Die driejarige Ntandokazi Matikane het een Dinsdagmiddag in Mei in haar gesin se agterplaas in Protea Glen, Johannesburg, gespeel toe sy van kop tot tone met sand bedek is.

Selfs nadat haar ma, Makhotso Matikane (29), die kleinding se hare talle kere gewas het, het daar ’n hardnekkige vlek op haar kopvel agtergebly. Haar ouers het weke later, vroeg in Julie, ontdek hul dogter het ’n infeksie aan haar kopvel opgedoen weens parasiete in die sand.

Makhotso het toe besluit om al haar dogter se hare af te skeer om die infeksie behoorlik te behandel. Maar die res van die familie wou niks hoor nie. 

“Almal het gesê: ‘Kan jy nie iets anders doen nie?’” vertel Makhotso in ’n video-oproep.

“Haar pa, Nkululeko Mahlangu (29), en oumas was baie bekommerd oor hoe sy dit sou hanteer met dié dat dit winter is.”

Voor sy dus die hare afgeskeer het, het Makhotso aan haar dogter verduidelik wat sy gaan doen.

“Sy het verstaan en was baie kalm; sy het nie gehuil nie. En toe ek agterna ’n spieël gaan haal, was sy so opgewonde.

Sy het gesê: ‘Sjoe, dis iets nuuts. Ek lyk so mooi. Ek lyk soos ’n seuntjie. Sy het glad nie kop verloor daaroor soos die familie gedink het sy sou nie,” sê die trotse ma.

Makhotso het as ’n verrassing vir die familie ’n video gemaak van Ntandokazi wat sê: “Ek het ’n verrassing vir julle.” Sy pluk dan die wolmussie op haar kop af en laat hoor met trots: “Ta-da! Is julle mal daaroor?”

View this post on Instagram

My love and I ??????

A post shared by Makhotso Matikane (@_makhotso) on

Die kleinding se tante, Mmamosa Mmola, sê dikwels so wanneer sy vir haar ’n geskenkie bring.

Die video het intussen vir Twitter aan die gons.

“Ons het beurtkrag daardie dag gehad en my foon was af toe dit begin versprei. My vriende het my later gebel om te sê almal gons oor my kind, en ek was so oorweldig dat ek begin bewe het. Ek het toe my foon vir ’n ruk afgeskakel, want dit was baie om te verwerk,” sê Makhotso.

“Ek is nie gewoond aan soveel sosialemedia-aktiwiteit nie. Ek het gewonder of ek veronderstel is om iets te sê?”

Sy sê Ntandokazi kom met almal oor die weg. Sy bekoor mense met haar borrelende en liefdevolle geaardheid. Maar hoewel Makhotso gevlei voel dat haar dogter ’n internetsensasie geword het, beplan sy nie om haar kind op enige ander platform te plaas nie.

“Mense het al dikwels gesê ek moet haar modelwerk laat doen, want sy is nie skaam nie en fotogenies. Ek is skepties daaroor, veral oor die bedryf. En sy is net ’n klein dogtertjie. Ek wil nie hê sy moet uitgebuit word nie, ek wil hê sy moet net ’n kind wees.

“Ek wil nie hê haar normale daaglikse lewe moet verander nie, of dat sy moet optree of voel sy moet heeltyd ’n rol speel of iets oulik sê vir aandag nie. En haar pa voel dieselfde daaroor.”

Ntandokazi se pa, Nkuli, was ook verstom met hoeveel aandag die video in die sosiale media gekry het.

“Hy dink ons moet versigtig wees dat niemand die situasie uitbuit nie,” sê Makhotso. “Hoewel dit wonderlik is, is hy nes ek en ons dogter se veiligheid kom eerste. Ons wil haar beskerm.”

Bowenal, sê Makhotso, is sy opgewonde dat haar dogter ’n interessante storie het om te vertel wanneer sy terugkeer skool toe.