Die gryskop sakeman waai vir die enkele familielede in die openbare galery van hof twee in die hooggeregshof in Kaapstad, dan draai hy om en kyk weer voor hom.

Gaan sy oudste dogter, Kate Rohde, vandag weer in die getuiebank kom staan? Gaan sy vir ’n tweede keer die moed bymekaar skraap om ter strafversagting te getuig, wonder joernaliste onderlangs.

Maar adv. Graham van der Spuy, Jason se regsversteenwoordiger lig die hof vroegtydig in dat dit nie die geval is nie. Twee van Jason se vriende sal wel getuig. En sy ma.

Wanneer die tenger vrou met die kort blonde hare in die getuiebank gaan staan, is die hof tjoepstil. Sy praat eers te sag en Van der Spuy moedig haar aan om harder te praat.

Haar woorde voer ’n mens weg en gee jou so ’n klein kykie in Jason se lewe, jare en jare voor hy skuldig bevind is aan die moord op sy blondekopvrou Susan Rohde, wat in Julie 2016 dood aangetref is agter die badkamerdeur van haar en Jason se hotelkamer op die Spier-landgoed buite Stellenbosch.

Aanvanklik het dit gelyk asof sy haarself met die koord van ’n haartang opgehang het, maar Jason is later van haar moord aangekla en verlede jaar skuldig.

Baba Jason was maar elf maande oud toe hy saam met sy ma en sy pa van Engeland af na Suid-Afrika gekom het. Hy is kort voor haar 19de verjaarsdag gebore, vertel sy in die hof.

Jason was omtrent twee jaar oud toe sy en Jason se pa geskei is. Sy het geen idee gehad waarheen haar eerste man verdwyn het nie en aanvanklik moes sy die klein babatjie met haar ouers se hulp probeer grootkry.

Maar toe sy later, toe Jason omtrent vier jaar oud was, weer trou, het die nuwe man in haar lewe ook vir klein Jason aangeneem.

In die beskuldigde bank laat sak Jason sy kop, dit lyk of sy onderlip effens bewe en hy vee ’n paar trane af.

Brenda vertel hoe Jason se jonger suster, Victoria, wat uit haar tweede huwelik gebore is, nog altyd vir Jason bewonder het. Sedert kleintyd het sy hom op ’n troontjie geplaas en was sy bitterlik lief vir haar ouboet. “Sy ken sy karakter,” voeg Brenda by en verduidelik Jason was nog altyd baie geduldig en liefdevol teenoor sy sussie wat as eenjarige doof gediagnoseer is.

Op skool was Jason gewild onder sy vriende, aktief op die krieketveld en later die rugbyveld. “Jason is nogal snaaks, op ’n stil manier. Ek dink dit is hoekom sy vriende van hom gehou het, hy is nogal snaaks,” vertel Brenda terwyl ’n silwer halssnoer met ’n kruis om haar nek blink.

“Jy moet vir Jason ken om hom lief te hê,” verduidelik sy oor haar lieflingseun. Sy verduidelik dat hy dikwels stroef of stug kan oorkom, maar dat dit maar “net sy manier” is. Sy meen egter die tientalle boodskappe van ondersteuning wat sy van Jason se vriende ontvang, spreek boekdele oor die mens wat hy is.

Wanneer Brenda oor haar kleindogters praat, oor hul bewondering vir hul pa, hul liefde vir hom ten spyte van sy skuldigbevinding, raak die groot man in die donker pak weer hartseer.

“Hulle is baie sterk meisies en hulle is baie lief vir hulle pa,” sê sy. “Hulle draai steeds na hom vir leiding en hulle ondersteun hom,” sê sy en vertel ook dat Kate en Jason se verhouding die afgelope paar maande verbeter het.

En net voor sy die beskuldigde bank verlaat sê Brenda vir oulaas: “Hy was nog altyd ’n baie, baie goeie seun. Hy was altyd daar en hy het altyd omgegee. Hy was daar vir my toe ek siek was. Hy het ’n hart van goud.

“Ek is baie lief vir hom. Sy pa en sy ander familie is ook...”

Die verrigtinge is uitgestel tot Woensdag 20 Februarie, wanneer slotbetoë in die hof aangehoor sal word.