My kind het gelê en ruk op die grond en bloed het my sy mond en neus uitgeloop,” vertel sy ma, Trudie. 

“Ek wens die prentjie wat ek gesien het vir geen ma toe nie.” Ruben en ’n vriend van hom het Saterdag (9 November) op hul plaas buite Middelburg met die veldmotorfiets gery. Die motorfiets behoort aan die vriend. 

Ruben was besig om met die motorfiets te ry toe dit onder hom uitgly en hy kop eerste die grond tref. Hy het nie ’n valhelm opgehad nie. 

Motorfietsongeluk
Ruben het 'n skedelfraktuur en bloeding op die brein opgedoen. Foto: Verskaf

“Ek en my man was op pad om iemand te gaan help wie se motor op die Bethal-pad gebreek het, toe ons bure my bel en sê Ruben het erg seergekry.” 

Die ambulans was binne 20 minute op die toneel en het vir Ruben na die Middelburg Hospitaal geneem. 

Hy is van daar na die Life Midmed-hospitaal geneem waar hulle skanderings gedoen het. 

Die toets het gewys dat Ruben ’n skedelfaktuur en bloeding op die brein opgedoen het. 

“Volgens dokters het die skedelfaktuur sy lewe gered. Dit het die druk op sy brein verlig.Hy kon vandag dood gewees het,” sê Trudie. 

Dokters het met die gesin meegedeel dat dit sowat R500 000 sou kos vir Ruben om ’n breinoperasie te kry. 

“Niemand het daardie klas geld nie. Die ambulans het hom na die toetse weer na die Middelburg Hospitaal toe geneem.” 

Ruben is dieselfde aand van die ongeluk oorgeplaas na die Witbank Hospitaal toe waar hy tans in ’n kritieke maar stabiele toestand is. 

Volgens Trudie wag hulle nog vir die dokters se terugvoer. 

“Hulle sê hulle sal teen Vrydag vir ons terugvoer kan gee of hulle gaan voortgaan met die operasie.” 

Motorfietsongeluk
Ruben is in 'n kritieke maar stabiele toestand. Foto: Verskaf

Intussen gaan dit goed met Ruben. “Hy is wakker maar hy is baie deurmekaar. Hy eet glad nie en neem net vloeistowwe in.”

Die gesin het nie ’n mediese fonds nie en ’n skarefinansiering is vir Ruben se mediese onkoste gestig. Volgens Trudie is daar reeds R11 000 ingesamel. 

“Ek is net dankbaar my kind lewe nog. Met die Here se genade en baie bid sal ons hierdeur kom.”