Ná meer as twee jaar in en uit die hof sou niemand verbaas gewees het as ons nog ’n paar maande moes wag voor die uitspraak nie.

Tog, op die warm lenteoggend van 8 November 2018 was die gevoel van afwagting in Hof 1 in die hooggeregshof van Kaapstad, tasbaar. Dit was asof alles en almal, selfs die hofbanke asem ophou. Gaan die voormalige grootbaas van Sotheby’s International Realty in Suid-Afrika skuldig bevind word, of gaan hy vandag as ’n vry man by die hof uitstap?

Niemand was seker oor die antwoord nie.

Jason is in 2016 aangekla van die moord op sy vrou, Susan Rohde.

Sy is dood aangetref agter die badkamerdeur van die hotelkamer en Jason het beweer dat Susan haar eie lewe geneem het deur haarself met die kabel van haar haartang op te hang.

Die hof het egter Donderdag dié weergawe van Susan se dood verwerp.

Toe Jason eindelik ook in die beskuldigde bank inskuif, nes altyd netjies in ’n donker pak geklee, het hy vir die eerste rukkie strak voor hom gekyk. Maar toe die hofverrigtings begin en die regter met haar lang swart hare die opgesomde weergawe van die uitspraak begin lees, het Jason na die grond gestaar en byna nooit opgekyk nie.

“Die uitspraak is 258 bladsye lank,” het Salie-Hlope uitgewys maar verduidelik dat sy ’n opsomming van 38 bladsye in die hof sal lees.

Die inleiding van haar uitspraak het soos ’n roman begin en almal in die hof meegevoer. “Op ’n wintersoggend in Julie 2016, het die skokkende nuus van die dood van ’n gas by die Spier-hotel deur die gemeenskap geskeur en nuusberigte oor die wêreld heen aangegryp,” het sy begin lees.

Maar hoe langer Salie-Hlope gelees het, hoe duideliker het dit geword. Jason Rohde word skuldig bevind op aanklag van moord.

Hoewel die gryskop-sakeman sy emosies diep weggesteek het, het joernaliste met groot oë vir mekaar begin kyk. Dit was baie duidelik wat besig was om te gebeur.

Jason se gedugte regspan het voortdurend nota’s geneem terwyl staatsaanklaer Adv. Louis van Niekerk met ’n ernstige gesigsuitdrukking gesit en luister het.

Sy het deur die hele verhoor se getuienis gevlieg en kortliks haar bevinding opgesom, elke nou en dan benadruk dat sy dit breedvoerig in die volledige uitspraakdokument behandel.

“Die beskuldigde se weergawe kan nie redelik moontlik waar wees nie en word daarvolgens verwerp. In kort word die beskuldigde skuldig bevind soos aangekla in terme van albei aanklagte. Die manier, die oorsaak van haar dood en die aard van haar beserings het gewys die beskuldigde het die direkte bedoeling gehad om die oorledene dood te maak,” het sy gesê.

Jason het hard gesluk en net voor hom gekyk. Hy is kort daarna geboei.

Ná die afloop van die verrigtinge is hy na die aanhoudingselle geneem en Jason se swaer, Paul Coughlan, wat ook die verrigtinge bygewoon het, het bloot sy kop geskud terwyl hy met Jason se prokureurs gepraat het.

Jason sal op 21 November gevonnis word. Hy bly intussen in aanhouding.

“Die nasionale vervolgingsgesag gaan op lewenslange tronkstraf aandring,” het Eric Ntabazalila buite die hof aan joernaliste gesê kort ná die kanon in Kaapstad afgegaan het en aangedui het dit is 12:00.