Sy was jare lank die liefling van die partytjietoneel in die Groot Appel en het in die kringe van miljoenêrs, koninklikes, politici en bekendes uitgespan.

Maar die glansryke leefwêreld van dié sosiale vlinder het ’n donker kant gehad, en nou bevind Ghislaine Maxwell haar in die middel van ’n saak wat die ongure bedrywighede van New York se rykes en beroemdes oopgevlek het.

Die 57-jarige Ghislaine het ’n hele rits vrae om te beantwoord ná die dood van haar eertydse kêrel Jeffrey Epstein (66). Die liggaam van dié gevalle finansier is onlangs in sy tronksel in New York aangetref nadat hy hom opgehang het terwyl hy op aanklagte van seks­handel verhoorafwagtend was.

Terwyl sy beweerde slagoffers op geregtigheid aandring, word Ghislaine daarvan beskuldig dat sy die “madame” was wat meisies vir die vermeende pedofiel gewerf het.

Die verdoemendste bewerings word saamgevat in hofstukke wat onlangs beskikbaar gestel is en verband hou met ’n siviele geding wat een van Epstein se beweerde slagoffers, Virginia Giuffre, in 2015 teen hom van stapel gestuur het.

Virginia Giuffre beskuldig Ghislaine daarvan dat s
Virginia Giuffre beskuldig Ghislaine daarvan dat sy haar gewerf het. Foto: Gallo Images/Getty Images

Virginia beweer Ghislaine het haar gewerf toe sy as ’n kleedkamerassistent by Donald Trump se Mar-a-Lago-klub in Florida gewerk het – nie ver van Epstein se huis in Palm Beach nie.

Hul lewe het om seks gedraai. Hulle noem masserings seks. Hulle noem modelwerk seks.

Sy sê sy was net 15 toe sy opgelei is om tot drie keer per dag vir Epstein erotiese masserings te gee en is ook aan ander mans “uitgedeel”.

“My lewe het daarom gedraai om dié mans te bevredig en Ghislaine en Jeffrey gelukkig te hou,” sê Virginia.

“Hul lewe het om seks gedraai. Hulle noem masserings seks. Hulle noem modelwerk seks.”

Virginia se pa, Sky Roberts, is woedend dat Ghislaine nie vasgekeer is nie.

“Maxwell moet ook die skuld hiervoor kry,” het hy aan die Daily Mail gesê.

“Sy was al een wat na die klub gekom en hierdie jong meisies ontmoet het. Die owerhede moet haar jag. Maxwell weet alles. Sy is die sleutel tot alles.”

Virginia by haar pa, Sky Roberts. Foto: Collect
Virginia by haar pa, Sky Roberts. Foto: Collect

Maar Ghislaine het verdwyn. Luidens sommige berigte kruip sy in Florida weg terwyl ander beweer sy voer ’n rykmansbestaan iewers in Europa.

Dié wat haar ken, sê sy’s moontlik net soveel van ’n Houdini soos Epstein.

Intussen berig die Daily Mail sy kruip weg in ’n afgeleë strandhuis van R46 miljoen in Manchester-by-the-Sea in Massachusetts. Sy woon glo daar saam met haar nuwe kêrel, Scott Borgerson (43), die hoof van ’n tegnomaatskappy wat sy vrou en kinders glo vir Ghislaine gelos het.

“Dié wat haar ken, sê sy’s moontlik net soveel van ’n Houdini soos Epstein,” berig Vanity Fair.

“Albei was mal oor geheime en hoe dit mense in die duister hou.”

Dit was die dood van ’n ander magtige man, haar pa, wat Ghislaine in New York laat beland het.

Dié sosiale vlinder, wat aan die Universiteit van Oxford studeer het, was die negende kind van die Britse mediamagnaat Robert Maxwell en sy vrou, Betty. Sy was haar pa se oogappel; hy’t sy seiljag, Lady Ghislaine, na haar genoem.

Ghislaine saam met haar pa, die mediamagnaat Rober
Ghislaine saam met haar pa, die mediamagnaat Robert Maxwell, wat in 1991 op ’n geheimsin­nige manier dood is. Foto: Gallo Images/Getty Images

In 1991, toe Ghislaine 29 was, is haar pa se liggaam in die Atlantiese Oseaan aangetref nadat hy naby die Kanariese Eilande oorboord van die Lady Ghislaine geval het. Daar is beslis hy het per ongeluk verdrink, maar toe dit rugbaar word dat Robert se sakeryk in duie gestort het, het die agterdog oor sy dood toegeneem.

“Ek dink hy is vermoor,” het Ghislaine jare later aan die tydskrif Hello! gesê.

Robert se dood het Mirror Group Newspapers in ’n finansiële chaos gedompel nadat dit aan die lig gekom het R2,24 miljard het uit die koerantgroep se pensioenfonds verdwyn.

Ghislaine het van die skandaal gevlug en haar broers, Kevin en Ian, met die gebakte pere agtergelaat. Sy het op ’n Concorde na New York geklim, waar haar Britse aksent en bande met hoëlui vir haar ’n paspoort tot Manhattan se glansryke kringe was.

Jeffrey en Ghislaine was ’n ruk lank in ’n verhoud
Jeffrey en Ghislaine was ’n ruk lank in ’n verhouding en is op goeie voet uitmekaar. Hulle was sedertdien boesemvriende. Foto: Gallo Images/Getty Images

Hier het sy en Epstein mekaar ontmoet, en hy het Ghislaine onder sy vlerk geneem. Hulle was ’n ruk lank in ’n romantiese verhouding en het goeie vriende gebly toe die verhouding doodloop.

