Marzanne was 30 weke swanger toe sy siek geword het. Sy het aanvanklik gedink sy het ’n ligte verkoue onder lede. 

“Sy was twee keer dokter toe en hy het haar op antibiotikum gesit, maar ná twee dae het dit nie gehelp nie. Die derde dag het sy begin sukkel om asem te haal en ons het haar weer dokter toe gevat. Toe die dokter weer kyk, was haar suurstoftelling so laag dat hulle nie kon glo haar hart klop nog nie,” vertel Skip Scheepers, haar pa, aan Huisgenoot

Marzanne, 'n klereontwerper, is nege dae gelede in die Wilgers-hospitaal in Pretoria opgeneem. 

“Sy is nou in God se hande. Hulle probeer haar van die ventilator af kry, maar dit werk nie. Sy kom elke nou en dan by (uit sedasie), maar haar longe het vreeslik seergekry,” vertel hy. 

Marzanne is Skip se oudste van drie kinders en hy vertel sy is die gesondste van almal.

“Sy kry gewoonlik nie eens verkoue nie en nou hang haar lewe aan ’n draadjie,” sê hy.

Skip verduidelik dat dokters vroeër sy eerste kleinkind wou uithaal, maar dat hulle bang is Marzanne gaan doodbloei weens die bloedverdunners wat sy moet gebruik. 

Thomas Lennox, haar man, is verpletter, vertel Skip. “Hy is nou in isolasie en ons ook. Dit is bitter moeilik vir hom en ek hanteer nou alle navrae,” sê hy. Thomas en Marzanne is in 2014 getroud. 

Foto: Verskaf
Marzanne en haar man, Thomas, op hul troudag.
Foto: Verskaf
Marzanne en Thomas op hul troudag.

“Ons vra mense om vir Marzanne te bid. Dit is al wat ons nou kan doen. Ek wil vir mense sê: Ek het gedink die virus is bull***t, maar kyk nou. . . my dogter veg om haar lewe. Ek ken mense hier in Pretoria-Oos wat die virus het en gister is iemand daaraan oorlede. Dié ding is nie ’n grap nie. Dit verwoes besighede, maar ook lewens,” sê Skip. 

Hy sê hulle weet nie waar Marzanne die virus gekry het nie, maar hulle vermoed sy het dit gekry toe sy vir haar roetine-ondersoeke vir haar swangerskap gegaan het.

“Sy en Thomas woon op ’n kleinhoewe in Midrand. Hulle kom in kontak met byna niemand en ken ook nie iemand wat die virus gehad het nie,” sê hy. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe