Ruan Viljoen het op 19 Maart verlede jaar gesterf ná ’n tref-en-trap-ongeluk langs die N14-hoofweg in Centurion. Sy lyk is op die middelman van die hoofweg naby Jeanlaan gevind.

Hy het die vorige aand by vriende gekuier en op pad huis toe glo beheer oor sy motor verloor. Hy het sy motor gesluit en vermoedelik besluit om na ’n nabygeleë motorhawe te stap om sy ouers te bel.

Dit is toe dat hy getref word. Byna elke been in sy liggaam is gebreek.

Volgens sy ma, Anita Greyvenstein, is Ruan vermoedelik deur ’n silwer Volkswagen Golf getref. Hulle het onderdele van so ’n motor langs sy lyk gevind.  

“Die persoon het nie eens stilgehou nie. Hy het soos ’n hartelose dier weggejaag en my kind daar langs die pad gelos,” het sy teenoor Huisgenoot beweer. 

Kapt. Agnes Huma, polisiewoordvoerder, het bevestig die verdagte sal op 2 Augustus in die Pretoriase landdroshof op ’n aanklag van strafbare manslag verskyn.  

Anita en haar man, Sergei Greyvenstein, het geweier om moed op te gee. Hoewel Sergei Ruan se stiefpa is, het hy hom as sy eie grootgemaak vandat hy ’n klein seuntjie was. 

“Ek het eintlik al binne drie maande die kar gekry wat Ruan doodgery het," vertel Anita. "Ek het (die nasionale padagentskap) Sanral genader en hulle die beeldmateriaal (van die hoofweg) gevra sodat ons die kar kon opspoor.

"Jy sal dit nie glo nie, maar in die tydgleuf wat ons vermoed Ruan doodgery is, het duisende Golfs deur die tolhekke gery."

“Ek was moedeloos, maar toe kry ons die Golf met sy regterspieëltjie en buffer wat vermis word en ’n kraak in die voorruit. Toe weet ek ons het hom.” 

Die motor is volgens Anita maande later opgespoor en forensiese bewyse is geneem. 

“Hulle (die polisie) wou die bloed met my DNS vergelyk, maar die uitslag was onbeslis.”  Steeds het sy geweier om moed op te gee. 

“Ek het toe onthou ek het die klere wat hy aangehad het, by ’n ander polisiekantoor ingedien en daar was van sy bloed op.

"Ek het dit gaan haal en na die ondersoekbeampte geneem. Dis toe dat hulle die bloed aan die kar en die bloed aan die klere vergelyk en iemand aangekla het,” sê sy.

In dié stadium word die man, wat in sy laat 20’s is, nog net van strafbare manslag aangekla. Nog klagte sal na verwagting bygevoeg word.

Anita sê hulle is nog nie klaar baklei nie. 

“Ek wil hê die skuldige moet tronk toe gaan. Hy het soveel mense se lewe onherroeplik verander. Ek weet dit sal nie my kind terugbring, maar ek wil hê hy moet gestraf word.” 

Sy sê ’n mens hoor gereeld van sake wat nie opgelos word of polisie wat nie hul kant bring nie. 

“Dit was nie so met ons nie. Maar ons het volhard om antwoorde te kry,” sê sy. 

“Twee Augustus is die eerste keer dat ek die man in die oë sal kyk en hy beter reg wees vir my.”