Hunter Biden by sy pa, Joe, en stiefma, Jill, in J
Hunter Biden by sy pa, Joe, en stiefma, Jill, in Januarie toe Joe as die Amerikaanse president ingehuldig is. Foto: Gallo Images/Alamy.

Toe ek in November 2019 hieraan begin skryf het, was ek midde-in ’n politieke storm. Die president van Amerika het my byna daagliks van die South Lawn van die Withuis beswadder. Hy het my naam by saamtrekke uitgeroep om sy ondersteuners op te stook.

“Where’s Hunter?” het “Lock her (Hillary Clinton) up!” as Donald Trump se gunstelingslagspreuk vervang. Jy kon selfs ’n Where’s Hunter?-T-hemp op sy veldtog se webtuiste koop – R350, van klein tot 3XL-groottes.

Kort daarna het ondersteuners met MAGA-pette buite die hek van my en my vrou, Melissa, toe vyf maande swanger, se huurhuis in Los Angeles begin rondhang.

Ons het die polisie ontbied om van hulle ontslae te raak. Tog het die dreigemente – waaronder ’n anonieme teksboodskap aan een van my dogters by die skool om haar te waarsku hulle weet waar ek bly – ons gedwing om ’n veiliger adres te soek.

Melissa was vreesbevange – oor haar, ons en ons baba se veiligheid. 

Ek het die teiken geword van Trump se vrees dat hy nie herverkies sou word nie. Hy het samesweringsteorieë oor werk wat ek in Oekraïne en China gedoen het, begin verkondig.

Ek het verwag die president sou al heelwat vroeër veel persoonliker geraak het en die duiwels en verslawings uitbuit waarteen ek jare lank reeds veg.

Waar’s Hunter? Ek’s hier.

Hunter (naasregs) vier sy pa se 30ste verjaardag i
Hunter (naasregs) vier sy pa se 30ste verjaardag in 1972 saam met Neilia en Beau. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Ek is al deur erger dinge in die gesig gestaar en het oorleef. My ma en babasussie is in ’n motorongeluk dood toe ek twee was, my pa het ’n lewensgevaarlike breinaneurisme en embolisme in sy 40’s oorleef en my broer het heeltemal te jonk aan ’n verskriklike breinkanker gesterf.

Ek kom uit ’n familie wat deur tragedies gesmee is en deur ’n merkwaardige, onvernietigbare liefde saamgesnoer word.

Vir die rekord: Ek is ’n 51-jarige pa wat drie pragtige dogters (uit sy eerste huwelik met Kathleen Buhle Biden) help grootmaak het. Twee is op universiteit en een het verlede jaar ’n regsgraad verwerf.

Ek het nou ook ’n eenjarige seun. Ek het grade aan Yale se regsfakulteit en die Georgetown-universiteit verwerf, waar ek ook klas gegee het.

Ek was ’n senior uitvoerende beampte by een van die land se grootste finansiële instellings, het as advokaat vir Boies Schiller Flexner gewerk, wat talle van die wêreld se grootste organisasies verteenwoordig, is in die bestuur van die nasionale passasierspoordiens (deur die Republikeinse president George W. Bush aangestel) en was die voorsitter van die welsynorganisasie World Food Program USA.

Ek het ernstige werk vir ernstige mense gedoen.

Ek is ook ’n alkoholis en ’n dwelmslaaf. Ek het crack-kokaïen op die strate van Washington, DC, gekoop en my eie vervaardig in ’n selfsorgeenheid in Los Angeles.

Ek was al so desperaat vir drank dat ek nie die een blok van ’n drankwinkel tot by my woonstel kon stap sonder om ’n sluk uit die bottel te neem nie.

In die afgelope vyf jaar het my huwelik van twee dekades (met Kathleen) verbrokkel, vuurwapens is in my gesig gedruk, en in ’n stadium het ek heeltemal van die radar af verdwyn en in ongure motelle gebly.

Vir my familie was dit selfs ’n groter skok as vir my.

Daardie laagtepunt het gekom nadat my broer, Beau, die beste vriend wat ek ooit gehad het en die mens vir wie ek die liefste in die hele wêreld was, sy laaste asem uitgeblaas het terwyl hy in my arms was.

