Hy was Woensdag reeds 21 dae lank vermis.

“Dit was ’n doodgewone dag in ons huishouding; ek sou nooit kon raai dat Wayne net sal verdwyn nie,” het ’n moedelose Charl Woensdag aan Huisgenoot gesê. 

Wayne het op 12 Junie in sy 2018-model Renault Clio geklim en werk toe gery toe hy in die noorde van Johannesburg spoorloos verdwyn.

“Dit is nou al meer as drie weke en ons het nog geen antwoorde nie. Dit voel of dit een lang dag is waaruit ek nie kan wakker word nie.” 

Die polisie het intussen ’n man in Kempton Park opgespoor wat Wayne se SIM-kaart en sy selfoon gebruik het.

Sy motor is ook glo op Facebook as te koop aangebied, maar die verdagte wat dit geplaas het, het intussen al die advertensies in die sosiale media verwyder. 

Charl en 70 van Wayne se vriende en kennisse het verlede week Saterdag by die Parkview-polisiekantoor opgedaag en antwoorde geëis. 

“Dit voel vir ons asof die polisie nie genoeg doen om Wayne op te spoor nie. Ons wag op antwoorde wat ons nie kry nie.” 

Intussen het Charl ’n privaat speurder aangestel om vir leidrade te help soek. 

“Hy werk saam met die polisie om leidrade op te volg.” Volgens kapt. Sifiso Mabizela, polisiewoordvoerder van die plaaslike Parkview-polisie, is vyf verdagtes reeds geïdentifiseer. 

“Ons vra die publiek om aan te hou foto’s deel van Wayne en sy motor sodat nog mense met inligting na vore kan kom.”