Op die agtergrond hoor jy die driejarige Lloyd se knieserige gekla. “Ek is geseën met nog ’n seun,” vertel sy oor die foon.

Pixie Pretorius,ongeluk,gewigsverlies
Die motorwrak waarin Pixie vasgepen was. Foto: Verskaf

Sy onthou hoe sy in 2006 in ’n hospitaal in Garankuwa wakker geword het terwyl dokters besig was om haar gesig toe te werk. “En elke keer wil ek net weet of my kleintjie oukei is,” vertel sy.

Sy was vyf maande swanger, maar die ongeluk het haar ongebore babadogtertjie geeïs. Haar seun Brandon (toe vier) het die ongeluk – ’n kop-aan-kop botsing in ’n afrit tussen Rustenburg en Pretoria – wonderbaarlik oorleef.

"Ek raak hartseer as ek sien hoe ander dogtertjies vir hul mammas opdress. Ek sal haar eendag weer by Liewe Jesus sien."

Die ongeluk het Laurika met ’n letsel oor haar voorkop gelaat, dit strek van links oor haar neus tot in die hoek van haar regteroog.

“Ek is heeltyd daarvan bewus. Vir sewe maande was my neus plat. Vergruis. Dit moes weer herstel ná dokters dit gebreek het sodat dit reg kan aangroei.”

Haar regterbeen het die meeste skade opgedoen. Foto: Verskaf
Penne moes ingesit word om die skade te herstel.
Pixie Pretorius,ongeluk,gewigsverlies
Pixie moes vir elf jaar lank op krukke wees om weer ordentlik te leer loop. Foto: Verskaf

Maar die nadraai van die gru-ongeluk het haar nie op 'n hopie, verlam deur selfbejammering, laat sit nie. Die eerste drie maande was sy in ’n rolstoel en vir elf jaar ná die ongeluk moes sy met krukke oor die weg kom. Sy het mettertyd weer met die hulp van net een kruk begin loop.

In dié tyd het sy gewig aangesit, maar sy het stadig maar seker weer begin gim, soos voor die ongeluk. Toe sy weer begin oefen het, het sy 71 kg geweeg – wat oorgewig is vir haar lengte van 1,54 m – en sedertdien het sy 11 kg afgeskud. Sy weeg nou 60 kg, en spog: “Dis meestal spiere."

Sy het nou haar eie gimnasium, Faith and Fitness, in Jeffreysbaai oopgemaak en help haar kliënte die afgelope jaar om met oefening uit moeilike situasies weer voluit te begin lewe, soos wat sy gedoen het.

“Oefening is terapeuties,” meen sy. Weens die ongeluk is haar regterbeen 5 cm korter as die ander een en dit het haar laat mank loop. Sy dra nou opgeboude skoene hiervoor.

“As ek my beenspiere oefen, help dit om my reguit te laat loop en om die belyning van my liggaam reg te kry.

“Om weer te oefen, herstel my selfvertroue. Vroue voel sleg oor hulself en dan ooreet hulle. Baie van my kliënte maak oop oor hul probleme.

"Ons werk nie net aan die uiterlike nie, maar ook aan die innerlike. Daarom is my klein ateljee se naam Faith and Fitness. Ek wil mense gelukkig maak, dis my doel.”

“Die dokters het destyds voorspel ek gaan nooit weer swanger raak nie en ook nie natuurlik geboorte kan gee nie weens my pelvis wat in die ongeluk op meer as een plek gebreek het. Maar dit het aangegroei en ek het normaal geboorte geskenk aan Lloyd,” vertel sy.

“Hy is een van baie wonderwerkies in my lewe,” vertel Pixie. Sy het die bynaam as tiener gekry omdat sy vir die snaaksigheid graag soos ’n elfie aangetrek het met ‘n spitshoedjie met ’n klokkie en sy het gehou van feetjies.

Pixie Pretorius,ongeluk,gewigsverlies
Pixie het 'n letsel in haar gesig opgedoen weens die ongeluk

“Mens doen mos maar snaakse dinge op daardie ouderdom. My seun is nou ’n tiener en dit verg baie kalmte van my kant op die oomblik,” voeg sy by.

“Dis nog ’n wonderwerk dat Brandon glad nie seergekry het nie en dit was destyds vir hom moeilik, want ek kon hom nie ronddra of saam met hom sokker speel soos voorheen nie.

"Hy moes leer selfstandig wees en my help om goed rond te dra. Ons is nou baie close.”

Pixie het in Carltonville grootgeword en ten tye van die ongeluk het sy by haar pa in Kimberley gebly. Twee jaar gelede het sy Jeffreysbaai toe getrek om naby haar ma te wees.

Pixie het stadig maar seker oefeninge begin doen, selfs toe sy swanger was. Foto: Verskaf
Pixie Pretorius,ongeluk,gewigsverlies
Sy is 'n voorbeeld vir haar kliënte by haar Faith and Fitness-ginmasium op Jeffreysbaai. Foto: Verskaf

Klein Lloyd is deur die dag by die kleuterskool en Pixie is verloof aan sy pappa, Lood Engelbrecht (50)

“Hy is baie ondersteunend en al die afgelope agt jaar aan my sy. Ons het ontmoet toe ek nog op krukke was en operasies moes deurgegaan,” vertel Pixie.

“As ma is ek baie trots op haar. Sy is amazing,” vertel haar ma Jenny James, die ontvangsdame by die Savoy-hotel op Jeffreysbaai.

“Ek glo haar storie is kragtig en kan baie jong mense inspireer, want sy weet hoe dit voel om die laagste laag te bereik.”

As die ongeluk nie gebeur het nie, sou haar lewe slegter uitgedraai het, meen Pixie.

“Ek het nie soos nou ’n pad met die Here geloop nie. Jesus het my tot hier gedra. Ek was baie behep met myself en het die verkeerde goed gedoen.

"Die ongeluk het my wakker geruk.

“As Liewe Jesus my daardie dag gevat het, het ek hel toe gegaan. Hy het my ‘n tweede kans en krag gegee om nie op ’n hopie te gaan sit nie.”