Sonder die onvoorwaardelike liefde van my pa en die liefde van my broer, wat ná sy dood voortgeduur het, sou ek nie kon herstel nie.

Ons het op die oggend van 29 Mei 2015 Beau se lewensondersteuning afgeskakel. Hy het geen reaksie getoon nie en het skaars asemgehaal.

Dokters het gesê hy sou binne enkele ure nadat sy trageotomiebuis verwyder is, ophou asemhaal. En toe sit ek langs my ouboet se bed en hou sy hand vas. Hy was 46.

Ek het ná Beau se dood meer alleen as ooit gevoel. Ek het hoop verloor.

Ek het sedertdien myself uit daardie donker, droewige gat getrek. Sonder die onvoorwaardelike liefde van my pa en die liefde van my broer, wat ná sy dood voortgeduur het, sou ek nie kon herstel nie.

Ek het ’n enkele herinnering van die vroegste oomblik en die een wat die grootste nagevolge vir my sou hê.

Dit was op 18 Desember 1972.

My pa het pas die veldtog gewen om die junior senator van Delaware te word; hy het drie weke ná die verkiesing 30 geword en net-net aan die senaat se ouderdomsvereiste voldoen voor hy in Januarie sy eed afgelê het.

Daardie dag was hy in Washington, DC, om onderhoude te voer met die personeel vir sy nuwe pos. My ma, Neilia, beeldskoon en briljant en net 30, het my en Beau en ons babasussie, Naomi, geneem om ’n Kersboom te gaan koop.

Skielik sien ek my ma se kop na regs draai. Ek onthou niks anders aan haar profiel nie: Die kyk in haar oë, die uitdrukking om haar mond. Haar kop swaai bloot.

Beau is amper vier; ek amper drie. Ons is ’n jaar en ’n dag uit mekaar gebore.

In my geestesoog is dit wat volgende gebeur het: Ek sit op die agtersitplek van ons ruim wit Chevy-stasiewa, agter my ma. Beau sit langs my. Baba Naomi – wat bleek, plomp en skynbaar uit die bloute 13 maande tevore by ons gesin aangesluit het – slaap vas in haar drawiegie voor op die passasiersitplek.

Ons het haar die bynaam van een van ons gunstelingstrokieskarakters, Casper the Friendly Ghost, gegee.

Skielik sien ek my ma se kop na regs draai. Ek onthou niks anders aan haar profiel nie: Die kyk in haar oë, die uitdrukking om haar mond. Haar kop swaai bloot. Op daardie oomblik duik my broer reguit na my toe – of eintlik word hy na my geslinger.

Dis al. Dit is vinnig, gewelddadig en chaoties: Ons ma het stadig oor ’n vierrigtingstop gery en ’n reusevragmotor vol mielies het ons teen die kant getref.

Hunter was tydens die verkiesing verlede jaar in D
Hunter was tydens die verkiesing verlede jaar in Donald Trump ondersteuners se visier. Foto: Gallo Images/Alamy.

My ma en kleinsus is feitlik op slag dood. Beau is met ’n gebreekte been en ’n magdom ander beserings uit die wrak getrek. Ek het ’n ernstige skedelfraktuur opgedoen.

Daarna onthou ek hoe ek in ’n hospitaal wakker skrik met Beau in die bed langs myne, toegedraai in verbande en in traksie. Hy vorm woorde met sy mond na my gedraai, oor en oor: “Ek is lief vir jou. Ek is lief vir jou.”

Dis die verhaal. Beau het my beste vriend, my sielsgenoot, my Poolster geword sedert daardie eerste bewustelike oomblikke van my lewe. Drie weke later, in ons hospitaalkamer, word my pa as senator ingehuldig.

Ek en Beau het nooit werklik oor die verlies van ons ma en babasussie getreur nie, deels omdat ons so jonk was. Maar veral omdat ons pa moedig gesorg het dat ons familie ons met liefde bly omring en toevou.

Toe hy vyf jaar ná “die ongeluk”, soos ons daarna verwys, weer trou, het hy ons die bonus gegee van die ma wat ons nou het: “Wanneer gaan ‘ons’ trou?” het ek en Beau by my pa aangehou en hom gedurig aangemoedig om die jawoord te vra.

Jill Biden, ’n hoërskoolonderwyseres van Willow Grove, Pennsilvanië, het uitstekend daarin geslaag om die rol van ons ma oor te neem – met ’n nuuskierige publiek wat toekyk. Ek beskou haar as my ma soveel soos wat enigeen hulle dit kan voorstel.

Tog het ek steeds verlang na dít wat ek verloor het, al kon ek dit nie heeltemal onthou nie. Dit het my meer as 40 jaar geneem om die oorspronklike verlies en pyn te erken, om daardie trauma te hanteer.

En dit het my net so lank geneem om te verstaan dat ek nie daardeur die mense verraai wat hul bes gedoen het om my en Beau teen die ergste daarvan te beskerm nie.

Die eerste drankie wat ek kan onthou, was ’n glas sjampanje op agt. Dit was in 1978, pas nadat my pa tot die senaat herkies is. By ’n geleentheid om dit te vier het ek met die glas onder die tafel ingekruip en dit leeggedrink.

Ek het nie regtig geweet wat ek doen nie – vir my was sjampanje net gaskoeldrank. Ek het nie probeer dronk word nie. Die volgende ding wat ek onthou, is my oupa wat my buitentoe neem om vars lug te kry en myself reg te ruk.

Die eerste drankie toe ek geweet het wat ek doen – of eintlik geweet het wat ek nie behoort te doen nie – was in die somer tussen gr. 8 en 9. Ek was 14 en het in my beste vriend se huis oorgeslaap.

Sy ouers het vir ’n ruk uitgegaan en ons het ’n pak biere uit die motorhuis gaan haal en tussen ons verdeel.

Ek het die volgende oggend opgestaan vir kerk en aaklig gevoel. Ek het in die middel van die kerkdiens opgestaan, uitgegaan en opgegooi. My pa het gedink ek het griep.

Tog was die drinkery ’n openbaring. Dit het my inhibisies, my onsekerhede, en dikwels my oordeel, weggeneem. Dit het my heel laat voel en ’n leemte gevul wat ek nie eens besef het bestaan nie – ’n gevoel van verlies en dat ek nie verstaan word of inpas nie.

Beau het glad nie gedrink voor hy 21 was en dit wettig was nie. Hy het daarna sosiaal gedrink, maar op 30 opgehou.

Een rede: Pa en sy afkeur van drank. Van sy familielede het met alkoholisme gesukkel. Dit het pa bang gemaak. Hy het ’n bewustelike keuse gemaak om nie daardeur verlei te word nie en het my en Beau aangemoedig om dieselfde te doen.

Beau kon dit regkry. Ek nie.

My senior jaar was die moeilikste.

Pa het ’n paar weke nadat die skool begin het uit die Demokratiese Party se presidensiële benoemingstryd onttrek. Dit was ’n verwarrende teleurstelling vir ons almal.

Dit alles was niks vergeleke met die lewensgevaarlike aneurisme wat Pa in Februarie 1988 platgetrek het nie. Hy is na die Walter Reed-hospitaal geneem, waar ’n priester voor die operasie die laaste sakramente aan hom bedien het.

Hy het skaars herstel toe hy ’n pulmonale embolisme kry en toe ’n operasie vir nog ’n aneurisme – alles binne vier maande.

Ek het byna elke naweek vir hom by Walter Reed gaan kuier. Hy was skaars herkenbaar: buise oral, hare afgeskeer, kramme reg oor sy skedel. Die linkerkant van sy gesig het gehang omdat van die senuwees afgesny is.

Toe, in Junie, vang ek die laaste ding aan wat enigeen toe nog nodig gehad het: Ek word met kokaïen in my besit betrap.

Ek het dit saam met ’n vriend en ’n meisie in ons klas in ’n geparkeerde kar buite ’n huispartytjie gebruik.

Die polisie het teen die ruit geklop, die dwelms gevind en ons geboei. Ek was 18.

Ek het op die ou end voor die verhoor ’n ingrypingsprogram gevolg (wat daarop gemik is om toekomstige misdadige gedrag te keer) en is op ’n proeftyd van ses maande geplaas. Daarna is die inhegtenisneming van my rekord geskrap.

Ek het so geskrik dat ek myself reggeruk het – vir ’n rukkie. Ek het geweet ek het Pa teleurgestel.

2016: Die gevaarlikste tyd om te koop was soggens voor dagbreek, om ongewapen en met ’n sak vol kontant in ’n plek in te stap waar dit nie raadsaam is om teen vieruur te wees nie.

Ek het my kontak in minder as ’n uur gevind. Ons het in my kar geklim. Dit was donker en die strate feitlik verlate. Hy het gesê ek moet voor ’n vervalle, roeskleurige tweeverdiepingwoonstelgebou parkeer.

Die manier waarop hierdie scenario gewoonlik sou eindig, was dat ek parkeer, vir die ou $100 gee om crack te koop en dan vir hom sê as hy terugkeer, sal ek hom nóg $100 gee om vir homself daarvan te koop.

Dan sou ek, soos ’n idioot, om tweeuur in die gevaarlikste deel van die stad sit en wag.

In ’n stadium het ek van die radar af verdwyn en in ongure motelle gebly

Sewe uit 10 kere het hy nie teruggekom nie. Jy loop jou vas. Jy voel belaglik, pateties en desperaat. En begin weer van voor af tot jy eindelik – om vieruur of seweuur of tienuur – ’n ou vind wat die taak verrig, wat genoeg terugbring om jou vir die volgende vier uur te hou. Die proses kan 30 minute of 10 uur neem.

Dié keer was die ou ná 30 minute terug met $100 se crack, of so het hy gesê. ’n Mens weet nooit.

Dis dikwels koeksoda of fyngedrukte pille. Jy steek dit aan en is bedwelmd nog voor jy die popgeluid – die “crack” hoor – en weet of dit die goeie goed is of nie.

In studies is bevind, en my ervaring bevestig dit, dat die opwinding die grootste is daardie nanosekondes voor jou lippe aan die pyp raak. Eers ’n minuut of so later kan jy vasstel of jy die regte ding rook, en teen daardie tyd is jou kontak weg.

In hierdie geval was dit wat hy teruggebring het deksels goed.

Ons eenmalige ontmoeting laatnag het in ’n vier dae lange storie verander. Ek het hom in daardie tyd drie of vier keer per dag gebel. Ek het waarskynlik $1 500 (toe sowat R21 000) aan hom gegee.

2019: ’n Hotelbestuurder bel na my kamer toe. Hy sê iemand het gekla ’n gas van my het gedreig om hom dood te maak.

Ek verduidelik die hele ding is uit verband geruk en opgelos.

Hunter en Beau stap in die 2009 inhuldigingsoptog
Hunter en Beau stap in die 2009 inhuldigingsoptog in Washington, DC, nadat hul pa as adjunkpresident ingehuldig is. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Toe ek ’n bietjie later my gebruiklike oproep na die ontvangstoonbank maak om vir nog ’n aand te bespreek, moes ek hoor my kamer is vooruitbespreek vir die volgende week en niks anders is beskikbaar nie.

Dit het gedurig gebeur. Almal was beleefd. Niemand het my ooit formeel uitgegooi nie – hoewel die Chateau Marmont my op ’n swartlys geplaas het saam met hul berugte nieamptelike lys vabonde wat mense soos Britney Spears insluit. So buite beheer was ek.

Nou het die Petit Ermitage my gevra om my kamer te ontruim. Ek het in die skaduwee op ’n gemakstoel by die dakswembad gaan sit.

’n Jong, kunstenaaragtige ou en sy twee vriende het met my begin gesels. Ek het af en toe geknik; ek het waarskynlik toe al die dag ’n bottel wodka gedrink, crack gerook, en het op 10 uur se slaap vir die week oorleef.

Al wat ek onthou, is dat een van die drie na die ander een gedraai en gesê het: “Weet jy wie moet Hunter ontmoet? Hy moet jou vriendin Melissa ontmoet.”

Hulle het dadelik daarop aangedring dat ek Melissa se nommer vat. Ek het ’n uur of wat later by die Sunset Marquis ingeteken en verder gedrink en dwelms gebruik.

Iewers ná middernag het ek vir Melissa ’n teksboodskap gestuur en gevra of sy my vir ’n drankie wil ontmoet. Haar antwoord was vinnig, beleefd en saaklik: “Nee dankie, ek slaap.”

Hy en Melissa Cohen is in 2019 getroud, net ses da
Hy en Melissa Cohen is in 2019 getroud, net ses dae nadat hulle mekaar ontmoet het. Foto: ABC News.

Maar Melissa het die volgende oggend vir my ’n teksboodskap gestuur. Sy het gevra of ek haar vir koffie wil ontmoet; haar vriende het haar aangemoedig om dit te doen. Dit was my eerste romantiese afspraak in 26 jaar.

Toe ek by die restaurant se tafels buite verbystap, sien ek ’n vrou by ’n tafel sit. Verlig deur die gloed van Los Angeles se dynserige lentelig, met ’n oorgroot sonbril bo-op haar heuningblonde hare en met die grootste, blouste oë wat ek nog gesien het, het ek aanvaar dit is Melissa.

Sy het na my gekyk en ’n helder, gemaklike glimlag geflits. Dit was elektries. Ek het eerste gepraat. “Jy het presies dieselfde oë as my broer.”

En nie lank daarna nie, met geen idee wat ek sou sê tot dit by my mond uitgespring het nie: “Ek weet dis waarskynlik nie ’n goeie manier om ’n eerste afspraak af te skop nie, maar ek is verlief op jou.”

Melissa het gelag.

’n Uur later het sy gesê sy is verlief op my. ’n Uur daarna het ek vir haar gesê ek is ’n crackverslaafde.

“Wel,” het sy op daardie nuus gereageer, sonder om te blik of te bloos, “nie meer nie. Jy’s klaar daarmee.”

My reaksie: “Oukei.”

Die eerste drankie wat ek kan onthou, was ’n glas sjampanje op agt

Ek het nie ’n benul gehad wat ek bedoel nie. Met verslawing bereik jy ’n stadium wanneer jy glo dis onmoontlik om ooit weer in ’n gesonde verhouding te wees.

Wanneer jy iemand vertel wie jy werklik is – in my geval ’n crackverslaafde – raak hulle vreesbevange. Tog het Melissa nie weggeskram nie.

Ek het haar van my verslawing en alkoholisme vertel. Ek het haar van my egskeiding vertel, van my broer, my ma, my babasussie, my hartseer. Ek het haar vertel van my pyn, van wat hulle by die AA die “God-sized hole” binne-in my noem.

Ek het ’n onverbloemde weergawe van die afgelope vier en meer jare uitgerol.

Heel eerste het sy my foon, my rekenaar en my motorsleutels gevat. Sy het my beursie gevat. Sy het elke kontak op my selfoon wat nie my ma, pa, tannie of oom was nie, geskrap.

Toe ek protesteer dat lewenslange vriende in hierdie slagting uitgewis word, het Melissa kalm laat hoor hulle sal ’n manier vind om my te bereik as hulle werklik vriende is.

Sy het al my crack weggegooi.

Melissa moes my gesanik en gehuil en gekonkel verduur

Ek kon nie badkamer toe gaan sonder dat sy my volg nie.

Die aasvoëls het nie lank gewag om te bel en aan te klop nie. Hul kontantkoei was weg, en hulle wou my terughê. Hulle het gesê ek skuld hulle geld en het Melissa probeer intimideer.

Sy het in staal verander. Sy was genadeloos.

Sy het my nommer verander en binne weke ’n huis hoog in Hollywood Hills vir ons gekry. Sy het almal in my lewe weggestoot wat met dwelms te doen gehad het.

Niemand wil enigeen se tronkbewaarder wees nie. Melissa moes my gesanik en gehuil en gekonkel verduur.

Ek het probeer onderhandel vir ’n proses om my stadig van crack te speen.

Sy het nee gesê hoewel sy my geleidelik drank laat los het deur eers drie drankies per dag, toe een en toe niks toe te laat.

Sy het ook gereël dat ’n dokter binneaarse behandeling aan my kom toedien om enige voedingstekorte te herstel en met my onttrekking te help.

Wanneer ek probeer rondsluip het, het sy my betrap. Ek het haar probeer oortuig dat dit nie regverdig is om my skielik crack te laat los nie; dit was trouens gevaarlik.

Sy het dit as twak afgemaak. Melissa het my versorg tot ek weer gesond was. Tot ek weer kon leef.

Beautiful Things: A Memoir deur Hunter Biden.
Beautiful Things: A Memoir deur Hunter Biden. Foto: Verskaf.
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe