Foto: Sharon Seretlo
Foto: Sharon Seretlo

Jy sou kon sê hierdie laaste rusplek en dié wat daar rus, is aan die vergetelheid oorgelaat, as dit nie vir Jan Taks was nie. Byna ’n eeu en ’n half ná Jan Booysen se dood word hy en sy vrou, Christina, nog maandeliks vir erfbelasting aangeslaan. En wanneer die posbode met die rekening van die Tshwane-metroraad voor dooiemansdeur staan, word dit klokslag by die Booysens se bure afgelewer.

“Ek is nie seker hoe om die rekening onder die Booysens se aandag te bring nie,” sê Qzet Botes (37), wat langs die begraafplaas woon. “Dalk moet die munisipaliteit maar hul water en elektrisiteit afsny. Miskien sal die skok van so ’n yslike rekening hulle uit die dood opwek!”

Daardie rekening, uitgemaak aan Booysen J. & C.H.Z., beloop nou al R68 374. Dit is meer as dubbeld die verskuldigde bedrag op die eerste rekening wat in 2016 by Qzet en haar pa, Daan Roux (71), beland het. Hulle deel ’n erf waarop twee huise gebou is.

 Qzet Botes se “bure”, ’n Booysen-Voortrekkerpaar
Qzet Botes se “bure”, ’n Booysen-Voortrekkerpaar wat in die laat 1800’s dood is, word meer as ’n eeu ná hul dood steeds aangeslaan vir erfbelasting. Foto: Sharon Seretlo

’n Klompie rekeninge is in daardie jaar hier by hul motorhek ingedruk, maar toe die raad amper vier jaar lank geen verdere rekening stuur nie, het hulle dit as ’n fout afgelag. Tot op 25 Augustus vanjaar toe die jongste rekening afgelewer is. Nou sê ’n omgesukkelde Daan die stadsraad doen geen moeite om die “Babelse verwarring” op te klaar nie.

“Hulle probeer geld by die dooies invorder. Ek het vir die outjies by die stadsraad gesê as hulle geld soek, moet hulle die rekening óf hemel óf hel toe stuur. Dit moet net nie weer in my hek beland nie.” 

Hoe dit gebeur het dat die metroraad 140 jaar ná Jan Booysen se dood op 20 Augustus 1880 steeds agterstallige skuld by hom wil invorder, bly ’n raaisel.

Die Voortrekkerbegraafplasie is ’n klein lappie gr
Die Voortrekkerbegraafplasie is ’n klein lappie grond van net meer as 200 m². Jan Booysen is in 1880 daar begrawe en sy vrou, Christina, in 1895. Foto: Sharon Seretlo

“Niemand kon in die vier jaar sedert die eerste rekening hier opgedaag het, verduidelik hoe die verwarring ontstaan het nie,” sê Qzet. Toe sy en haar pa die eerste rekening kry, het hulle “die strate platgestap” om na J. Booysen van erf no. 985 te soek. “Ons het aanvanklik gedink dis net ’n misverstand,” onthou sy. “Toe ons na die huis soek, kon ons niks opspoor nie. Eers toe ek ’n paar dae later by die begraafplaas verbyloop, het ek die name op die stene opmerk. Daar staan dit toe: Jan Booysen. Ek kon my lag byna nie keer nie.”

Qzet het hier in Van der Hoffstraat in Claremont grootgeword. Sedert haar kinderjare weet sy al van die begraafplasie. Haar pa en sy ouer suster, Mari van Staden (82), woon vir die grootste deel van hul lewe aan weerskante daarvan.

Qzet en Mari van Staden, haar tannie, het albei la
Qzet en Mari van Staden, haar tannie, het albei langs die begraafplasie grootgeword. Foto: Sharon Seretlo

“Ons het as kinders daar gaan speel,” vertel Mari. “Dit was altyd netjies en skoon. Daar was vir ons niks vreemds daaraan nie. Lank gelede is baie mense sommer op die familieplaas begrawe, nes die Booysens.”

By die ingang van die begraafplaas, wat eens vermoedelik deel van ’n familieplaas was, staan die naam op ’n gedenksteen: “Voortrekkerbegraafplaas”. Daarop verskyn ook die woorde: “In hierdie begraafplaas lê onder andere die Voortrekkers Jan Jonathan en Christina Maria Booysen.” Agter in die hoek is die twee se grafte. Jan se grafsteen bevestig: “Een van die Voortrekkers, 1836.”

Mari vertel daar is ook vyf kindergraffies, iewers onder die bloekomblare, bossies en rommel versteek.

‘Dalk sal die skok van so ’n rekening hulle uit die dood opwek!’

