Jason is in 2016 aangekla van die moord op sy beeldskone blonde vrou, Susan Rohde.

Sy is die oggend van 24 Julie 2016 dood aangetref agter die badkamerdeur van die egpaar se hotelkamer op die Spier-landgoed buite Stellenbosch. Dit het aanvanklik gelyk asof Susan haarself met die koord van haar haartang opgehang het, maar Jason is later in hegtenis geneem op aanklag dat hy haar vermoor het en dit laat lyk het asof Susan haar eie lewe geneem het.

Adv. Graham van der Spuy het Woensdag in die hooggeregshof in Kaapstad met die verdediging se slotbetoë in dié opspraakwekkende moordverhoor begin.

Hy het vroegoggend reeds aangevoer dat die staat nie eintlik weet wat die oorsaak van Susan se dood was nie. Volgens Van der Spuy is dit nie duidelik of die staat meen Susan is met kaal hande verwurg of versmoor nie.

“Die staat het dit nie een keer aan die beskuldigde gestel dat hy sy vrou met kaal hande verwurg het nie,” het Van der Spuy gesê.

Hy het ook uitgevaar teen die staatspatoloog dr. Akmal Coetzee-Kahn se getuienis.

“Sy getuienis was nie die papier waarop dit staan, werd nie,” het Van der Spuy vurig gesê. Hy meen Coetzee-Kahn se bevindinge na hy die lykskouing van Susan gedoen het, was vol foute. Hy het ook weer bevraagteken hoe Coetzee-Kahn te werk gegaan het en hoe sy nota’s oor die lykskouing net kon “verdwyn”.

“Daar is ’n slang in die gras,” het hy gesê.

Jason het met ’n strak uitdrukking op sy gesig in die beskuldigde bank gesit.

 Van der Spuy het breedvoerig uitgewys dat Coetzee-Kahn beweer daar was ’n fraktuur in Susan se tongbeentjie, maar dat die patoloog wat vir die verdediging getuig het, dr. Reggie Perumal, nooit dié fraktuur gevind het nie en dit ook op ’n foto uitgewys het.

Van der Spuy het ook uitgewys dat Coetzee-Kahn verskeie beserings op Susan se lyk uitgelaat het, onder meer die merk aan die agterkant van Susan se nek, wat volgens Van der Spuy, deur die elektriese koord gemaak is, misgekyk.

Hy het verder benadruk dat die verdediging se tweede patoloog, dr. Izak Loftus, 95% seker was dat Susan haarself opgehang het.

Van der Spuy het ook aangevoer dat die Spier-nutsman wat die badkamerdeur oopgesluit het nadat Jason om hulp gebel het, se getuienis vol foute was.


Van der Spuy het verder aangevoer dat dit nie ’n eenvoudige taak sou wees vir Jason om Susan na die badkamer te verskuif nie, nog minder om ’n dooie liggaam met ’n kabel teen die deur op te hang. Hy meen dit sou ook vir Jason onmoontlik gewees het om dan by die badkamerdeur uit te gaan as die deur net ’n skrefie kon oopmaak.

“Die logistiek van die hele ding is verbysterend,“ het Van der Spuy gesê.

Die verhoor duur voort.