Brian Williams en sy seun, Colton (9), het baie tyd in die buitelug saam bestee — as dit nie langs die viswaters was nie, was dit op ’n haasjagtog soos op die pas afgelope Dankseggingsdag.

Die twee het saam met ’n vriend hase in Orangeburg County in Suid-Carolina gaan jag. Maar dié ekskursie het tot ’n noodlottige einde gekom toe Colton na bewering per ongeluk deur ’n koeël uit sy pa se jaggeweer getref is.

Colton se oupa aan moederskant, Vince Furtick, het aan die plaaslike nuusdiens WRDW gesê hulle blameer Brian glad nie vir Colton se dood nie, want hulle weet hoe lief Brian vir Colton was.

Colton se ouma, Beverly Furtick, het die tragedie as ’n ongelooflike en ondenkbare ongeluk bestempel.

Vince het op sy beurt vir Colton, hul enigste kleinkind, as die helderste lig in hul lewens beskryf. Hy het glo steeds hulle aan die hand vasgehou waar hulle ook al was en het nooit weggegaan sonder om hulle met ’n drukkie te groet nie.

Hy vertel Colton het hom onlangs gevra oor wat in die hemel wag.

“Ek het gesê, eerstens, jy hoef nooit bed toe te gaan nie want daar’s geen donkerte (in die hemel) nie. En as jy ooit daaraan dink om te gaan visvang, is al wat jy hoef te doen om te gaan visvang,”

“Dink jy regtig dis so?” het Colton hom gevra.

“Ek weet nie, maar dis buiten enigiets wat jy jou kan indink en dis al die beste goed.” Colton het glo in reaksie daarop stil geraak en geglimlag.

Foto: GoFundMe
Foto: GoFundMe

Volgens die Furticks was die kalkoen in die oond toe hulle die nuus van die tragedie ontvang het. Hulle het als net so gelos en na die hospitaal gehaas.

“Dit was net ’n baie, baie slegte ding wat gebeur het en daar was geen helder lig wat geskyn het nie. Ons het nie hoop gehad nie,” vertel Vince. Daarom het hulle besluit om Colton se organe te skenk.

Die skenking het drie kinders se lewens gered wat danksy die familie se besluit nuwe niere en ’n lewer ontvang het.

“Ons stort trane omdat ons ons kleinseun mis, en daardie gesinne huil omdat hul kinders gered is. En dit is die merkwaardige ding.”

Colton, wat volgens verskeie bronne ’n ster-leerling aan die Kelly Edwards-skool in Willoston was, was sélf ’n bedrewe skut en gek oor sport, veral Amerikaanse kollege-voetbal.

Foto: Facebook (Caiti Furtick)
Foto: Facebook (Caiti Furtick)


Bronne: metro.co.uk, wrdw.com, gofundme.com, independent.co.uk, dailymail.co.uk, folkfuneralhome.com