Bianca Goodson het vanjaar voor die Zondo-kommissi
Bianca Goodson het vanjaar voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping getuig. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Sy het alles in die lewe gehad wat sy ooit begeer het: ’n liefdevolle man en dogter, ’n werk waarmee sy ’n goeie inkomste verdien en ’n gerieflike huis in ’n gegoede buurt in Johannesburg.

Maar haar lewe het in duie gestort nadat sy die dapper besluit geneem het om ’n fluitjieblaser oor staatskaping te word.

As voormalige uitvoerende hoof van Trillian Management Consulting (TMC) het Bianca Goodson ’n belangrike rol gespeel in die onthullings oor hoe die firma wat bande met die berugte Gupta-broers gehad het homself verryk het.

Honderdmiljoene rande van belastingbetalers se geld het daarheen gevloei nadat hulle bedenklike kontrakte met staatsbeheerde ondernemings soos Eskom en Transnet aangegaan het.

Bianca (41) was destyds oortuig dis die regte ding om die sluier oor die ongerymdhede te lig, maar min het sy geweet hoe dit haar eie lewe sou verwoes.

Al is sy as ’n heldin beskou omdat sy die geknoei aan die groot klok gehang het, ly sy nou, vier jaar later, steeds onder die nagevolge daarvan.

Salim Essa, die mede-eienaar van Trillian Manageme
Salim Essa, die mede-eienaar van Trillian Management Consulting, is bekend vir sy bande met die Gupta-broers Atul en Ajay. Foto: Argief.

Sy sê die gebeure het haar huwelik laat verbrokkel en dit vir haar onmoontlik gemaak om ’n ander werk te kry.

Sy oorweeg dit selfs om by haar bejaarde ouers in te trek, want sy weet nie hoe lank sy nog ’n dak oor haar kop sal kan bekostig nie.

“Ek het nie besef dit sou my werkloos laat nie,” sê Bianca in ’n openhartige onderhoud via ’n video-oproep uit haar tuiste in Fourways, Johannesburg.

Sy erken sy wonder dikwels of sy die regte besluit geneem het om te praat. “Ek het dit nie verwag nie. Ek het eerlikwaar gedink dit sou een of twee weke dol gaan en daarna sou alles oorwaai, maar dit het nie gebeur nie. Niemand het dit sien kom nie.

“Is ek van my sinne beroof? Is ek dom? Is ek nie dapper nie?” vra sy moedeloos. “Ek kan net nie hiervan sin maak nie.”

Sy het gedink sy het haar droomwerk losgeslaan toe sy in Januarie 2016 as die uitvoerende hoof van TMC aangestel is. Maar die nuwe werk het gou in ’n nagmerrie ontaard toe sy dinge opmerk wat die gevaarligte vir haar laat flikker het.

Sy het begin vermoed die firma gebruik sy kontakte om winsgewende kontrakte met staatsbeheerde ondernemings soos Eskom en Transnet te sluit. En dan kontrakteer hulle die werk uit aan ander maatskappye met wie hulle sake doen, soos die konsultasiefirma McKinsey.

Die Gupta-broers Atul en Ajay (links).
Die Gupta-broers Atul en Ajay (links). Foto: Gallo Images/Getty Images.

Maar die syfers wou nie klop nie: Na raming sou TMC en McKinsey binne drie jaar R10 miljard skoon wins uit hul Eskom-kontrakte maak – bloot deur konsultasiewerk te bied.

Bianca, wat voorheen vir Anglo American gewerk het, het lont geruik en was in ’n tweestryd gewikkel oor of sy die fluitjie moes blaas of nie.

Nadat sy by regskenners aangeklop het, het sy eindelik die moed bymekaargeskraap om die inligting openbaar te maak.

Sy is daarna as getuie geroep tydens ’n parlementêre ondersoek in 2017, en sy het ook vroeër vanjaar voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping getuig.

Dis grootliks danksy haar pogings dat McKinsey op die ou end ingestem het om R1 miljard van die geld terug te gee wat hulle uit Eskom gemaak het. En ’n hof het TMC beveel om R600 miljoen terug te betaal.

Bianca en haar dogter.
Bianca en haar dogter. Foto: Verskaf.

Maar toe Bianca besluit om met die sak patats vorendag te kom, het sy geen benul gehad watter tol dit van haar sou eis nie. Die druk op haar huwelik was so erg dat sy en haar man in 2017 geskei is.

“Sy benadering was: Moenie enigiets doen nie; dit gaan die gesin in gevaar stel. En ek verstaan waarom hy dit gesê het, want ek dink regtig hy was bang,” sê sy.

“Daar was geweldige spanning tussen ons, en dit was ’n groot ding dat ons nie kon saamstem nie. Dit het ’n belangrike rol in ons egskeiding gespeel, want ek dink die trauma was te veel.”

Soveel verhoudings in haar lewe het skade gely omdat sy deurgedruk het met haar besluit om te gaan getuig, sê Bianca.

‘Is ek van my sinne beroof? Ek kan net nie hiervan sin maak nie’

Maar die moeilikste vir haar is dat sy nie meer die vrymoedigheid het om kerk toe te gaan nie.

“My pastore het gesê ek moet niks sê nie; beskerm net jou gesin. Ek was in 2017 laas in die kerk, want dit is net te moeilik vir my om die pastore te sien.”

Toe sy hulp die nodigste gehad het, was sy stoksielalleen – en dit het alles te veel vir haar geword.

“Ek het twee keer probeer selfmoord pleeg,” erken sy. “Ek moes in ’n psigiatriese hospitaal opgeneem word omdat ek gesukkel het om dit alles te verwerk. Niks hiervan maak enige sin nie.”

Ná ’n jaar waarin sy ’n ruskans geneem het om van die gebeure te herstel het sy gereed gevoel om weer te begin werk. Maar nog ’n skok het op Bianca gewag.

Al het sy ’n honneursgraad in fisika, rekenmetodes en rekenaarfisika van die Universiteit van KwaZulu-Natal agter haar naam, wou niemand haar in diens neem nie.

Sy het al “vir meer as 2 000 betrekkings aansoek gedoen” – sonder enige sukses, vertel sy. “Ek dink mense dink ek is ’n moeilikheidmaker, maar niemand sê reguit vir jou waarom hulle jou aansoek verwerp nie.

“Met een werk waarvoor ek aansoek gedoen het, ’n pos as finansiële forensiese ondersoeker, het ek op terugvoer aangedring omdat ek afsluiting nodig gehad het. Hul antwoord was: ‘Jy het ’n te hoë profiel.’ ”

Uit desperaatheid het sy besluit om met haar eie finansiële forensiese onderneming, Millennial Advisory, te begin, maar weer is sy teleurgestel.

“Ek het alles probeer om weer my voete te vind, maar sedert ek die maatskappy in November verlede jaar geregistreer het, het ek nog nie enige werk gekry nie.”

Lauretta en Errol, Bianca se ouers, ondersteun haa
Lauretta en Errol, Bianca se ouers, ondersteun haar deur dik en dun. Foto: Verskaf.

Sonder ’n inkomste is al uitweg om die kleiner huis waarin sy en haar dogter sedert 2018 woon te verkoop en om in Pietermaritzburg by haar ouers, Errol (67) en Lauretta (63), te gaan intrek.

Sy is bekommerd dat sy hulle sal moet vra om haar uit hul spaargeld vir hul aftrede te help om kop bo water te hou.

Sy het al so ver gegaan om ’n BackaBuddy-blad te open waar mense geld kan skenk om haar en ander fluitjieblasers in soortgelyke posisies te help.

“Hierdie skenkings gee my een of twee maande waarin ek nie die huis hoef te verkoop nie. Dis nie ’n langtermynoplossing nie, maar dit gee my kans om ’n bietjie asem te skep,” verduidelik sy.

“Ek het net gedink ek het niks om te verloor deur bekend te maak dat ek hulp nodig het nie. Ek het in elk geval geen trots oor nie en het gedink dit kan nie kwaad doen nie.”

Vyf jaar gelede sou sy haar nooit kon indink dat sy in so ’n wanhopige situasie sou beland nie.

As sy destyds alles geweet het wat sy nou weet, sou sy steeds die fluitjie geblaas het? Of sou sy na almal geluister het wat gesê het sy moet liewer haar oë toeknyp en stilbly?

“Party dae wanneer ek geestelik sterker voel, dink ek ek sal dit sonder twyfel weer doen,” antwoord sy. “En dan is daar dae dat jy op wildvreemdelinge moet staatmaak om jou rekeninge te betaal, en jy sê vir jouself dis nie die moeite werd nie.”

Sy bly ’n oomblik stil. “Maar ek dink steeds ek sou dit weer doen, want om die een of ander simpel rede bly ek hoopvol dat dinge ten goede sal verander.”

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.