Kapt. Mavela Masondo, provinsiale polisiewoordvoerder in die provinsie, het die verdagte as Msizi Samuel Nkosi geïdentifiseer.

Nkosi word gesoek in verband met die verdwyning van Wayne Johnson (43) wat op 12 Junie verlede jaar vermoedelik gekaap en ontvoer is. Wayne was die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir die Konferensiebedryf (Saaci) en bestuurder by ’n sake-onderneming in Johannesburg.

Masondo het Maandag aan Huisgenoot gesê ’n lasbrief vir Nkosi se inhegtenisneming is maande gelede uitgereik. 

“Ons kan in hierdie stadium nie meer uitbrei oor sy beweerde betrokkenheid by Wayne se verdwyning nie, maar die polisie vermoed Nkosi dra baie kennis oor wat presies op daardie dag afgespeel het,” sê Masondo.

Vermis
Wayne Johnson het in Junie 2019 spoorloos verdwyn. Foto: Facebook

Kollegas van Wayne het destyds vertel die sakeman het op 12 Junie tydens middagete gou winkels toe gegaan om ’n das te koop vir ’n troue wat hy die daaropvolgende naweek sou bywoon. Wayne het nooit teruggekeer werk toe nie. 

Nadat die sakeman se lewensmaat, Charl Smith, hom daardie selfde aand as vermis by die Rosebank-polisiestasie aangemeld het, het ’n privaatspeurder sy selfoon tot in Thembisa nagespoor waar dit gesmous is. Sy silwer Renault Clio is ook later gevind, maar van Wayne was daar nooit weer sprake nie. 

Verlede week, meer as ’n jaar nadat sy lewensmaat verdwyn het, het ’n hartgebroke Charl nog aan Huisgenoot gesê: “Hoe gaan jy voort? Jy staan soggens op en sê vir jouself: ‘Vandag gaan ek doen wat ek kan’. Jy dink nie aan môre of oormore of weke en maande van nou nie – jy moet elke dag weer daardie selfde krag inspan om jouself te laat aangaan.” 

Wayne en Charl
Hulle het drome gekoester het oor ’n lang lewe saam. Nou is dit alles verpletter. Foto: Verskaf
Wayne en Charl
Charl (voor) en Wayne in gelukkiger dae. Foto: Verskaf

Nkosi is die derde verdagte in die sakeman se verdwyning. Nog twee ander verdagtes is verlede jaar vasgetrek en is van ontvoering aangekla. Albei is steeds in aanhouding in die Johannesburg Sentraal-gevangenis.

Masondo het Maandag ná ’n navraag gesê die polisie het “geen werkrekords” vir Nkosi nie en vermoed dus hy was werkloos.

“Daar is baie inligting wat ons weens die aard van die ondersoek nie in hierdie stadium nie kan deel nie,” sê hy. “Maar dis vir ons belangrik om hierdie man vas te trek – en ons vra daarom die publiek se hulp om ons te kontak indien hulle enigiets van hom weet.”

  • Enigiemand met meer inligting oor die verdagte word gevra om speurder-sersant Mofokeng te skakel by 072 896-3524. Jy kan ook die misdaad-noodlyn bel by 08600 10111.