Gideon en sy eksvrou, Collette, by hul gevolg op hul troue in Oktober 1993. Foto: Verskaf
Gideon en sy eksvrou, Collette, by hul gevolg op hul troue in Oktober 1993. Foto: Verskaf

Dit was ’n fabelagtige troue met ’n verskil toe die bruidspaar byna 28 jaar gelede voor die kansel gestaan het: Hy uitgevat in ’n spierwit baadjie met ’n goue omboorsel en ’n pofferige kuitbroek en sy stralend in haar trourok met ’n 10 meter lange sleep wat deur prinses Diana s’n geïnspireer is. 

Maar wat die troue van die Johannesburgse paartjie so uitsonderlik gemaak het, was dat Gideon van der Westhuizen (toe 23) sélf agter die naaimasjien ingespring en sy bruid, Collette Rossouw (toe 22), se trourok gemaak het – asook sy eie troupak en hul gevolg se uitrustings, sommer ál vyf strooijonkers en -meisies s’n.

“Dit was ’n pragtige bruid – maar dit was die bruidegom wat almal aan die praat gehad het,” het Huisgenoot in Oktober 1993 geskryf.

Gideon het destyds gehoor hy lyk nes Jan van Riebe
Gideon het destyds gehoor hy lyk nes Jan van Riebeeck in sy spierwit troupak. Foto: Willem de Lange

En nou het die vernuftige bruidegom van destyds weer so gemaak – dié keer om sy enigste seun, Trevennon (25), en sy bruid, Chantall Strydom (23), se droom waar te maak: ’n troue nes sy ouers s’n.

“As kind het ek foto’s gesien van my ouers se sprokiestroue. Ek en Chantall het saam besluit ons wil dit eendag ook so hê. En ek het geweet dat net my pa en ouma dit vir ons ’n werklikheid sou kon maak,” vertel Trevennon, wat in die hotelbedryf werk in Houghton, Johannesburg.

Trevennon en Chantall van der Westhuizen op hul tr
Trevennon en Chantall van der Westhuizen op hul troudag vanjaar. Foto: MH Design and Photography

Ouma Poppie (84) het inderdaad hand bygesit om Gideon (50) met die reusetaak te help. Nie net moes hy sy aanstaande skoondogter se droomrok skep nie; hy moes ook ses strooimeisiesrokke en die ses strooijonkers se onderbaadjies maak. Daarby het hy self die troukoek – ’n vrugtekoek van sewe lae – gebak.

Ouma Poppie se hande staan op 84 nog vir niks verk
Ouma Poppie se hande staan op 84 nog vir niks verkeerd nie. Foto: MH Design and Photography

“Chantall het besluit wat sy vir haar trourok wou hê, en toe het ons gaan sit en beplan,” vertel Gideon kort ná die groot dag by die Makiti-trouvenue naby Muldersdrift in Gauteng.

Aanvanklik het die paartjie beplan om in Mei 2020 te trou, maar weens die coronakrisis moes hulle dit twee keer uitstel, eers na Januarie vanjaar en toe na 3 April.

Dit het meegebring dat die ontwerp van Chantall se rok drie keer verander moes word. Wat eers ’n langmourok vir ’n wintertroue sou wees, is in een met driekwartmoue omskep. Met die tweede uitstel het Gideon weer die skêr ingelê en kapmoutjies geskep wat tot laag op die skouers afskuif.

Op die ou end het hy en sy ma 18 maande lank aan die satyntrourok gewerk met ’n sleep van 8 m lank en 7,5 m breed. Hulle het 2 000 silwer rosies met die hand geverf en dit saam met 50 000 kraletjies en blinkertjies aan die rok vasgewerk. Skoenlapperpatrone van Franse kant wat Trevennon help kies het, is daarop geborduur.

Chantall se rok is versier met borduurwerk van Fra
Chantall se rok is versier met borduurwerk van Franse kant. Foto: MH Design and Photography

Die eindproduk het Chantall, ’n ontvangsdame by ’n promosiemaatskappy in Johannesburg, se asem weggeslaan.

“Elke dogtertjie droom daarvan om soos ’n prinses te lyk as sy trou. En ek het presies soos daardie prinses in my drome op my troudag gelyk,” borrel sy oor.

Maar dis nie elke bruid wat daarmee kan spog dat haar skoonpa eiehandig haar trourok gemaak het nie.

Hy het nog altyd in kleremaak belanggestel, maar daardie vonkie het behoorlik vlam gevat toe Gideon as tiener die ikoniese skepping met sy 25 meter lange sleep gesien het wat prinses Diana op haar troudag in 1981 gedra het.

“Ek het nooit klasse geloop nie en het maar geoefen deur vir my vriendinne rokkies te maak, vertel Gideon.

“Toe sê ek eendag vir my ma: ‘Jong, kom ons gaan koop net ’n hoop materiaal.’ En toe begin ek sny. ’n Vrou sien toe die eerste trourok wat ek gemaak het en koop dit vir R800. Ek was toe maar 16,” onthou hy.

Vandaar was daar geen keer aan sy rokmakery nie. Huisgenoot het destyds vertel hoe Collette voor hul troue by haar ma gekla het: “Gideon is liewer vir die naaimasjien as vir my.” En haar ma, Maureen Grobler, het toe getroos: “Waar gaan jy weer so ’n man kry?”

Die bruidspaar van destyds is intussen geskei. Uit hul huwelik is ook ’n dogter, Amorique (17), gebore.

Gideon onthou steeds die 1993-rok tot in die fynste besonderhede. “Daar was 26 454 pêreltjies daarop, en die sleep was 10 meter lank.”

Collette se sleep was 10m lank. Foto: Verskaf
Collette se sleep was 10m lank. Foto: Verskaf

Deur die jare het Gideon nooit sy naald en gare weggesit nie. Hy het vir ander bruide trourokke gemaak en maak ook dikwels matriekafskeidrokke.

“Ek gesels maar met elkeen wat na my toe kom vir ’n rok en kyk na waarvan sy hou en wat haar geaardheid is. Dit bepaal op die ou end hoe die rok lyk,” sê Gideon. Hy het sewe jaar gelede sy werk as vloerbestuurder by ’n vrugte- en groentemark verloor. Tog beskou hy die kleremakery steeds bloot as ’n stokperdjie.

Chantall se trourok was vir hom die moeilikste van alles om te maak, vertel hy. Sy en Trevennon is al ’n paartjie sedert hul skooldae by die Hoërskool President in Ridgeway, ’n suidelike voorstad van Johannesburg. Gideon het ook al hul uitrustings vir hul matriekafskeide en ander skoolgeleenthede gemaak.

Trevennon, Chantall en Gideon op die paartjie se m
Trevennon, Chantall en Gideon op die paartjie se matriekafskeid. Foto: Verskaf

“Trevennon wou eers hê pienk moes hul troukleur wees, maar toe sê Chantall, nee, ons trou soos jou pa-hulle getrou het,” vertel Gideon trots.

Dit het beteken dat hul gevolg se uitrustings so veelkleurig soos ’n reënboog was. Elk van die ses pare strooimeisies en -jonkers is in ’n ander kleur uitgedos: pienk, groen, geel, oranje, pers en blou.

Trevennon en sy strooijonkers. Agter van links is Kevin Quinton, Trevennon, Sheldon Vaughan en Charl Louw. Voor sit Brandon O’Hanlon, JD Adlam en EJ Kleynhans. Foto: MH Photography and Design

Daarmee het die jong paartjie ’n familietradisie voortgesit, want Gideon en Collette se troue is destyds geïnspireer deur die uitrustings in verskillende kleure van die gevolg by sy ouers se troue.

Chantall en haar strooimeisies. Agter van links is
Chantall en haar strooimeisies. Agter van links is Chantall, Melisa Aslett en Amorique van der Westhuizen. Voor sit Bianca Kleynhans, Elma Lombard, Melony Adlam en Lehané van der Merwe. Foto: MH Design and Photography

Chantall het ook so baie van die kuitlengte rokke van die vyf strooimeisies by ouma Poppie se troue gehou dat sy rokke van dieselfde lengte vir haar strooimeisies wou hê. Hul uitrustings moes ook ’n Victoriaanse invloed toon.

“Die strooimeisies sou eers baadjies gehad het, maar met die veranderende datum het ons toe net vir hulle kantmoue gegee,” vertel Gideon. Vir die strooijonkers het hy elk ’n onderbaadjie in dieselfde kleur gemaak as die rok van die strooimeisie wat hy vergesel, asook ’n bypassende masker.

Elke keer dat die troudatum noodgedwonge verskuif moes word, moes hulle ander planne met die troukoek maak.

“Ons het elke keer ’n paar maande voor die tyd die vrugtekoek gebak, maar toe die troue uitgestel is, het ons dit maar geëet,” lag Gideon. Met die laaste bakslag het hy die koeke maar van Januarie laat lê, en in Maart begin versier, betyds vir die troue in April.

Weens die covid-19-regulasies kon slegs 69 gaste d
Weens die covid-19-regulasies kon slegs 69 gaste die troue bywoon. Foto: MH Design and Photography

Hy en sy ma het ook self vir die gaste geskenkies gemaak – ’n boksie met droëwors vir die mans en een met ’n kers in die vorm van ’n skoen vir die vroue, asook ’n stukkie vrugtekoek. Ook die tafelversierings was hul handewerk – vonkelwynbottels in onderbaadjies en strikdassies getooi soos dié van die strooijonkers en ’n bottel in bruidsgewaad vir die hooftafel.

Die vonkelwynbottels op die tafels is in onderbaad
Die vonkelwynbottels op die tafels is in onderbaadjies en strikdassies getooi soos die van die strooijonkers. Foto: MH Design and Photography
Die vonkelwynbottels op die tafels is in onderbaad
Die vonkelwynbottels op die tafels is in onderbaadjies en strikdassies getooi soos die van die strooijonkers. Foto: MH Design and Photography
Die vonkelwynbottels op die tafels is in onderbaad
Die vonkelwynbottels op die tafels is in onderbaadjies en strikdassies getooi soos die van die strooijonkers. Foto: MH Design and Photography
Die vonkelwynbottels op die tafels is in onderbaad
Die vonkelwynbottels op die tafels is in onderbaadjies en strikdassies getooi soos die van die strooijonkers. Foto: MH Design and Photography

Gideon het tot die troukar bestuur waarin Chantall en haar pa, Johan Strydom, na die seremonie aangery is.

“Ons kon nie wag om alles te sien nie, maar die gewag was die moeite werd,” laat die pasgetroudes weet uit Limpopo waar hulle by ’n oord in die Bosveld wittebrood hou.

“Dit het ons verstom om al die ure se harde werk te kon sien. Van die ontwerp van ons uitnodigings, die kleurvolle tafels met al die handgemaakte geskenkies op en die ongelooflike mooi troukoek tot die insiggewende boodskap van ds. Danie van Niekerk – ons dag was regtig ’n sprokiestroue.”

Die unieke tafelversierings wat Gideon en Poppie s
Die unieke tafelversierings wat Gideon en Poppie self gemaak het. Foto: MH Design and Photography
Die unieke tafelversierings wat Gideon en Poppie s
Die unieke tafelversierings wat Gideon en Poppie self gemaak het. Foto: MH Design and Photography

Intussen is Gideon al aan die beplan vir sy volgende projekte. Eerste op die lys is ’n rok vir Amorique vir haar matriekafskeid vanjaar. En in Oktober trou sy broerskind, Boudine, en natuurlik gaan haar oom Gideon haar rok maak.

In die 28 jaar sedert hy met sy eie bruid se trourok die nuus gehaal het, het hy immers al die kuns vervolmaak om ’n rok so reg na enige bruid se hart op te tower.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.