Prins Andrew

Ghislaine het hom aan bekendes soos prins Andrew en Naomi Campbell voorgestel, en met haar sjarme het sy Donald Trump en die Clintons bekoor.

Op ’n berugte foto van prins Andrew met sy arm om Virginia se kaal middel is ’n glimlaggende Ghislaine op die agter­grond sigbaar.

Prins Andrew en Virginia met Ghislaine op die agte
Prins Andrew en Virginia met Ghislaine op die agtergrond. Foto: Collect

Ghislaine het volgens ’n werknemer haar “die dame van die huis” gemaak in Epstein se woonplek in Palm Beach.

“Jeff het haar ingeneem, en sy het dinge bekyk en besef sy kon die leefstyl weer terugkry wat sy verloor het – en wat ’n leefstyl was dit nie,” sê ’n vriend.

“Sy kon weer doen net wat sy wil. Voorheen het haar pa betaal. Nou was dit dié ou. Dit het haar vrye teuels gegee om haarself te wees. Sy kon haar eie ding doen en ’n maltrap-vrygees wees.”

Jy sal baie geld maak, almal ontmoet, en ek sal jou lewe verander.

Ghislaine het in die 1990’s oor naweke haar rolskaatse na Epstein se Karibiese eiland laat koerier en haar helikopter­lisensie gekry sodat sy enigeen na die eiland kon vlieg.

‘Hulle is niks. Hulle is gemors’

’n Bron na aan Ghislaine het aan Vanity Fair gesê sy het openlik gepraat oor hoe sy meisies vir Epstein werf, en die bron het beskryf hoe sy glo na spa’s en woonwaparke gery het om hulle te kry.

Sy het glo gesê sy het telefoonwerk vir hulle en hulle beloof: “Jy sal baie geld maak, almal ontmoet, en ek sal jou lewe verander.”

“Ghislaine was lief vir Jeffrey op dieselfde manier as wat sy vir haar pa lief was,” vertel die bron.

“Sy’t altyd gedink as sy nog een ding doen om hom tevrede te stel, sal hy met haar trou. Toe ek vra wat sy van die meisies dink, het sy gesê: ‘Hulle is niks. Hulle is gemors.’ ”

Waar was die valkoë toe Epstein gesterf het?

Die owerhede probeer nou uitpluis hoe Epstein dit kon regkry om sy eie lewe in die tronk te neem ten spyte daarvan dat hy met ’n valkoog dopgehou moes word om dit te verhoed.

Personeeltekorte by die gevangenis het die skuld vir sy dood gekry nadat die instelling deurgeloop het onder kritiek van die Amerikaanse minister van justisie, William P. Barr.

Albei die twee wagte wat ’n oog moes hou, het dit etlike ure lank nie gedoen nie voor Epstein se liggaam ontdek is, het beamptes aan The New York Times gesê.

’n Hedendaagse geisja van die kapitalisme

Ghislaine Maxwell in 2016: Foto Sylvain Gaboury/Pa
Ghislaine Maxwell in 2016: Foto Sylvain Gaboury/Patrick McMullan via Getty Images

En nou is die persoon wat kan lig werp op sy jare van beweerde seksuele wan­gedrag weg. Selfs toe Epstein in 2008 tronk toe gestuur is nadat hy skuld beken het op ’n prostitusieklag met ’n minder­jarige meisie het Ghislaine eers aangehou om haar hoëprofielbestaan te handhaaf.

Sy het ’n liefdadigheidsorganisasie, The TerraMar Project, begin, die Verenigde Nasies oor oseaniese kwessies toe­gespreek en voortgegaan om saam met hooggeplaastes uit te hang; sy het selfs in 2010 die troue van Chelsea Clinton, Bill en Hillary se dogter, bygewoon.

Sy het selfs in 2010 die troue van Chelsea Clinton
Sy het selfs in 2010 die troue van Chelsea Clinton, Bill en Hillary se dogter, bygewoon. Foto: Gallo Images/Getty Images

Maar namate die bewyse teen Epstein opgestapel het, het Ghislaine ál meer uit die openbare oog onttrek en van haar vriend afstand begin doen, en in 2016 het sy van die sosiale toneel verdwyn.

Ná Epstein se dood het TerraMar aangekondig alle projekte word gestaak. Ghislaine se huis in Manhattan is verkoop, en hoewel sy twee huise in Engeland het, was daar weke lank geen teken van haar nie.

’n Bron wat Ghislaine in die 1990’s geken het, beskryf haar as ’n “hedendaagse geisja van die kapitalisme”.

“Sy bevind haar in ’n domein saam met die rykste mense ter wêreld, en hulle dink hulle is verhewe bo die gereg,” het hy aan The Times gesê.

“Dis ’n wêreld wat wemel van halfkaal meisies in bikini’s, miljoenêrs en luukses, maar dit grens aan die groteske. Jy is nooit seker wat agter geslote deure aangaan nie.”

En nou moet Ghislaine lig werp op presies wat agter dié geslote deure gebeur het . . .

BRONNE: THETIMES.CO.UK, TELEGRAPH.CO.UK, VANITYFAIR.COM, BBC.COM, THEGUARDIAN.COM, TIMESLIVE.CO.ZA, DAILYMAIL.CO.UK
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.