Mariia Bilenka, van Kiëf in die Oekraïne, het as ’n tiener met aknee gesukkel, maar dit aan puberteit toegeskryf.

“Ek het op 13 of 14 jaar begin aknee kry en almal het my probeer oortuig dit was net weens puberteit,” sê Mariia.

“Ek is nou amper 23 en het steeds aknee. Ek onthou nie ’n tyd toe ek ’n mooi vel gehad het nie, maar dit was beslis nie so erg soos nou nie.”

Verlede jaar, terwyl sy as ’n au pair in Duitsland gewerk het, het Mariia se aknee weer opgevlam tot die ergste wat dit nog was.

Sy weet nie wat haar aknee so laat vererger het nie, maar sy dit dink was dalk weens die stres van weg van die huis af woon en werk.

“Toe ek in Duitsland was, was ek uiters gespanne, wat beteken het my vel het erger geraak. Dit was in die slegste toestand wat dit nog in my lewe was.

“My gesin was ver van my af en ek het baie alleen en absoluut gebroke gevoel – nie net oor my vel nie, maar ook omdat ek baie graag wou terugkom Oekraïne toe.

Mariia Bilenka
Mariia se aknee het verlede jaar weer opgevlam tot die ergste wat dit nog was. Foto: Magazine Features

“Ek weet nie hoe nie, maar ek het die krag en motivering gevind om elke enkele dag uit te gaan, ten spyte van die probleme met my vel,” sê sy.

Eendag het Mariia die akneegemeenskap op Instagram ontdek en kort voor lank besef sy is nie alleen in die stryd nie. Sy het toe die moed bymekaargeskraap om ‘n skoongesig-selfie van haar eie met die wêreld te deel.

Sedert sy dit gedoen het, word sy oorval met boodskappe van steun van mense wat sê sy het hulle inspireer.

“Ek het amper ’n jaar gelede begin skryf oor aknee-positiwteit en myself liefhê. Ek het nie toe so baie puisies gehad nie.

“Ek het so baie steun gekry van mense wat ek nie ken nie, maar teenoor wie ek baie dankbaar is. Dis net ongelooflik hoe hulle my motiveer om sterk te bly,” sê Mariia.

Sy voeg by die mense deel hul velstories met haar – hoe hulle genees het of hul proses van genesing.

Mariia erken sy het voorheen filters op haar Instagram-foto’s gebruik om die illusie te skep dat sy ’n volmaakte vel het, maar sy weet nou dit is nie ’n weerspieëling van die regte lewe nie.

Die uitstorting van steun wat sy vir haar natuurlike foto’s kry, het haar ’n meer optimistiese uitkyk op die lewe gegee.

“Die Instagram-hutsnaam #acnecommunity toon jy is nie alleen met jou probleme nie, en wanneer jy liefde en steun moet vind, help die #acnecommunity jou,” sê sy.

Hoewel sy geen negatiewe kommentaar aanlyn oor haar vel kry nie, moet Mariia dit trotseer om aangestaar te word wanneer sy uitgaan.

Stres en negatiewe gedagtes oor haarself het albei ’n baie negatiewe uitwerking op Mariia se vel, maar sy hoop dat deur haar storie te deel, kan sy ander inspireer wat met dieselfde probleem worstel.

Mariia Bilenka
Sy word oorval met boodskappe van steun van mense wat sê sy het hulle inspireer. Foto: Magazine Features

“Pleks van heeltyd ons vel met grimering en filters bedek, kom ons doen iets wat ons sal laat beter voel: hê ’n gesprek met ’n goeie vriendin, skryf oor dit waarvoor jy dankbaar is, kyk ’n inspirerende rolprent of kry steun by die #acnecommunity.

“As jy met aknee sukkel, onthou stres en heeltyd huil help nooit nie. Gesondheidsprobleme kom gewoonlik as gevolg daarvan voor – aknee ook,” is haar inspirerende boodskap.

“Niks is belangriker as ons gesondheid nie. As iets of iemand jou nie gelukkig maak nie – los dit of hulle.