Dit was immers nie net die pandemie en inperking wat hulle uitmekaargehou het nie; dit was ook landsgrense – en dekades sonder mekaar.

Maar in die tyd van covid-19 is so ’n hartlike verwelkoming vir ’n reisiger uit die buiteland ’n onmoontlike droom, en Rouvanne van den Berg moes noodgedwonge nog ’n bietjie wag voor hy eindelik herenig kon word met die vrou wat sy hart reeds dekades gelede gewen het.

Voor Rouvanne (48) en Rhynie Cawood (45) mekaar weer kon sien ná haar terugkeer uit Sydney, Australië, moes sy eers hier op eie bodem twee weke in kwarantyn deurbring.

Rhynie en ander passasiers op die KLM-repatriasievlug wat op Vrydag 17 Julie om 23:55 op die Kaapstadse Internasionale Lughawe geland het, is dus dadelik onder polisiebegeleiding na ’n hotel in die Kaapse stadskom geneem.

“Ek moes myself beteuel,” sê Rouvanne, ’n brandbestryder van die stad.

“Ek wou die aandklokreël verbreek en met my banier agter die bus aanjaag om haar net ’n paar minute lank weer in lewende lywe te sien.”

Op die banier waarvan hy praat, staan groot geskryf: “I YOU”.

Toe maak hy ’n ander plan en gaan sit oorkant die Park Inn-hotel sodat Rhynie hom en daardie liefdesverklaring uit haar kwarantynkamervenster kan sien.

Sedert haar aankoms in die land kom hy nou elke dag twee keer – om 10:00 en weer om 16:00 – in wind en weer hierheen om met ’n selfoon teen die oor en op sy opvoustoel so op ’n afstand by haar te kuier.

Rouvanne waai vir sy geliefde. Foto: Misha Jordaan
Rouvanne waai vir sy geliefde. Foto: Misha Jordaan

Want nie eens die coronavirus kon die twee verliefdes keer om eindelik saam aan ’n nuwe lewe te begin bou ná ’n skeiding van meer as twee dekades en duisende kilometers nie . . .

Hul paaie het in die vroeë 1990’s by die V&A Waterfront, net ’n hanetree van hier, die eerste keer gekruis.

By die toe nog splinternuwe ontwikkeling neffens die hawe in Tafelbaai het ’n karnavalatmosfeer geheers, met musikante, dansers en mimiekkunstenaars wat verbygangers vermaak.

“Ek was ’n mimic en nie ’n mime wat ’n storie vertel nie,” beskryf Rouvanne sy eertydse nering.

“Ek was daai een wat my vingers in jou neus gedruk het en nageboots het hoe mense daar loop en optree. Niemand het my geklap nie, want ek was te vinnig,” spot hy.

Rhynie was ’n kelnerin by die koffiekroeg waar hy elke keer ná sy manewales verklee en sy gesigverf afgewas het, vertel hy hier voor haar hotel in die Heerengracht, waar hy vandag – die laaste dag van haar kwarantyn – weer kom sit het.

Sy selfoon is op luidspreker gestel en Rhynie gesels saam van die vensterbank van haar kamer af.

Hy waai vir haar en sy waai uitbundig terug.

Die hotel waar Rhynie in kwarantyn was. Foto: Mish
Die hotel waar Rhynie in kwarantyn was. Foto: Misha Jordaan

“My tyd as mimic help my om meer animated met my arms en my lyf met haar te gesels,” lag hy.

“Ek het gedink hy is oulik,” vertel sy van daardie sorgelose tyd in hul jeug.

“Ons het baie saam uitgehang,” onthou Rouvanne.

“Ek het gewag tot sy klaar gewerk het en vir haar ’n lift huis toe gegee. Ek het toe al ’n crush op haar gehad. Maar ons albei het partners gehad,” erken hy.

“Ek het die kans gekry om oorsee te gaan en het dit met albei hande aangegryp,” kom haar stem oor die foon.

Dit was in 1993.

Deur die jare het hulle kontak behou – eers het hulle vir mekaar briewe geskryf en later op Facebook gekommunikeer.

Albei het later getrou.

Rouvanne het pa geword van twee seuns, en Rhynie die ma van ’n seun en ’n dogter.

“In 2010 het sy vir haar ma kom kuier,” vertel Rouvanne.

“Ons het toe amper gesoen, maar het nie. Ek het met my lewe aangegaan en sy met hare.”

Hy doen vrywilligerswerk as veldbrandbestryder en werk ook vir ’n maatskappy wat spesialiseer in die beheer van wegholveld- en bergbrande soos die een vroeër vanjaar in Du Toitskloof.

Rhynie is deesdae ’n vryskuttekstielontwerper wat aanlyn werk, op die oomblik vir ’n Amerikaanse boetiek met takke in Miami en Costa Mesa.

Toe sy verlede jaar weer in Kaapstad kom kuier het, het hulle besluit hulle wil nie weer byna ’n dekade lank wag om mekaar te sien nie.

En dit was toe dat hulle van ’n lewe saam begin droom het.

“Rhynie het besluit om terug te kom Suid-Afrika toe,” vertel Rouvanne en glimlag breed.

“Ek het nie my eie familie daar oorkant gehad nie. En dit was baie moeilik,” erken sy.

“Ek weet my kinders gaan my mis, maar hulle is baie selfstandig.”

Haar dogter, Keya (23), werk vir die Amerikaanse rolprentvervaardigers Marvel Studios in Sydney en haar seun, Flynn (18), is ’n student in elektriese ingenieurswese, ook in Sydney.

Rouvanne se seuns, Jasper (20), wat bedryfswetenskap aan ’n kollege in Kaapstad studeer, en Kai (17), ’n gr. 11-leerder aan die Hoërskool Kampsbaai, woon by hom.

“Hulle is almal baie opgewonde oor ons,” sê Rouvanne.

Hul nuwe lewe saam in Suid-Afrika sou in Mei begin het.

Rhynie se kaartjie was klaar bespreek toe die covid-19-pandemie die wêreld tref. Weer was dit onmoontlik om saam te wees.

Sy moes drie maande vir ’n repatriasie-vlug Suid-Afrika toe wag.

Maar eindelik kon sy via Doebai eers Amsterdam toe vlieg, waar sy twee dae lank gekuier het by Rouvanne se pa, wat daar woon.

“Hy is ’n baie goeie kok,” vertel sy.

Hy het haar op Nederlandse lekkernye soos bitterballen en hachée, ’n beesvleis-en- uie-stowegereg, trakteer.

En toe neem sy haar plek in op die vlug na Suid-Afrika en terug na Rouvanne.

Ook Rouvanne ken sy storie agter die kospotte en kom nou elke dag vir haar tuisgemaakte kos by die hotel aflewer.

“Ek wil net jou arms om my hê,” klink Rhynie se stem nou oor sy selfoon op.

Op die skerm is ’n foto van haar en ’n klok wat die tyd aftel tot hulle weer saam kan wees: 20 uur, 4 minute, 12 sekondes . . .

“Dit klink mos baie beter as 14 dae,” merk hy op. “Kyk hoe lyk my arme banier van die Kaapse weer trotseer.”

Hy kuier minstens ’n uur op ’n slag hier by haar.

“Maar wanneer dit so koud raak dat ek nie meer my tone en vingers kan voel nie en die banier uitmekaar begin skeur, weet ek dis tyd om huis toe te gaan.”

Maar vanaand is die laaste aand dat hy alleen huis toe gaan . . .

Nog voor die son die volgende oggend die see daar oorkant by die Kaapse hawe in ’n rooi gloed baai, is die wagtyd eindelik vir Rouvanne en Rhynie verby.

Om 05:52 op Vrydag 31 Julie klingel sy foon.

“Sy is op pad,” roep hy uit en vryf sy hande soos ’n seuntjie wat op sy Kersgeskenk wag.

Toe die glasdeure by die hotel se ontvangs ’n paar sekondes later oopswaai, los Rhynie haar bagasie op die plek en kom op ’n drafstap na Rouvanne toe.

Hulle soen mekaar hartstogtelik, verstrengel in mekaar se arms.

Ná dekades se struikelblokke moes die paartjie nóg
Ná dekades se struikelblokke moes die paartjie nóg twee weke wag voor hulle mekaar kon soen. Foto: Misha Jordaan

Eindelik, ná al die lang jare, kan hulle ’n paartjie wees. Hul liefdesverhaal het sowaar tyd, afstand en kwarantyn oorleef – en nie eens ’n pandemie kon hulle meer van mekaar skei nie.

Toe hulle mekaar ná etlike minute los, sug albei hoorbaar.

Eindelik.

’n Portier het reeds Rhynie se tasse agter in Rouvanne se motor gepak.

“Al die gesit in die pad was die moeite werd,” sê hy. “As dit nie vir sy daaglikse besoeke hier onder was nie, sou dit baie moeiliker gewees het,” voeg Rhynie by.

Nou sal hulle saam teen die hange van Duiwelspiek kan nesskop, vertel die twee.

Ná dekades se struikelblokke moes die paartjie nóg
Ná dekades se struikelblokke moes die paartjie nóg twee weke wag voor hulle mekaar kon soen. Foto: Misha Jordaan

Rhynie strek haar bene.

“Ek is gesond en virusvry. Ek het nou ’n stappie nodig.” Vandag gaan hulle pizza eet, kondig Rouvanne aan. “Niks kosmakery nie en vir eers is dit net ek en jy,” voeg hy met ’n glimlag by.

Dan trek hulle weg met Stevie Wonder se “All I Do” wat oor die CD-speler speel: All I do, oh baby, is think about you . . . 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.