Anastasia Shcherbinina
Anastasia Shcherbinina. Foto: Anastasia Shcherbinina/Newsflash/Magazinefeatures.co.za

Anastasia Shcherbinina (25), ’n enkelma van ’n vierjarige seuntjie van die dorp Togoetsjin in Nowosibirsk, Rusland, het glo dadelik in die voorval omgekom. 

Anastasia was besig om haar foon te herlaai terwyl sy in die bad is. Daar is ’n muurprop naby die bad en sy het ’n verlengingskoord gebruik en dit ’n entjie verder weg ingeprop en die herlaaier daaraan gekoppel.  

Haar vierjarige seun, wat glo ’n vreemde geluid vanuit die badkamer gehoor het, het hom gehaas na sy ma en haar bewusteloos in die bad aangetref. 

Anastasia se vierjarige seun het op haar in die ba
Anastasia se vierjarige seun het op haar bewustelose liggaam in die bad afgekom. Foto: Anastasia Shcherbinina/Newsflash/Magazinefeatures.co.za

Volgens die plaaslike nuuswebtuiste Novos het sy talle selfies in die sosiale media gedeel. Luidens hul berig het sy gesterf terwyl sy ’n selfie probeer neem en die foon uit haar hande geglip en in die water geval het. 

Die seuntjie het die koord uitgeprop, sy ma se foon uit die water gehaal en haar probeer wakker maak. 

“Sy het ’n ernstige brandwond op haar bors gehad. Haar seun het kop gehou en al die toestelle afgeskakel; dis onduidelik hoe hy geweet het om dit te doen,” het ’n hegte vriend van Anastasia aan die plaaslike media gesê.

Hy het daarna sy oumagrootjie gebel, wat onmiddellik in ’n taxi opgedaag en die polisie en ’n ambulans ontbied het. Die seuntjie het vir haar gesê hy het sy ma probeer bybring deur haar wange te klap. 

Die Russiese koerant Komsomolskaya Pravda het berig Anastasia se vriend het gesê die kind kan steeds nie begryp dat hy nooit weer sy ma sal sien nie.

Anastasia
Die 25-jarige Anastasia het doodgeskok nadat sy 'n foto van haarself in die bad wou neem. Foto: Anastasia Shcherbinina/Newsflash/Magazinefeatures.co.za

“Wanneer ons met hom praat, sê hy sy ma is in die hospitaal en dat sy behandeling gaan kry en gaan huis toe kom,” sê sy.

Anastasia is beskryf as ’n gewilde jong vrou wat nog geworstel het met haar ma se dood weens kanker ’n jaar gelede. Sy het net haar ouma gehad wat haar bygestaan het. 

Volgens die plaaslike media het sy haar seun self grootgemaak nadat sy en haar kêrel hul verhouding voor hul kind se geboorte beëindig het. 

Die polisie ondersoek die saak om die presiese omstandighede rondom die vrou se dood uit te pluis. Die kind bly intussen by sy oumagrootjie.