“Ons het ontmoet by ’n kuier by sy ouers se huis in Roodepoort (Gauteng) in 1994. Ons het gedans en so lekker gesels. Tommy het baie van my gehou en gevra of ons kan kys. Ons het so vier maande uitgegaan, maar toe moes ek weggaan vir verplegingopleiding,” vertel Sonet.

Vir jare het hulle geen kontak gehad nie.

Foto: Verskaf
Die foto is in 1994 geneem. Links agter sit Tommy en Sonet langs hom in die middel saam vriende.

Tog het hul lewe baie eenderse draaie gemaak. Hulle albei is vir die eerste keer in 1996 getroud en hul eerste en tweede kinders is ook in dieselfde jare gebore.

Dié huwelike het ook in dieselfde jaar op die rotse beland.

“Ek het af en toe gewonder wat van Tommy geword het. Ek het soms in Roodepoort gery en aan hom gedink, maar ek kon nie onthou waar sy ouers se huis was nie,” vertel Sonet.

Tommy se tweede vrou is in 2015 aan kanker oorlede en Sonet se tweede huwelik het in dieselfde tyd op die rotse beland. Toé kry sy einde 2016 ’n boodskap op Facebook wat haar hart sommer vinniger laat klop het.

Foto: Verskaf
Die boodskap wat Sonet van Tommy gekry het in 2017.
 

Tommy vertel hy het aanhou probeer om Sonet te oortuig om koffie te gaan drink.

“Sy wou eers niks weet nie. Sy het te seer gekry in haar laaste huwelik, maar toe koop ek een van haar CD’s en stuur vir haar die bewys van betaling, toe moés sy die CD by my kom aflaai,” vertel Tommy.

Sonet het al die jare in bemarking gewerk, maar is ook ’n platejoggie en sanger.

“Ek was baie versigtig aan die begin. Ek was so bang Tommy is nie opreg nie, maar na ’n paar maande het ek en my twee kinders (toe 16 en 19) by Tommy ingetrek in die einste huis waar ons soveel jare terug ontmoet het,” vertel Sonet, en jy hoor sommer hoe sy oor die foon glimlag.

Sonet en Tommy is in November 2019 getroud. Vandag is Sonet 46 jaar oud en Tommy 45.

“Dit was ’n klein troue en Tommy het die gaste ’n poets gebak. Toe ek instap, toe stap hy agter by die kerk uit . . . maar toe kom hy terug met ’n visstok en maak of hy my in katrol.

Foto: Verskaf
Tommy tydens hulle troue.

Op hul troue het Sonet vir Tommy ’n liedjie gesing wat sy spesiaal vir hom geskryf het

“My kinders is mal oor Tommy. Sy kinders woon by hul ma en ons respekteer mekaar. My kinders sê ek is eindelik by die man wat die Here vir my gegee het,” vertel Sonet.

Tog sê albei van hulle hulle is nie spyt dat hul paaie eers soveel jaar later weer gekruis het nie.

“Ons albei moes ons paadjie stap. Ons het lesse geleer en ons het as beter mense aan die anderkant uitgekom,” sê Tommy.

Sonet stem saam.

“Ek ken nie ’n beter man as hy nie. Hy gee net soveel om. Ek sal sê ‘sjoe, ek kry koud’ en dan gaan haal hy vir my my japon. Ek het die man baie lief,” sê sy.

Foto: Verskaf
Tommy en Sonet.
Foto: Verskaf
Tommy en Sonet.

Tommy sê dit is ook Sonet se omgeehart wat hom so lief maak vir haar. “Sy kan nie verby iemand loop wat sukkel nie. As sy nie iets gee nie, dan gee sy ’n woordjie van bemoediging.

“Ek het altyd gewonder wat van Sonet Pienaar geword het. Ek dink ek was maar nog al die jare mal oor haar gewees en toe vind ons mekaar weer.”

Die paartjie het vroeër vanjaar hul eie besigheid begin, Tonet Consulting, wat spesialiseer in konsepte vir advertensies en die skiet van dié advertensies.

Terwyl Huisgenoot telefonies met die paartjie gesels, sit Sonet, Tommy en sy pa, Piet Shield, op die stoep van die Roodepoort-huis waar Tommy en Sonet al die jare gelede ontmoet het.

Piet bly in ’n woonstel op die eiendom nadat sy vrou, Emma ’n ruk gelede oorlede is.

“Dit is vir my mooi dat ons nou hiér bly. Dis ons eie liefdesnessie met jare se herinneringe, maar ook nuwes wat ons nou maak.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.