Dae nadat die onafhanklike KwaZulu-Natalse spogskool Grantleigh buite Richardsbaai deur ’n pastoor en ouer in die sosiale media verkla is vir die “duiwelse” en “demoniese” kunswerke van een van die skool se matriekleerders, het die skool in ’n verklaring ook onvoorwaardelik verskoning gevra vir die aanstoot wat daardeur veroorsaak is.

Huisgenoot het Woensdag met die ouer en pastoor Andrew Anderson gepraat. Hy het vertel hy het Maandag, die dag van sy dogter se akademiese prysuitdeling, ’n video van die kunswerke in die skoolsaal gemaak omdat hy gevoel het dit maak ’n “bespotting van Christenskap”.

Andrew Anderson
Andrew boer met lewende hawe buite Empangeni en is ook leraar by die AGS Lig en Lewe-gemeente in Ballito.

Hy was toe op pad om met die bestuur van Grantleigh en die Curro-groep te vergader.

Grantleigh is deel van die netwerk van onafhanklike Christelike skole van die Curro-groep. 

Curro het ná die ontmoeting van ’n skakelmaatskappy gebruik gemaak om die onderskeie verklarings van die leerder sowel as die skool so wyd moontlik aan die media te versprei.

Die skool se verklaring lui die skool streef daarna om kreatiwiteit en onafhanklike denke onder elke leerder te kweek.

Curro erken egter daar is bevind dat daar nie aan die skool se plig voldoen is om genoegsame leiding en sorg aan die leerder te gee om die onderliggende kwessies en potensiële implikasies aan te spreek van wat die skepping van ’n visuele kunswerk sou behels waarvan die inhoud omstrede en moontlik emotiewe reaksies kan ontlok nie.

Curro het bevestig die leerder se werk is reeds deur die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) geëvalueer, het aan die IEB se standaarde voldoen en is nie as problematies beskou nie.

Curro het wel onvoorwaardelik verskoning gevra vir diegene wat deur die kunswerke geaffekteer is en aanstoor geneem het.

Lees die volledige verklaring hier:

In ’n verrassende wending het die matriekleerder, wat tans midde-in sy eindeksamen is, ook ’n verklaring uitgereik. 

Die jongman, na verneem word ’n toppresteerder by die skool, sê in die verklaring hy het nooit toestemming gegee dat ’n opname van sy matriekkunsuitstalling gemaak word nie. Hy het egter verneem dat dit soos ’n veldbrand in die sosiale media versprei het.

“Ondanks dit wat die ouer in die opname oor my kunswerke beweer, verduidelik die beweegredes by elke stuk dat dit alles behalwe sogenaamde ‘Satanisme’ is.”

Die leerder gaan voort deur kortliks te verduidelik wat dit was wat hy wou uitbeeld.

“Die kunswerke in die uitstalling verken die kommersialisering van kontemporêre georganiseerde godsdiens asook die geldelike uitbuiting van gelowiges deur geldgierige individue wat agter die dekmantel van die kerk of soortgelyke vroom instellings skuil.

“Deur die gebruik van godsdienstige beelde bespreek die werke hoe hedendaagse godsdiens oppervlakkig geraak het.

’n Skermgreep uit die video.
’n Skermgreep uit die video.

“In plaas daarvan om op ’n diep en betekenisvolle vlak met hul geloof te verbind en die durf te hê om metafisiese vrae te vra, verteer baie mense hul godsdiens op dieselfde manier as enige ander produk (vandaar die gebruik van Ronald McDonald as simbool vir dié verbruikerskultuur).

“Dit is juis daarom dat hulle kwesbaar is vir manipulasie van diegene wat hul amp as godsdienstige leiers gebruik om hulself te bevorder in plaas daarvan om positiewe verandering in die wêreld teweeg te bring. 

“Ronald McDonald tree nie op as die belastering van iemand se persoonlike messias nie, in plaas daarvan dien hy as ’n simbool van die mishandeling en misbruik daarvan.” 

Hy sê dit gaan nie vir hom oor wát mense glo nie; hy wou eerder die potensiële risiko's uitlig van hóé hulle glo.

Hy vra dan hoe dié godsdienstige leiers hulself kan verryk te midde van die armoede en ongelykhede onder mense in ons land en hoe hulle daarmee wegkom om mense te beroof.

Hy noem televisie-evangeliste, kerkgeborgde goedere en die ingangsgelde by van die kerke as voorbeelde van hoe godsdiens vandag geword het.

Hy verduidelik hy het klassieke kunswerke gebruik om dit oor te dra en hy wou graag hê dit moes mense uitlok om na te dink oor die boodskap daaragter.

“Hoewel die verklaring kort is, hoop ek almal wat bekommerd genoeg is om dit te lees sal besef my kuns is nie die 'sataniese paniek' waarvan sommige mense dit beskuldig nie. Dit het nie uit ’n plek van kwaadwilligheid gekom nie en weerspieël ook nie noodwendig die siening van my skool nie.”

Laastens benadruk hy hy ontken die ongegronde aansprake wat in die sosiale media gemaak word oor sy kuns ten sterkste, en raai mense aan om te dink voor hulle praat.