Victor Mozqueda (22), van Santa Clarita in Kalifornië, was vroegoggend saam met sy vriende Anita Baker en Isasais Gonzales en hul seun, Vincent (5), op ’n uitstappie na die park toe die kleuter waarskynlik op die gladde rotse aan die rivier se oewer gly en in die water beland.  

“Hy het eerste ingespring, al kon hy nie swem nie,” het Vincent se oom, Ivan Gonzalez, gesê.

Maar volgens Ivan het Victor sonder enige huiwering ingespring om Vincent te red. Vincent se ouers het net daarna ook ingespring.

“Dit was sowat vier of vyf mense in die water wat by hom probeer uitkom het. Twee vissermanne wat in die omgewing was, het ook ingespring,” het Ivan gesê.

Die stroom was te sterk en Victor en Vincent het meermale onder die water verdwyn. Tydens die hele beproewing het Victor nie ’n enkele oomblik sy lewensbehoudende houvas op Vincent verslap nie.

Victor se laaste poging om Vincent uit die water te red, het geslaag. Hy het Vincent uit die stroom in die rigting van sy pa gegooi. Net daarna het Victor vir die laaste keer onder die water verdwyn.

Omstanders het kardiopulmonêre resussitasie op Victor toegepas voor paramedici hom met ’n helikopter na ’n hospitaal gebring het. Daar was hy vier uur lank in ’n kritieke toestand sonder om reaksie te toon. Luidens berigte is hy nou wakker en sal hy na verwagting ten volle herstel .

Reddingswerkers het twee uur lank na Victor se lyk gesoek. Sy familie het ’n GoFundMe-blad gestig om geld vir begrafniskoste in te samel.

“Hy het daarvan gehou om op sy kitaar te speel, te sing, sokker te speel en te stap,” sê Victor se suster, Maria.

“Victor was ’n gelukkige mens; nederig, sorgsaam, liefdevol, eerbiedig, ontspanne en vriendelik. Hy het gehou van die buitelewe en om na aan die natuur te wees,” voeg sy by.

"Hy het nie verdien om so te sterf nie," het Maria gesê.

Die distriksbewaarder, Dave Fox, het gesê dis die tweede soortgelyke voorval wat die afgelope twee weke in die park plaasgevind het.

"In albei gevalle het die mense wat in die rivier gespring het om die kind te red, nie oorleef nie."

Bronne: ktla.com, people.com, gofundme.com