“My rugbesering en die ongelooflike 24/7 pyn in my voete laat my nog snaaks loop,” verduidelik sy.

Die skyf tussen haar vierde en vyfde rugwerwels is vergruis, wat die groei van ’n beentjie veroorsaak wat druk teen my rug,” vertel Riekie Greyling (65) uit Midrand oor die foon aan Huisgenoot.

hysbak,ongeluk,Riekie Greyling
Riekie Greyling van Midrand in die hospitaal nadat sy in n hysbak geval het. Foto: Facebook

“Maar ek lewe. Ek is nog hier,” voeg sy by. Riekie se lewe het soos handomkeer verander toe die hysbak in die huis van ’n vriendin, Ansi Buitendag in Midrand, Gauteng, drie en en ’n half meter in die skag afgetuimel het.

My vriende was en is wonderlik met hulle ondersteuning.

Haar hakskene en enkels is vergruis, sy het verskeie rugwerwels asook haar borsbeen, arm en hand gebreek. Sy was 27 dae in die hoësorgeenheid, 83 dae in die ortopetiese eenheid en moes 21 dae rehabilitasie in die hospitaal in Sunninghill ontvang.

Riekie het kort voor die ongeluk ná ’n loopbaan in die media afgetree en het planne gehad om Indië toe te gaan saam met die einste vriendin in wie se hysbak sy geval het.

hysbak,ongeluk,Riekie Greyling
Riekie Greyling is nadat sy met 'n hysbak val, vir twee ure deur die personeel behandel sodat hulle haar kon stabiliseer. Sy kan niks onthou nie. Foto: Verskaf

“Sy voel baie skuldig. Ons praat gereeld daaroor. Ons gaan weer saam reis,” vertel Riekie. Einde Oktober en November hulle en ander vriende Viëtnam toe.

“Dit gaan ’n vreeslike uitdaging vir my wees.

Maar ek wil aan niemand niks bewys nie. Al wat ek weet is dat ek ’n paar treë kan stap. En dan moet hulle maar aangaan en ek sal my eie ding doen tot my voete beter voel.

“Ons gaan ’n bosberaad by Kraaiboskloof hê oor die trippie,” vertel sy opgewonde.

Die Sondag ná die ongeluk sou sy en dieselfde vriende Mosambiek toe gaan om haar verjaardag te vier. Maar dit het ooit gebeur nie.

“My voete het letterlik ontplof,” sê sy.

Die dokters moet haar voete herbou van die enkels tot die brug. Sy het ’n bedseer opgedoen omdat sy so lank in die hospitaal was. 

Sy moes 13 keer narkose kry vir die operasies en wondversorging – dit het ook sy tol geëis. Dit neem sowat drie maande om ten volle van elke narkose te herstel.

Op 30 September verlede jaar het Riekie in die hysbak geklim. Haar vriendin het haar aangeraai om die hysbak pleks van die trappe te gebruik omdat sy longontsteking gehad het. Sy was amper op die tweede verdieping toe die kabel breek.

hysbak,ongeluk,Riekie Greyling
Riekie besig met rehabilitasie in die hospitaal. Foto: Verskaf

Die hysbak is 18 maande tevore geïnstalleer omdat die vriendin ’n heupvervanging gehad het. Volgens die installeerders is die kabel veronderstel om 1 ton te kan optel. Die hysbak weeg net 260 kg.

“Dis nou dit. Ek gaan doodgaan,” het Riekie by haarself gedink toe sy teen 97 km/h grond toe val saam met die hysbak. Daarna kon sy vir die eerste twee maande niks onthou nie, vertel sy verder.

Haar linkerarm en -hand is ook in die ongeluk gebreek. Haar borsbene het gebreek en op haar longe ingeval. Weens haar rookgewoonte was die bloedtoevoer na haar voete belemmer.

“Die dag van die ongeluk was die laaste dag wat ek gerook het,” vertel Riekie.

Einde Februarie kon sy vir die eerste keer uit die rolstoel opstaan en gewig op haar voete sit. “Dit was vreeslik seer, maar ek kon nie glo ek kon ooit weer op my voete staan nie. Daar was dokters wat voorspel het ek sal nooit weer kon loop nie.

“Vandag loop ek. ’n Bietjie skeef en van balans af,” skryf sy onlangs op haar Facebookblad.

“Vandag, presies agt maande gelede op 30 September 30 2018, het my lewe ontplof in ’n miljoen stukkies van gebreekte been, geskeurde vleis en verpletterde drome.

hysbak,ongeluk,Riekie Greyling
Riekie is vol hoop dat sy met positiwiteit haar ongeluk met 'n hysbak sal verwerk. Foto: Verskaf

“Maar ek het die donkerte, die pynvolle besef van moontlike amputasie, ’n lewe in ’n rystoel en selfs dood oorwin.

“So ek lig my kop op, kry my op my voete en loop die res van my lewenspaaie met 'n hup in my stap. My filosofie? As jy op dun ys loop, kan net sowel dans. En ek dans."