Oudpres. Jacob Zuma moet hom voor eerskomende Maandag 5 Julie by ’n polisiestasie aanmeld om die vonnis van 15 maande tronkstraf wat die konstitusionele hof hom opgelê het te begin uitdien. 

Die meerderheidsbeslissing in ons hoogste hof is wyd verwelkom – as ’n teken dat die oppergesag van die reg nog in Suid-Afrika geld, ook vir ’n glibberige politieke straatvegter wat hom as verhewe bo die reg beskou het.

Maar intussen moet ’n mens ook onthou hierdie is nog net ’n vonnis vir minagting van die hof, sê prof. André Duvenhage, politieke wetenskaplike en ’n navorsingsdirekteur aan die Noordwes-Universiteit, aan Huisgenoot.

“Die omvangryke korrupsieklagtes teen Zuma en sake wat verband hou met die breë konteks van staatskaping wat terugdateer na Schabir Shaik (wat weens omkopery tronk toe is), is nog nie hier op die tafel nie.

Prof André Duvenhage. Foto: NWU
Prof André Duvenhage. Foto: NWU

“Hierdie gaan uiteraard nog net oor minagting van die Zondo-kommissie en die hof; dis ’n kleiner saak.” 

Boonop blyk dit Zuma kan ingevolge die Korrektiewe Dienste-wet binne vier maande vir parool in aanmerking kom. As hy dus wel begin Julie opgesluit word, kan hy reeds teen laat September weer op vrye voet wees.

“Uit ’n regsoogpunt sal hy waarskynlik net ’n paar maande uitdien. Trouens, ek gaan verbaas wees as hy wel hoegenaamd ’n paar maande in die tronk gaan wees.

"Hy kan waarskynlik met mediese sertifikate feitlik onmiddellik weer vrygelaat word, in huisarres geplaas word en dan waarskynlik in Nkandla aanbly,” sê André. 

Hy meen Zuma sal ook “voortgaan met sy soort politiek” – van selfverontskuldiging en die ondergrawing van enigeen wat hom aanspreeklik probeer hou.

“Vier maande in die tronk is sy slegste scenario; ek voorsien eerder ’n vinnige proses van huisarres.”

Edward Zuma, Jacob se seun, het weer gedreig dat die polisie nie naby sy pa sal kom nie. Toe hy die media ná die konstitusionele hof se vonnisoplegging by Nkandla toegespreek het, het hy volgens EWN gesê wetstoepassers sal hom moet doodmaak voor hulle Zuma in hegtenis sal kan neem. Hy het ondersteuners gevra om ondanks die pandemie “in groot getalle op te daag”.

“As ons sterf dan sterf ons.”

Maar André glo nie die spanning rondom Zuma en die hofbeslissing sal in die volgende paar dae in beduidende onrus en geweld ontaard nie. 

“Ons hoor al ’n ruk sulke gerugte namate die sake van (die JZ-bondgenoot) Ace Magashule en Zuma ontvou het. En buiten geringe onstabiliteit het daar nie veel van gekom nie. Ek verwag nie groot probleme op kort termyn nie.

“Soos die korrupsieondersoeke vorder – en die Zondo-kommissie se termyn is nou verleng – en meer mense geïmpliseer word, kan die klem op ’n ‘underdog‘’- of slagoffermentaliteit in die ANC wel toeneem.”

Dit kan die verset binne die party teen huisskoonmaak-pogings versterk en manifesteer in terme van steun vir die Zuma-faksie, beduie André.

“Die ANC moet ’n paar belangrike vergaderings hou, en die huidige prentjie kan verander onderweg na hul leiersverkiesingskonferensie aanstaande jaar.”

Sal Zuma wel nog rekenskap gee oor al die klagtes van korrupsie en rampokkery teen hom?

“Kyk, hy’t nou al vir meer as 10 jaar so ’n vonnis effektief ontduik, ontsnap en ontglip. Daardie uurglas is dus besig om vir hom uit te loop, en daar sal ’n besluit moet kom teen hom. Maar andersyds word hy (aanstaande jaar) 80 jaar oud. En met iemand van daardie ouderdom kan die regsproses net soveel uitrig.”

Daarby is ons Korrektiewe Dienste inkonsekwent as dit by die behandeling van gevangenes kom, sê André.

“Ek dink iemand soos Zuma, ’n struggle-ikoon, sal in elk geval baie sag en versigtig hanteer word.”

Sy ouderdom en politieke simpatie kan hom tot voordeel strek. Van die pogings om Zuma rekenskap te laat gee vir sy oorspronklike  staatskapingsondes sal daar waarskynlik uiteindelik “in praktiese terme nie veel kom nie,” meen André.

Hoe word pres. Cyril Ramaphosa se posisie deur die jongste wending rondom Zuma geraak?

“Ek dink tans is dit vir hom op ’n manier positief; ’n versterking van sy posisie. Maar as die stof rondom die hofbeslissing gaan lê en die harde werklikhede hanteer moet word, kan dit blyk daar is nog ’n groot skeut simpatie vir Zuma in die ANC.”

Die slagofferkultuur onder ’n deel van die organisasie kan mettertyd teen Ramaphosa tel, reken André.

“Ek dink Ramaphosa het sy posisie relatief gekonsolideer en sien nie tans ’n groot aanslag teen hom nie. Maar dis nie te sê dat dit die einde van die geveg is nie.

“Ek sien trouens nog moeilike tye voorlê, veral in terme van die hantering van korrupsie – dit wat uit die Zondo-kommissie na vore kom en hoe dit deur die nasionale vervolgingsgesag hanteer en werk van gemaak moet word. 

“Kortom, die probleem van korrupsie is te groot vir die ANC en sy leierskap om dit doelmatig te hanteer.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe