Familie en vriende van ’n jongman van Johannesburg is dood bekommerd nadat hy spoorloos verdwyn het na ’n besigheidsafspraak Maandagoggend. 

Bertus Anton Bauermeister (30) van Wilgeheuwel aan die Wes-Rand in Johannesburg het Maandag omstreeks 07:00 die laaste keer met sy vrou, Nadia Bauermeister, gepraat. Dit was net ná ’n sake-afspraak wat hy in Randburg gehad het.

“Hy het nog vir my gesê alles het goed gegaan tydens sy afspraak,” sê Nadia aan Huisgenoot.

Bertus Anton Bauermeister (30) word vermis. Foto: Facebook.

Dit was die laaste wat Nadia van Bertus, ’n algemene bestuurder by ’n maatskappy wat huisprodukte verkoop, gehoor het. Albei sy selfoonnommers is ook sedertdien af. 

Nadia en Bertus is al byna vier jaar getroud en het nie kinders nie. 

Nadia sê hy was effens terneergedruk Sondag, maar sy was nie bekommerd nie. “Ek weet hy was gespanne by die werk maar nie meer as gewoonlik nie.” 

“In hierdie stadium weet ons regtig nie wat gebeur het nie. Ek is nog heeltyd so besig om te soek dat ek nie dink dit het al ingesink nie,” sê sy. 
Nadia het ’n saak van ’n vermiste persoon by die Honeydew-polisiekantoor aanhangig gemaak. 

“Ons sien op CCTV kameras hy het stilgehou by ’n sakekompleks in Republiekweg in Randburg. Jy sien hom uit sy motor klim en sy oefensak vat pleks van sy rekenaarsak. Dan stap hy weg. Dis die laaste wat enige iemand hom gesien het,” vertel Nadia. 


Bertus se kar, ’n silwer BMW is ook Maandagoggend in ’n parkeerterrein in ’n sakekompleks in Randburg gevind. Dit is nie seker of Bertus se afspraak by dié parkeerterrein was nie. 

“Die polisie probeer nou 'n lasbrief kry om te kyk of daar enige geld uit sy bankrekening getrek is,” sê Nadia. 

“Dis glad nie hoe Bertus is nie. Hy is nie iemand wat net verdwyn nie. Hy is die soort ou wat altyd laat weet waar hy is. Hy is ’n erg administratief gedrewe mens,” sê Monique Lawrance, ’n kollega van Bertus. 

Nadia vra dat enige een met inligting die Honeydew-polisiekantoor in Randburg kontak.