Op die foto wat die tonge so laat klap, juig die vrou van die Amerikaanse deelstaat Kentucky met haar arms in die lug langs die karkas van ’n ouerige kameelperdbul, wat sy middel verlede jaar in Suid-Afrika geskiet het.

“Gebede vir my eenmalige droomjagtog het waar geword vandag. Ek het hierdie skaars swart kameelperdbul gesien en hom ’n hele ruk lank bekruip,” skryf sy.

Toe AfricaDigest dié foto en inskrywing weer in die sosiale media versprei, het 'n storm om die 37-jarige vrou se kop losgebars. Dis intussen meer as 44 000 keer weer getwiet.

Debra Messing, wat Grace in die komedie Will & Grace speel, het getwiet: “Tess Thompson Talley van Nippa, Kentucky, is ’n walglike, vieslike, immorele, hartelose, selfsugtige moordenaar.” 

Die Amerikaanse komediant Ricky Gervais, van The Office-faam, se Twitter-belediging van Tess was skreiend.

Giftige aanvalle in die sosiale media ten spyt toon navorsing dat trofeejag beduidend tot die Suid-Afrikaanse ekonomie bydra. Volgens ’n studie – wat prof. Peet van der Merwe van die navorsingseenheid Trees (Tourism Research in Economic Environs and Society)in samewerking met die beroepsjagtersvereniging Phasa gelei het – verdien Suid-Afrika jaarliks amper R2 miljard uit trofeejag.

Die ondersoek het ook getoon dat hierdie jagters op die ware Jakob aandring en nie jag wil maak op makgemakte diere (soos sogenaamde "geblikte leeus") nie.

Die jag van kameelperde is wettig in Suid-Afrika as dit vooraf met die betrokke wildpark gereël word.

Tess het haarself verdedig deur te twiet dat die kameelperd oud was en ’n gevaar vir die jong kameelperdbulle ingehou het omdat hy hulle aangeval het. Sy beweer dit was nodig om hom te skiet.

“Dit is ’n wanopvatting dat (kameelperde se getalle onder druk verkeer) in Suider-Afrika. Hulle moet soos enige ander wildsoort uitgedun word,” sê Koos Barnard, die redakteur van SA Hunter/Jagter aan Huisgenoot.

“In baie wildreservate het die kameelperde geen natuurlike vyande nie. Leeus is eintlik al diere wat ’n kameel kan plattrek. Om die getalle te beheer, moet die diere verkoop of laat slag word,” verduidelik Koos.

Die mark is versadig en dit is haas onmoontlik om hierdie diere te verkoop, veral wanneer hulle oud is. Hulle kan 10 tot 15 jaar oud word en mettertyd pak hul spysverteringstelsel op en sukkel hulle om te vreet, voeg hy by.

“Dis wreder om ’n kameelperd weens ouderdom te laat vrek,” meen Flip Coetzee, 'n tandarts van Mosselbaai verbonde aan die Suid-Kaapse Jagters-en-bewaringsvereniging.

Weens sy mediese agtergrond, weet hy dat die diere se organe later ingee. “So 'n dood is pynliker as om met die regte kaliber geweer op die regte manier te skiet. Ons lei jagters hierin op.”

Hy voel die hele kameelperdsage word uit verband geruk. “Ons werk nou saam met bewaringsorganisasies om seker te maak die geld kom by hulle ook uit,” voeg hy by.

“Die wildboer moet ’n inkomste maak,” vertel Koos. "Hy of sy het ’n trofeejagter nodig om die diere te slag. Die dier se vleis is taai wanneer hy oud is en dit word aan slaghuise verkoop, wat dit tot iets soos polonies verwerk.”

’n Kameelperd lewer tussen 900 kg en 1 500 kg vleis. Die trofeejagter betaal duisende dollars om die wild te skiet en die jagter kan die vel en die kop verwerk om terug te vat na hul land.

“Baie mense besef nie dat elke krieseltjie vleis gebruik word nie, al skiet ’n trofeejagter die dier,” voeg Koos by. Volgens hom raak mense emosioneel wanneer ikoniese diere soos kameelperde, leeus en olifante geskiet word, maar daar is beperkte ruimte op plase.

Hy stem nie noodwendig daarmee saam dat jagters hulself afneem by die dooie diere en dit op die internet plaas nie. 

Net sowat 3% van die inkomste uit trofeejag bereik die gemeenskappe wat daardeur geraak word, het die Internasionale Raad vir Wild en Natuurlewebewaring in ’n ondersoek bevind.

Maar die Suid-Afrikaanse minister van omgewingsake, Edna Molewa, hou vol die jagbedryf bring miljoene in vir die plaaslike ekonomie.

As reisgeld buite rekening gelaat word, bestee ’n trofeejagter op besoek aan Suid-Afrika gemiddeld R127 276 per jagtog.

Die mees gesogte diere om te jag, is rooibokke, vlakvarke, springbokke, koedoes en blesbokke, en buffels, leeus, swartwitpense, koedoes en njalas bring die meeste geld in.

“Jag is ’n vorm van volhoubare ekotoerisme,” sê Peet. “Kyk net hoeveel geld die jagters bestee teenoor dié van ander toeriste."
Hy meen dit kan bydra tot werkskepping op die platteland en sê dis ’n winsgewende nismark wat nie afgeskeep behoort te word nie.

"Ons kan meer doen om die jagbedryf se beeld te beskerm.”

Bronne: theguardian.com, en.wikipedia.org, proagri.co.za