Mediese personeel van Meyerton het lank gespook om Melissa Foulds uit die motorwrak te sny. Sy was egter in ’n kritieke toestand en het later in die hospitaal aan haar wonde beswyk.

Volgens konst. Tlaleng Moloi, ’n polisiewoordvoerder, was Melissa op die oggend van 28 April omstreeks 09:45 op die M61-roete op pad terug huis toe, toe die masjien haar motor getref het.

Intussen sukkel haar man, Dowayne, om die skielike dood van sy vrou te verwerk.

Melissa en Dowayne. Foto: Facebook/@dowaynefoulds
Melissa en Dowayne. Foto: Facebook/@dowaynefoulds

“Dit is regtig moeilik vir hom. En vir haar dogter, wat sy daardie oggend pas by die skool afgelaai het, is dit net so erg,” het Morné de Beer, Melissa se broer, gesê.

Hy sê dit voel vir die familie asof die geskiedenis homself herhaal het.

Melissa was drie jaar oud toe haar ma, Eureka de Beer, in 1992 in ’n motorongeluk oorlede is toe sy op die De Deur-pad uitgeswaai het vir ’n motor wat voor haar ingedraai het.

Ook Melissa se pa, Philip, het sy ouers in ’n motorongeluk verloor.

“My pa vat my sussie se dood vreeslik swaar omdat dit vir hom ’n herhaling van die verlede is.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe