Kajal Hari is vir drie jaar in remissie.
Kajal Hari is vir drie jaar in remissie. Foto: Verskaf

Ná maande van intense behandeling is Kajal nou eindelik twee jaar later kankervry. Haar ma, Judy Hari, sê om kanker te klop het Kajal (5) verander.

Die meisietjie, wat eens verskriklik skaam was, is nou borrelend en vol lewe. Judy wil haar dogter se ervaring deel om vir ander hoop te gee.

“Laat in Desember 2017 het ek opgemerk Kajal se urine is ’n bietjie bloederig, soos ’n oranje kleur. Ek ly taamlik dikwels aan unrienweginfeksies en gedink sy het dalk dieselfde probleem. Ek het haar met bosbessiesap behandel en sy was die volgende dag piekfyn. 

In Januarie 2018 het ek weer bloed in haar urine gesien. Ons het op Nuwejaarsdag by ’n waterpark in Johannesburg gaan swem en ek het gedink die chloor in die water het die urienweginfeksie erger gemaak.

Ek het haar na ’n huisdokter geneem en gehoor sy het ’n urienweginfeksie, maar die dokter wou haar ook vir nog toetse stuur. Ons is na ’n pediater verwys wat ’n groot knop aan die regterkant van haar maag gevind het.

Sy het Wilms se tumor vermoed, ’n seldsame nierkanker wat gewoonlik kinders aantas. Wilms se tumor is die algemeenste nierkanker onder kinders, maar ons het nooit van die kanker gehoor nie en jy kan jou net voorstel wat deur ons gedagtes gegaan het.

Kajal saam het haar ma, Judy Hari, nadat sy in die
Kajal saam het haar ma, Judy Hari, nadat sy in die hospitaal opgeneem is. Foto: Verskaf

Kajal is in die Life Fourways-hospitaal in Johannesburg opgeneem vir nog toetse. Ons is na ’n onkoloog by die Wits Donald Gordon-mediesesentrum in Johannesburg gestuur, wat die diagnose bevestig het. 

Kajal het met agt weke se chemoterapie begin. Teen week ses het sy uiters siek geword. Sy het ’n koors gehad en wou niks eet of drink nie. Toetse het later getoon haar lewer het ophou werk nadat die chemoterapie dit beskadig het.

Die beskadigde lewer het swelling in haar maag veroorsaak, want sy kon nie vloeistowwe uitskei nie. Kajal is in die pediatriese waaksaal opgeneem en teen die einde van die week het sy almal verbaas. 

Sy het regop gesit en geëet en gedrink, maar sy was steeds baie siek. Die onkoloog het vir ons gesê ons het haar daardie week amper verloor weens haar lewer.

Al was die dokters verplig om die chemo te staak, het die behandeling steeds gewerk. ’n Skandering het getoon die chemo het die gewas heeltemal vernietig.

Die volgende stap was ’n operasie van twee uur in Maart 2018 waartydens dokters haar regternier verwyder het. Sy was weer vir ’n paar dae in die waaksaal en is toe na ’n gewone saal verskuif. 

Kajal vier haar derde verjaardag en laaste dag van
Kajal vier haar derde verjaardag en laaste dag van chemoterapie. Foto: Verskaf

Die chirurgie het op ’n Dinsdag plaasgevind en teen die Sondag is sy ontslaan. Toetsuitslae van die hospitaal het getoon die gewas is vernietig. Al het die kanker nie versprei nie, het Kajal se behandeling nog 27 weke van chemo ingesluit.  

Sy het nie vir bestraling gegaan nie, want die dokters was bekommerd oor haar beskadigde lewer. Haar laaste chemobehandeling was op 28 Oktober 2018. Op 2 Desember het haar CT-skandering geen teken van kanker getoon nie. Verlede maand het nog ’n ondersoek getoon sy is kankervry. 

Kajal is dus al vir twee jaar en drie maande in remissie.

Baie het sedert die diagnose verander – sy het ontluik van ’n skaam kleuter wat met niemand wou praat nie, in ’n borrelende meisie wat vol lewe is. 

Kajal het die kans gekry om haar vyfde Kersfees sa
Kajal het die kans gekry om haar vyfde Kersfees saam met familie te vier. Van links bo is Pa Niren en haar grootouers. Van links onder is haar ouboet, Donovan, ma Judy en Kajal. Foto: Verskaf

Sy het vanjaar met gr. R begin en is absoluut dol daaroor. Op haar eerste dag het ek en my man haar by die skool afgelaai en sy was so opgewonde sy het vergeet om vir haar pa ’n totsiens-drukkie te gee. 

Kajal is nog bang om haarbykomstighede in haar hare te sit, want sy is bekommerd haar hare gaan uitval – maar dis die enigste negatiewe ding wat haar bygebly het.”

Meer oor Wilms se tumor

Wilms se tumor is ’n seldsame nierkanker wat hoofsaaklik kinders aantas. Dit staan ook as nefroblastoom bekend en is die algemeenste nierkanker onder kinders.

Wilms se tumor raak dikwels kinders van drie tot vier jaar oud en word veel minder algemeen ná vyfjarige ouderdom.

Die simptome sluit in:

  • Koors
  • Bloed in urine
  • Buikswelling
  • Braking of naarheid of albei
  • Hardlywigheid
  • Verlies aan eetlus 
  • Kortasemrigheid

Die behandeling sluit gewoonlik chirurgie en chemoterapie in.

Ekstra bronne: mayoclinic.org