Travis, van Brittanje, se reis van 40 000 km het hom die nuwe Guinness World Record besorg vir die jongste mens wat in ’n enkelenjinvliegtuig om die wêreld gevlieg het.

Die jong vlieënier het in Nederland met sy reis begin en toe oor Europa, Rusland en Amerika gevlieg en met ’n ompad deur Kanada, Groenland en Ysland huis toe. 

“Ek het ’n paar probleme met ys en turbulensie gehad,” vertel hy. 

Travis sê al het hy die avontuur geniet, was dit ook taamlik gevaarlik, veral toe sy vliegtuig in 30 sekondes na 610 m geval het weens die ys en turbulensie.

“Skrikwekkend!” roep hy uit. 

“Dit was wonderlik om oor die Grand Canyon te vlieg en die kans van ’n leeftyd om al die besienswaardighede te sien.” 

Die nuwe rekordhouer, wat altesaam 60 keer op die nege vastelande geland het, is steeds verstom oor sy prestasie. 

“Dis ’n vreemde gevoel,” sê hy oor die feit dat hy die wêreldtoer eindelik voltooi het en hom nie meer hoef te bekommer om oor onbekende en moeilike terreine vlieg nie.

“Hier is ek, ek het tuisgekom en hoef my niks oor môre te bekommer nie – dis vreemd.”

Travis het begin vlieg toe hy 12 jaar oud was en in 2016 het hy op 14 jaar Brittanje se jongste sweeftuigvlieënier geword.

Travis het op 18 die jongste mens in Brittanje geword wat sy privaat vlieënierslisensie verwerf het.

Dit laat hom toe om vliegtuie net vir ontspanningsdoeleindes te vlieg. “Ek was baie gelukkig om dit te kon doen,” sê Travis oor sy prestasie. Hy hoop dit sal ander jong mense soos hy inspireer om hul drome na te streef.

Bronne: BBC, The Times, Itv, Instagram

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe