Met ’n pienk rokkie aan stap sy hand aan hand met haar ma en pa in die hospitaalgang af. Net die verband om haar kop verklap hoe naby die 13-jarige Kiara Mun-Gavin aan haar dood gekom het.

’n Paar weke gelede was die moontlikheid sterk dat die pragtige tiener nooit weer sou kon loop nie nadat sy ’n ernstige breinbesering in ’n motorongeluk opgedoen het.

Maar die talentvolle ballerina verbaas selfs haar dokters met haar herstel, en almal hou duim vas sy sal eendag weer haar dansskoene kan aantrek.

Boonop het sy ’n besonderse operasie ondergaan op haar pad na herstel: ’n Deel van haar skedel is verwyder en word nou in haar maag geberg voor dit in haar kop teruggeplaas sal word.

Die afgelope feestyd was vir haar ouers, Jaci en Richard, met seer en onsekerheid gevul terwyl die naasoudste van hul sewe kinders se lewe aan ’n draadjie gehang het.

Dié dapper tienermeisie voor die ongeluk. Foto: Verskaf

Kiara en haar ma was op pad na die Oukersaanddiens in die Anthem-kerk in Durban-Noord waar Jaci (38) en Richard (40) albei pastore is.

Jaci het in die kerk se parkeerterrein ingedraai toe ’n motorfiets die motor tref aan die kant waar Kiara sit. “Ek het oor twee bane verkeer gedraai en ’n motor gesien, maar nie die motorfiets wat besig was om dié kar verby te steek nie,” vertel Jaci waar ons met haar en Richard by die Netcare Umhlanga-hospitaal gesels.

Jaci het geskok maar sonder ’n skrapie aan haar na haar dogter gedraai wat gelyk het asof sy by die venster uitstaar. “Ek het gesê: ‘Sjoe, kan jy glo wat gebeur het?’ en toe val Kiara in my skoot.”

Haar oë was wyd oop, maar sy was bewusteloos. “Sy was in die eerste fase van ’n koma waarin ’n mens nie kan reageer nie.” Bloed het uit haar dogter se kop gestroom, en toe Jaci daarop druk, voel sy ’n gat in haar skedel.

Sy het ’n motorwag geroep, en hy het kerk toe gehardloop om Richard, wat vroeër met hul ses ander kinders aangekom het, te gaan soek. Dié het ’n ambulans gebel, en Kiara is hospitaal toe gehaas.

Die motorfietsryer het geringe beserings opgedoen en intussen heeltemal herstel. Maar Kiara se dokters het onrusbarende nuus vir haar ontstelde ouers gehad: ’n Palmgrootte-stuk van haar skedel het gebreek, en splinters het die brein links voor binnegedring.

“Daar was net een opsie,” sê Richard. “Sny haar oop en verwyder die splinters uit haar brein.”

Sy is teater toe gestoot vir ’n operasie wat eindelik vyf uur geduur het. Dinge het so sleg gelyk dat die Mun-Gavins, hul familie, vriende en die hele gemeente gebid het vir ’n wonderwerk.

Die dae het in ’n waas verbygesleep vir Kiara se ouers en haar suster en broers, Jada (16), Jed (11), Rourke (9), Samuel (9), Kade (8) en Tyden (6).

Kiara (tweede van regs) en haar suster en broers (van links), Kade, Tyden, Jed, Jada, Rourke en Samuel. Foto: Verskaf

Haar hart het verswak en die bloedvloei, en dus suurstof na haar brein, was beperk. Op Kersoggend het die gevreesde oproep van die hospitaal gekom: Kiara se toestand verswak en Jaci en Richard moet dadelik kom toestemming gee vir ’n kraniëktomie (sien kassie).

Die neurochirurg het ’n stuk van Kiara se skedel verwyder om die druk te verlig wat deur die geswelde brein veroorsaak is.

Die stuk been is in Kiara se maag ingeplant waar dit veilig, steriel en gevoed gehou word. Dit sal in Februarie weer op sy plek teruggesit word. Hoewel die operasie suksesvol was, het Kiara se longe platgeval.

“Sy het weens die operasie in die diepste soort koma verval,” sê Jaci.

Op 27 Desember het Jaci ’n vriendin, Nicole Cilliers, saamgeneem hospitaal toe om vir Kiara te sing.

“Terwyl sy gesing het, het my suster op die monitor gesien hoe die binneskedeldruk van ’n gevaarlike 22 tot 16 verlaag.”

Die liedjie wat sy gesing het, Only You, is op die speellys van die kerk se gospelalbum wat die oggend van die ongeluk bekendgestel is. Dit gaan daaroor om nie bang te wees nie.

“Twee dokters het gesê dit gaan die mediese wetenskap te bowe,” vertel Richard.

“Vir ons is dit ’n wonderwerk. Dis God se ingryping.” Vyf dae later het Kiara haar oë oopgemaak.

Jaci onthou toe sy Kiara destyds die eerste keer in haar baarmoeder voel skop het. Sy het gewonder of sy haar dalk verbeel het, maar die volgende oomblik het die baba so hard geskop sy kon dit sien.

Iets soortgelyks het op 31 Desember gebeur toe sy gewonder het of sy haar verbeel dat Kiara haar hand bewustelik of as ’n refleks gedruk het.

“Toe sit ek ’n bietjie langer en sê eindelik vir haar: ‘Goed, liefie, ek gaan nou loop,’ en daar gryp sy my vingers en trek my hand terug. Toe weet ek ek verbeel my nie.”

Kort hierna het sy aan Richard se baard en Jaci se gesig geraak. Die dapper meisie, wat ons net kortliks tydens ons besoek kon ontmoet, is nou weer op die been. Sy ontvang fisio-, spraak- en arbeidsterapie.

Hulle laat haar reeds somme doen – hul dogter was nog altyd “briljant” met wiskunde, vertel die trotse ouers – en sy praat al volsinne. Hoewel haar dokters nie kan sê of Kiara heeltemal sal herstel nie, bly haar ouers positief. “Wat soos ’n tragedie gelyk het, het nou ’n triomf geword,” sê Jaci. 

Ekstra bron: Brainsurgery.co.za

Lewensreddende chirurgie

Gedurende ’n kraniëktomie word ’n deel van die skedel verwyder – en soms word dit in die pasiënt se maag bewaar.

Gedurende ’n kraniëktomieprosedure om druk te verlig word ’n deel van die skedel verwyder om ruimte te skep vir ’n swellende brein sodat dit kan uitsit sonder om saamgepers te word.

Dit word uitgevoer op slagoffers van traumatiese breinbeserings en beroertes, sê dr. David Roytowski, ’n Kaapstadse neurochirug.

“Die brein kan nie drukking goed weerstaan nie, en sodra die drukking daarop hoër raak, word breinfunksie vertraag of gestaak. So kan mense in ’n koma verval.

“Die gevolge van ’n brein wat binne ’n beperkte ruimte baie swel, is weefselbesering en die versperring van die bloedvate wat bloed aan die brein voorsien. Die brein kan as’t ware afsterf omdat dit nie bloedvloei ontvang nie.”

’n Swellende brein se drukking op die breinstam (wat in die rugmurg instrek) kan ook dodelik wees. Breinswelling kan behandel word met medikasie wat die swelling verminder, maar soms is dit so ernstig die skedel moet oopgemaak word.

Tydens ’n kraniëktomie merk die neurochirurg ’n groot vierkantige flap op die kopvel uit en maak dan ’n snit deur die vel tot by die dun membraan wat die skedelbeen bedek.

Die velflap word teruggevou om die been te onbloot. Die chirurg saag dan met ’n hoëspoedboor deur die been tot ’n stuk skedel, oftewel “beenflap”, verwyder kan word om die brein te ontbloot.

So kan die brein dan by die skedelopening uitswel en die drukking verlig word. Hierna werk die chirurg weer die membraan, spiere en vel waardeur gesny is toe.

Soms word die beenflap teen minus 40 ºC in ’n spesiale mediese beenvrieskas gevries, en soms, soos in Kiara se geval, word dit in die pasiënt se maag bewaar.

Dis noodsaaklik dat die been steriel bly, en ’n alternatief vir die bevriesingstegnologie “is om die been in ’n liggaamsholte te plaas, waar dit ook steriel sal bly,” vertel David.

“Die maag bied ’n gerieflike liggaamsholte vir been. Die been word eintlik net onder die maagvel ingeplant. Dit kan ’n geruime tyd lank daar bly.” Wanneer die pasiënt van die breinswelling herstel het, kan die been weer teruggeplaas word.

Die stuk skedel word weer geheg “met klein, mediesegraadskroewe en -plate. Hulle bly gewoonlik lewenslank daar, en met die gepaardgaande beenhergroei kan jy binne ses tot 12 maande soliede skedelherstel hê.”