Uit desperaatheid het haar ouers Facebook, die eienaar van Instagram, probeer oorreed om die identiteit van die mens verantwoordelik vir die plasings bekend te maak.

Maar die sosialemediareus het geweier.

Die gevolg was ’n waterskeidingsaak in die hooggeregshof in Johannesburg waarin sosialemediaprokureurs van buite ons landsgrense aangestel is.

Sosialemediakenners het Facebook gebraai.

Die maatskappy is daarvan beskuldig dat hy ’n “ondeurdringbare vesting” om homself bou terwyl hy net voorgee dat hy gebruikers se regte en veiligheid op die hart dra.

Volgens die bekende aanlyn regskenner Emma Sadleir, wat namens die meisie opgetree het, was daar toe darem wel “vertroulike wendings” ná twee weke van gesprekke tussen die twee partye, wat daartoe gelei het dat die saak teen Facebook laat vaar is.

Sy vertel sy kan nie die besonderhede verskaf nie omdat die meisie minderjarig is, maar dat die saak se uiteinde is wat die gesin wou gehad het.

Maar eers was daar ’n stryd van twee maande wat die gesin honderdduisende rande gekos het – terwyl dit geen tyd of geld moes gekos het nie.

“Dit verg nie ’n breinchirurg om in te sien Facebook moes die inligting gouer oorhandig het nie,” sê Emma.

Selfs ná ’n hofbevel het die tegnoreus Facebook ge
Selfs ná ’n hofbevel het die tegnoreus Facebook geweier om die identiteit van ’n teisteraar op hul platform bekend te maak. Foto: Getty Images/Gallo Images

Die afgryslike dreigemente het van verskeie anonieme rekenings op Instagram gekom.

In grafiese besonderhede is beskryf hoe die meisie seksueel aangerand en vermoor sou word – tensy sy twee weke lank elke dag pornografiese foto’s aan haar afdreiger stuur.

Hofdokumente toon die meisie was bang om skool toe te gaan, want die boodskappe het daarop gedui die plaser of plasers was iemand in haar skool, of selfs in haar klas.

Elke aanlyn rekening waarvandaan die boodskappe gekom het, het die woord “killer” in die gebruikersnaam gehad.

Die plasings het toenemend pervers en ontstellend geraak.

“Moenie bekommerd wees nie; ek sal beskerming dra,” lui een, met klaarblyklike verwysing na verkragting.

“Party van die seuns sal my ook kom help om jou onder beheer te hou as jy my nie gehoorsaam nie.”

In ’n ander een dreig die gebruiker haar met bendeverkragting “sodat ons almal mans kan word. Hoe klink dit? Dan sal ons jou in die dam gooi om die bewyse toe te smeer en jy die visse kan voer.”

Die meisie het haar Instagram-rekening gesluit.

Die gesin van die 13-jarige slagoffer het by die b
Die gesin van die 13-jarige slagoffer het by die bekende aanlyn regskenner Emma Sadleir om hulp aangeklop. Foto: Facebook/The Digital Law Company

Twee dae later het haar ouers Emma aangestel om die identiteit van die skuldige te help vasstel.

Emma het dadelik die polisie se eenheid vir elektroniese misdaadondersoeke gekontak sodat ’n dagvaarding aan Facebook uitgereik kon word om die skuldige te identifiseer.

Maar sy het verneem die proses kon tot ses maande duur.

Intussen het Emma e-pos met ’n “dringende versoek vir identifiserende inligting” aan twee verteenwoordigers van Facebook in Suid-Afrika gestuur.

“Ek het gehoor om Facebook te kontak was nie die beste manier om die saak te bevorder nie,” sê sy.

Die verteenwoordigers het haar aangesê om na die polisie te gaan, en toe sy vir hulle ’n opvolg-e-pos stuur om te verduidelik sy het dit reeds gedoen, het Facebook nie geantwoord nie.

Toe skryf sy ’n aanmaning waarin sy sê dringende siviele stappe sal teen Facebook ingestel word as hulle nie die inligting verskaf nie.

‘Facebook beskerm die misbruiker; nie die gebruiker nie’

’n Suid-Afrikaanse regsfirma het op die aanmaning gereageer, maar volgehou hy tree nie namens Facebook op nie – maar wel “namens ’n plaaslike filiaal van die entiteit”.

Volgens die prokureurs het die filiaal nie die inligting gehad wat Emma gesoek het nie.

Facebook het erken die tiener was op die inligting geregtig, maar het aangevoer hy sou dit net “met behoorlike bediening van ’n geldige regsproses” verskaf.

In leketaal beteken dit Emma moes iemand kry om ’n aansoek met die hand by Facebook se diensagentskap in Sacramento, Kalifornië, af te lewer.

Daarvoor moes sy ’n lid van die staatsbalie van Kalifornië kry.

Dit was ’n duur storie, vertel Emma. Maar die dokumente is vroeg in Julie afgelewer en die saak kon in die hooggeregshof in Johannesburg voortgaan.

In ’n vreemde wending het dieselfde plaaslike regsfirma wat tot in daardie stadium aangevoer het hy tree nie namens Facebook op nie toe wel die maatskappy in die hof verteenwoordig.

“Die regsfirma het kategories verklaar hy tree nie namens Facebook op nie. Toe bestee ons R100 000 om hof toe te gaan om Facebook in Amerika te bedien, net om ’n brief te kry wat sê hulle tree nou namens hulle op,” sê Emma.

“Dit was bloot oneerlike en afstootlike gedrag.”

Selfs nadat die hofdokumente aan hom bedien is, het Facebook ’n kennisgewing van voorneme ingelewer om die aansoek vir die verskaffing van die inligting teen te staan. Maar hulle het later daarteen besluit, en al kan besonderhede nie bekendgemaak word nie, is die gesin tevrede met die uiteinde van die saak.

Terwyl dit ’n verligting is dat die kind nie meer in gevaar verkeer of geteister word nie, was Facebook se stryd om die identiteit van die plaser te weerhou duidelik misplaas, sê Emma.

“My beskouing is dat hulle die misbruiker van die platforms beskerm, en nie die gebruiker nie.

“Afbrekende inhoud kom gewoonlik van anonieme rekenings. Sodra ons kan vasstel wie agter die rekening sit, kan ons regstappe doen, soos om ’n beskermingsbevel aan te vra, ’n interdik te kry of vir laster te dagvaar.”

Maar dit is onmoontlik om dit met Facebook se beperkte insette te doen, voeg sy by. Wanneer ’n rekening geskep word, hou Facebook basiese gebruikersinligting soos die naam, e-posadres, internetprotokol- (IP-)adres en nommer.

In ’n geval waar Facebook weier om die inligting bekend te maak, is dit wel moontlik om ’n forensiese kenner te gebruik om die mens op te spoor, sê Emma.

“Maar dit is baie moeilik.”

En dit is hoekom Facebook na haar mening hul kant moet bring wanneer die situasie dit vereis – veral wanneer ’n minderjarige by die saak betrokke is.

William Bird, direkteur van Media Monitoring Africa, stem saam.

Tegnoreuse moet ’n balans vind tussen die beskerming van gebruikersinligting en die vasvat van oortreders.

“Nie een van ons wil hê die groot tegnomaatskappye moet bloot ons besonderhede uitdeel aan enigiemand wat vra nie,” sê William.

“Maar terselfdertyd is daar duidelik geldige gevalle waar dit in die belang van regverdigheid en etiese gedrag is om dit te oorhandig.” En dié, voeg hy by, was so ’n geval. 

Wat sê Facebook?

’n Woordvoerder vir Facebook sê met alle gevalle van so ’n aard is daar formele regsprosesse wat gevolg moet word om te verseker gebruikersdata word beskerm.

“Ons werk met wetstoepassing en strafregtelike en siviele howe saam, soos ons dwarsdeur hierdie saak gedoen het, om op ’n tydige manier en in ooreenstemming met toepaslike wette, en ons diensvoorwaardes, op formele regsprosesse te reageer,” sê die woordvoerder by navraag in e-pos.

“Ons het meegevoel vir die slagoffer en haar gesin. Daar is geen plek vir teistering of afknouery op ons platforms nie, en dit druis teen ons reëls in.

“Ons het ’n verantwoordelikheid om mense te help veilig hou en dié soort mishandeling te beveg. Ons werk dus nou met plaaslike wetstoepassing saam om sulke gedrag te voorkom.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe