Vinny Ohh (22), van Los Angeles in die Amerikaanse deelstaat Kalifornië, het al meer as 110 prosedures ondergaan om in ’n “geslaglose” buiteaardse wese te verander.

Die grimeerkunstenaar glo hy is nie manlik of vroulik nie, en sy ekstreme voorkoms is ’n manier om te weerspieël hoe hy in sy binneste voel.

Hy het op 17 met lipvullers begin en daarna onder meer twee neusoperasies ondergaan en vullers in sy wange en wenkbroubeen laat sit.

Die deeltydse model dra ook groot, swart kontaklense en ruimtewese-agtige kloue, en hy kleur sy hare in ongewone kleure.

Nou wil hy nog R1,92 miljoen ($160,000) aan operasies uitgee om sy geslagsorgane, tepels en naeltjie te laat verwyder.

Vinny Ohh voor baie van sy operasies. Foto: Magazine Features.

Vinny sê: “Ek wil ’n geslaglose ruimtewese wees. Ek wil hê my uiterlike moet weerspieël hoe ek aan die binnekant voel.

“Die algehele beeld wat ek wil bereik, is dié van ’n ruimtewese. Ek wil ’n hibried wees, nie manlik of vroulik nie.

“Ek wou sedert ek 17 was geslagloos en genderloos wees. Ek het dokters besoek om te kyk of dit moontlik is, maar sonder geluk.

“Ek wil nie hê mense moet dink ek probeer in ’n vrou verander nie.

“Ek sou sonder geslagsorgane kon leef. Hoekom moet ek dan ’n penis of ’n vagina hê?” 

Vinny Ohh het al twee neusoperasies gehad. Foto: Magazine Features.

“Ek sien nie hoekom ek nie my geslagsorgane heeltemal moet laat verwyder om niks daar onder te hê nie.

“Tot dusver het ek $50 000 (R600 000) se velsorg en prosedures ondergaan, onder meer twee neusoperasies en gesigvullers in my lippe, wange en wenkbroubeen. Alles om soos ’n ruimtewese te lyk.

“Ek lyk nogal soos ’n Marsbewoner. Ek het ’n baie groot kop en geen wenkbroue nie, en ek vind net daarby aansluiting.

“Wanneer mense vir my vra hoe ek myself sou bestempel, sê ek vir hulle ek is ’n ‘buiteaardse, deurmekaar selfbehepte wese’. Dit is besig om my slagspreuk te word.” 

Vinny het kosmetiese prosedures begin ondergaan nadat hy in sy grootwordjare soos ’n uitgewekene gevoel het.

Kiss me and make it last ??

A post shared by Vinny Ohh (@vinnyohh) on

Hy het ’n LGBTQ-aktivis geword en voel sy voorkoms nou verteenwoordig sy oortuiging dat “mense nie geëtiketteer moet word nie”.

Vinny sê: “Oor die jare het ek besef ek is nie gay, bi, trans of enige van die goed nie. Ek wil net ek wees.

“Ek doen dit op ’n sekere manier om die wêreld te inspireer. Ek wil hê mense moet ophou om ander te etiketteer of hulle in boksies te plaas.”

Wanneer hy in die openbaar verskyn, trek hy baie aandag. Hy meen dit is danksy sy ongewone kenmerke en kleredrag.

“My groot, swart kontaklense is ’n noodsaaklikheid. Dis soos my pêrelhalssnoer. Ek dra dit oral heen.

“Dit laat my oë reusagtig lyk. Party mense noem dit demonies, maar ek dink dit lyk pragtig, soos ’n dier.

“My grimering is ook daarop ingestel om geslagloos te lyk. Ek speel baie met kleur. Daar is geen skakering waarmee ek nie sal eksperimenteer nie.”

I miss you ??

A post shared by Vinny Ohh (@vinnyohh) on

Volgens Vinny is die publiek verdeeld oor sy voorkoms. Party is gaande oor sy ongewone voorkoms en ander snou hom beledigings toe of probeer hom liggaamlik seermaak.

“Party mense sien my graag as ’n viering en gee baie komplimente.

“Ek lyk nie eg nie en mense is dol daaroor. Party mense sê hulle wil hê hul kinders moet soos ek wees en ek is ’n inspirasie vir kinders wat voel hulle hoort nêrens nie.

“Ander kere word winkeltrollies na my gegooi of mans en vroue beskou my as ’n seksvoorwerp. Ek is gewoond aan nie inpas nie.

“Selfs toe ek 16 was, het ek vollyfpakke en agt-duim-platormskoene gedra wanneer ek bedags uitgaan. Daarom voel dit vir my baie normaal.”

Vinny gaan op The Plastics of Hollywood verskyn, ’n program waarin verskillende verslaafdes aan plastiese chirurgie saam gehuisves sal word om hul talent te help ontwikkel.

Foto: Magazine Features.

Hy sê: “My doelwit is om almal se mening oor menslike poppe te verander.

“Ek probeer mense wakker maak om vir hulle te wys genderrolle in die samelewing maak nie saak nie en vir hulle te wys ons moet beter mense en gawer met mekaar wees.”

Die TV-program, wat in Amerika bekendgestel sal word, sal ’n talentagentskap volg wat hulle probeer help om Hollywood-roem te bereik sonder om op hul voorkoms staat te maak.

Marcela Iglesias, die program se vervaardiger en aanbieder, sê: “Vinny is ’n ruimtewese, 'n nuwe geslag van mense wat anders wil lyk. Oor 15 jaar sal honderde mense soos hy wil lyk.

Foto: Magazine Features.

“Ons is in ’n tyd waar daar mense is wat soos akkedisse wil lyk, diegene wat horings by hul skedel laat inplant en mense met volgesig-tatoes soos die ou in Suicide Squad, wat werk.

“Ons wil die eerste agentskap wees wat die menslike poppe, ruimtewese-poppe en strokieskarakters sal hanteer as ’n normale deel van die samelewing waarin ons nou leef.

“Ons het al hierdie mense, die fratse, vreemdes, en ons wil help dat die samelewing hulle verstaan.”

VINNY SE 110 OPERASIES TOT DUSVER OM SOOS ’N RUIMTEWESE TE LYK

35 vollyf- en gesig-laserbehandelings
12 wangvullers
2 wenkbrouvullers
15 lipvullers
10 vullers vir plooie
5 botokssessies
5 neusprosedures
1 botoks onder oë
5 gesigafskilferings
20 bevriesingsbehandelings aan gesig

VINNY SE R1,92 MILJOEN-PLAN OM ’N BUITEAARDSE WESE TE WORD 

Verwydering van geslagsdeel
Verwydering van tepels
Verwydering van naeltjie
Hervorming van voorkop
Hervorming van ore
Neusoperasie
Hersiening van ooglede
Kaakinplantings
Wanginplantings