Zuma, aangemoedig deur die ywerige, roekelose raad van sy regsverteenwoordigers, het met skaamtelose oneerlikheid volgehou met sy eindelose jakkalsdraaie. Maar die politieke straatvegter het hom op lange laas vasgeloop toe die polisie hom toe wel daar by Nkandla gaan haal het en hy Donderdag vir sy eerste dag agter tralies by die Estcourt-gevangenis in KwaZulu-Natal aangekom het.

Wat beteken dié jongste JZ-drama vir Suid-Afrika?

“Dat Zuma hom oorgegee het is ’n uiters belangrike gebeurtenis in die post-’94-tydvak omdat dit die gesag van ons grondwet en die beginsel van grondwetlikheid waarop ons staatkundige bedeling berus, bevestig,” sê prof. Theo Neethling van die Universiteit van die Vrystaat se departement politieke studie en regeerkunde. 

“Daar was baie regsonsekerheid die afgelope paar dae oor die gesag van ons hoogste hof en die uitvoering van regsbeslissings deur ons wetstoepassers in die geval van hoë politieke sake. 

“Dis nou grootliks uit die weg geruim. Dit bevestig dat niemand bo die reg verhewe is nie, nie eens oudpres. Zuma nie.”

Theo meen Suid-Afrikaners het baie skepties begin raak oor of daar ooit in Suid-Afrika werklik iets gedoen gaan word aan die wydlopende korrupsie wat onder die Zuma-bewind met staatskaping gepaardgegaan het.

“Baie het gereken ons sou nooit by die punt uitkom waar iets daadwerklik daaraan gedoen word nie. Maar die aanstelling van die Zondo-kommissie was ’n waterskeiding.

“Hoewel Zuma nie nou al vir korrupsie tronk toe is nie en waarskynlik ook nie te lank gaan sit nie, is hierdie 'n eerste stap in die rigting van vervolging van daardie politici wat geïmpliseer is by korrupsie en staatskaping, nie behoorlik verantwoording vir hul dade wil doen nie en wat die werk van die Zondo-kommissie nie baie ernstig opgeneem het nie.”

Zuma se inhegtenisneming is dus ’n belangrike simboliese stap om aan burgers te wys “die ratte van die regspleging draai stadig maar seker, en die vervolgingsgesag is wel grootliks funksioneel,” vertel Theo. “Zuma het jare lank kat-en-muis met die howe gespeel en telkens weggekom – iets wat miljoene Suid-Afrikaners wat moeg is vir korrupsie, uitermate gefrustreer het. 

“Maar eindelik is die grootste politieke vis in die staatskapingsdrama wel nou agter tralies. Dit stuur ’n baie positiewe sein uit na die publiek wat geregtigheid wil sien vir politici wat probeer wegkom met grootskaalse korrupsie en staatskaping, asook ’n sterk sein aan politici dat hulle wel in die tronk kan beland vir hul wandade.”

Prof. André Duvenhage, politieke wetenskaplike aan die Noordwes-Universiteit, vertel ons eweneens dat “die optrede teen en uitvoering van die hofbesluit ten opsigte van Zuma vertroue in die Grondwet en die oppergesag van die reg bevestig, en so ook die status van die Zondo-kommissie ten opsigte van sy ondersoeke. Dis positief vir die land.

“Vir die Zondo-kommissie is dit spesifiek baie belangrik, want dit sterk sy hand om korrupsie verder te ondersoek. Andersyds is die omvang van korrupsie so groot dat ek nie weet of die kommissie die vermoë het om dit volledig ten boek te stel of te ondersoek nie en of instellings soos die nasionale vervolgingsgesag uitvoering sal kan gee aan die kommissie se aanbevelings nie, en of die politieke wil bestaan vir die konsekwente uitvoering daarvan nie.”

Wat Zuma betref, meen André sy vonnis kan vanweë siektepleidooie na huisarres aangepas word. “Die slegste scenario vir hom is net 'n paar maande in die tronk.

“As struggle-ikoon sal hy vorentoe as ‘martelaar’ steun probeer wen, maar ek sien nie regtig vir hom ’n verdere rol nie. Trouens, ek beskou hierdie as die werklike begin van regsprosesse teen hom, en dit gaan baie meer behels as sy huidige situasie. Ons praat natuurlik nou van die klagtes wat dateer van die dae van Schabir Shaik (wat weens omkopery tronk toe is) en van die Guptas. Al daardie hofsake gaan aan die beweeg kom. Zuma skuif dus nou van sy Stalingradstrategie-fase (waar hy alle regstappe teen hom vertraag het) na die werklike wêreld waar hy wel sy dag in die hof gaan kry.”

Die Radikale Ekonomiese Transformasie (RET) -groepering waaraan Zuma behoort, sal nie die stryd laat vaar nie, reken André.

“Hulle sal voortgaan om hul magsbasis te probeer verstewig met die oog op die ANC se nasionale leierverkiesingkonferensie aanstaande jaar. Hulle sal ongetwyfeld Ramaphosa se magsbasis uitdaag. Die ANC is besig met ’n interne struggle waarin struggle-helde herdefinieer word.

“En die moontlikheid is nie uitgesluit dat die RET-groepering weer groot steun kan kry by die komende konferensie nie.”

Boonop is daar moontlik ’n sogenaamde “derde golf” in die faksionele ANC-politiek, voeg André by – ’n verdere groepering onder leiding van mense soos adjunk-pres. David Mabuza en Paul Mashatile.

Maar hy dink nie Ramaphosa se vyande, by uitstek die RET-groep, het die vermoë om die land werklik te destabiliseer nie. “As hulle dit doen, sal dit waarskynlik kleiner voorvalle hier en daar wees; ek dink nie hulle kan ’n nasionale krisis skep nie.

“Dus dink ek ons gaan vorentoe drie tendense sien: die mobilisering van die RET-groepering binne die ANC, talle hofsake teen RET-leiersfigure – buiten Zuma byvoorbeeld Ace Magashule en Supra Mahumapelo - en vorme van onstabiliteit, maar nie so dat dit buite grense raak nie.”

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe