Jannet Rowan (35), wat saam met haar bejaarde ma in Johannesburg woon, het aan Huisgenoot gesê sy het laas in Desember met haar suster, Wendy Alice Rowan, gepraat.

Wendy (37) was in ’n goeie bui toe hulle laas gepraat het, het Jannet gesê. “Die laaste keer toe ek en my ma met haar gepraat het, was met my oorlede pa se verjaardag op 13 Desember,” sê Jannet.

“Sy het piekfyn geklink; daar was niks ongewoons aan die oproep nie.”

Jannet het bekommerd geraak toe sy etlike weke lank nie haar suster in die hande kon kry nie. Sy het Wendy het op 9 Januarie vanjaar as vermis aangemeld in Amanzimtoti, KwaZulu-Natal, waar Wendy ten tyde van haar verdwyning gewoon het.

Wendy het beplan om in Johannesburg by haar ma en suster te kom woon, vertel Jannet.

“Sy het ’n bietjie gesukkel en het in ’n kommune gewoon.”

Wendy het nooit getrou nie en het nie kinders nie.

Eddie de Bruin, ondersoekbeampte van die polisiekantoor op Amanzimtoti, sê hy het verskeie wenke ontvang met bewerings dat Wendy landuit gevlug het of dat haar liggaam gevind is, maar almal was vals.

Jannet sê sy is desperaat om te weet wat met haar suster gebeur het.

“Dit maak nie sin dat iemand net so verdwyn nie.”

  • Enigeen met inligting oor Wendy kan die ondersoekbeampte, Eddie de Bruin, op 031-903-0520 of Jannet Rowanby op 061-088-8889 bel.