam,” vertel Charl vandag. “Daar was soveel dinge waaroor ons gedroom het; soveel dinge wat ons nog saam wou doen. Ons het kort voor sy verdwyning ’n huis saam gekoop – dit was ’n groot mylpaal en vir ons albei ’n seën.” 

Maar een jaar ná Wayne se verdwyning woon Charl alleen in die groot ou huis in Westdene in Johannesburg. En sy hoop dat sy lewensmaat ooit weer in die gange van hierdie huis sou wandel, is lankal verlore . . . 

“Dis die onsekerheid oor wat gebeur het wat 'n mens jaag. 'n Mens soek antwoorde – jy wil weet wát gebeur het en jy wil weet hoekom dit gebeur het. Maar nou, een jaar later, moes ek vrede maak dat Wayne nie terugkom nie.

“Dis net ’n gevoel wat ek het – 'n mens is mos ná soveel jaar saam verbind. Ek moes vrede maak daarmee dat hy waarskynlik dood is. Want as hy geleef het, het ons waarskynlik al iets gehoor.” 

Die polisie het maande gelede ’n lasbrief vir ’n derde verdagte se inhegtenisneming uitgereik, maar hiervan het nog niks gekom nie, verduidelik Charl.

Wayne en Charl
Charl (links) en Wayne in gelukkiger dae. Foto: Verskaf

Hy het gehoop daar sou in dié tyd – een jaar nadat die eerste twee verdagtes vasgetrek is – meer antwoorde wees. Maar terwyl die weke voortsleep en ’n verhoordatum telkens uitgestel word weens die coronaviruspandemie, vervaag selfs sy hoop op antwoorde.

“Weet jy,” sê Charl half bewoë. “Aan die begin was dit vir my ontsettend erg om in hierdie huis te wees. Ek kon hom nie sien nie, maar ek kon hom voel. Maar nou is dit vir my ’n troos; dis goed vir my siel. Ek weet dis hiér wat ons ons gelukkigste tye saam gedeel het.” 

Selfs al sal aanvaarding hom waarskynlik altyd bly ontwyk, sê Charl dis vir hom belangrik om nie konstant terug te kyk nie – selfs al is dit hoe moeilik. 

“Ek hoop steeds dat die verhoor antwoorde sal bring oor wat op daardie dag afgespeel het. Hoekom hý geteiken is of wat hulle met hom gemaak het. Maar ek weet ek moet intussen aanhou leef – vir Wayne. Dis wat hy sou wou hê.” 

  • Kapt. Mavela Masondo, provinsiale polisiewoordvoerder in Gauteng, sê daar is nog geen nuwe verwikkelinge in die saak nie. Hy sê die polisieondersoek duur voort en ’n verhoordatum sal binnekort gestel word.