Nadat die soveelste rekening in 2016 by Daan en Qzet opgedaag het, het hulle die rekeninge aan ’n vriend, wat bande met die stadsraad gehad het, oorhandig. Daarna was daar skielik ’n stilte. Hulle was oortuig die stadsraad het besef hulle het ’n flater begaan.

“Maar toe kom daar in Augustus weer ’n rekening hier by ons aan,” vertel Daan. “En al wat ons twee kon doen, was lag.”

Die heffing op die oorspronklike rekening van 2016 was net vir erfbelasting. Maar kyk jy na die jongste rekeninge, word daar nou ook van die Booysens verwag om vir water (R291,13) en sanitasie (R205,05) op te dok.

“Die arme ou mensies draai in hul grafte om,” sê Daan. “Kan jy jou indink hoe ’n enorme bedrag van R68 000 vir hulle moet klink? Hulle sou waarskynlik sê hulle verkies om maar rustig te bly lê.” Qzet merk op: “Pa, darem is ons nou daarvan seker: Daar is water en sanitasie in die hiernamaals, maar jy gaan moet betaal!”

Nadat hul aanvanklike kommunikasie met die metroraad geen vrugte afgewerp het nie, gooi hulle nou tou op.

“Ons het besluit hulle moet maar die rekeninge aanhou stuur. ’n Mens kan seker maar op elke manier probeer om ’n rand of twee te maak,” sê Qzet en lag.

“Ons almal ken mos die gesegde dat ’n mens in die lewe nét seker kan wees van die dood en van belasting. Ons het net nooit geweet dat jy selfs tot ná die dood van belasting kan seker bly nie!”

Dood ofte not, betaal bly skynbaar die wet van die ou Transvaal. Op ’n vraag oor waarom die Booysen-egpaar soveel dekades ná hul dood steeds vir erfbelasting aangeslaan word, sê Selby Bokaba, ’n woordvoerder van die Tshwane-metroraad: “Die titelakte sê die eiendom behoort aan die Booysens; die skuld is dus hul verantwoordelikheid. Dit is reg om ons te betaal wat ons toekom.”

Hy wou nie ’n afskrif van die titelakte aan Huisgenoot stuur nie. In die jare sedert hul dood was daar volgens hom nog nooit ’n versoek om die titelakte oor te dra nie. “Ons was dus onder die indruk die Booysens leef nog,” verduidelik hy.

“Dit bly die verantwoordelikheid van die familie om ons te kontak om die besonderhede te verander of die akte oor te dra.” Toe Huisgenoot hom daarop wys die Booysens se sterfdatums is in die laat 1800’s, is Selby se verweer: “Ek weet nie wat om vir jou te sê nie – hul name staan daar swart op wit.”

Die stadsraad kan net die saak ondersoek as “iemand vorendag kom”, sê hy. Hy kon ook nie bevestig of die stadsraad dit sou oorweeg om die skuld af te skryf nie. “In hierdie stadium weet ons net die erf behoort aan die Booysens – en hulle skuld ons geld. Ons sal ophou om rekeninge te stuur sodra die skuld aan ons vereffen is.” 

WAT SÊ DIE REG?

Die titelakte van die erf waarop die ou begraafplaas geleë is, is inderdaad in Jan Booysen se naam geregistreer, sê adv. Werner Zybrands, ’n kenner van munisipale bestuur wat die akte bekom het.

“Titelaktes dateer terug na die vroeë 1900’s toe die Unie van Suid-Afrika ’n Britse kolonie was,” verduidelik hy. “Dit is dus moontlik dat hierdie inligting oorgedra is.”

Een moontlikheid is dat Jan Booysen intestaat gesterf het, of dalk het hy geen erfgename gehad nie, meen hy.

“Dit kan ook wees dat die Booysens se erfgename nooit die erf opgeëis het nie – dat dit ná hul dood aan niemand behoort het nie,” sê hy. “Die metro sal in so ’n geval ondersoek moet instel.” Werner sê ingevolge art. 78 van die Wet op Munisipale Eiendomswaardering kan ’n munisipale waardeerder so ’n kwessie oplos, want erwe met ’n waarde van minder as R350 000 word nie belas nie. Volgens Werner se ondersoek van die Tshwane-metro se nuwe waarderingslys wat op 1 Julie 2020 in werking getree het, is die waarde van die erf maar R1 000.

“Die begraafplaas kan ook moontlik as ’n nasionale gedenkwaardigheid bestempel word – dis ook vrygestel van belasting. Maar die onus rus op die stadsraad om die verwarring op te los.”