Marius Stander (23) van Petrusburg in die Vrystaat is in ’n bestendige toestand nadat hy Dinsdagmiddag laat ernstig in ’n trekkerongeluk op die plaas beseer is.

Marius se pa, Hennie, het met hom in sy bakkie na Bloemfontein gehaas, waar ’n ambulans hulle buite die stad ontmoet en na die Mediclinic Bloemfontein gebring het.

Hy het inwendige beserings en verskeie beenbreuke, waaronder sy bekkenbeen, opgedoen nadat die trekker se agterwiel oor hom gery het.

Sy pa, Hennie, was nog baie emosioneel toe Huisgenoot hom Woensdagoggend bel. “Ons is net baie dankbaar en vir mense se gebede.”

Marius Stander en sy verloofde, Marise Havenga het
Marius Stander en sy verloofde, Marise Havenga, het mekaar op universiteit in Bloemfontein ontmoet. Foto: Facebook

Hy was sowat 20 m van sy seun af toe die ongeluk gebeur het.

Hennie sê dit was vir hom ’n groot skok. “Ek het dit nie sien gebeur nie – gelukkig nie, ek weet nie, maar ek het hom hoor skree.”

Hy vertel hulle was vyf mense in die omtrek, insluitend ’n vriend van hom, wat Marius toe te hulp gesnel het.

Marise Havenga, Marius se verloofde, wat haar intussen van Pretoria na Bloemfontein gehaas het, vertel dit gaan onder die omstandighede goed met hom.

Sy sê hy en sy pa bedryf saam die gemengde boerdery op die plaas buite Petrusburg.

“Ek kon vanoggend by hom kuier. Dit gaan oukei. Ons besef dit is alles net die Here se genade,” het sy Woensdagoggend aan Huisgenoot gesê.

Marise (23) en Marius het mekaar net meer as vier jaar gelede ontmoet toe hulle saam studente aan die Universiteit van die Vrystaat in Bloemfontein was.

Marius Stander en sy verloofde, Marise Havenga, se
Marius Stander en sy verloofde, Marise Havenga, se plan was om Februarie te trou. Foto: Facebook

Marius het Marise, ’n fisioterapeut wat by die Steve Biko Akademiese Hospitaal in Pretoria werk, self oor die ongeluk vertel toe sy hom toevallig ná die ongeluk gebel het.

“Hy het net gesê hy was in ’n ongeluk. Die trekker het oor hom gery. Dit was ’n groot skok, maar ek sien hierdie soort goed elke dag; ek dink dit was toe die praktiese kant van my wat ingeskop het.”

Volgens Marise was Marius omstreeks halfses die middag nog besig om sonneblomme op die plaas te plant toe hy op die trekker wou klim.

“Hy het vermoedelik die trappie misgetrap . . .

"Marius het toe onder die bewegende trekker beland, wat toe oor hom gery het.

"Toe ek vanoggend met hom praat was hy net baie dankbaar vir almal wat hom te hulp gesnel en ondersteun het,” sê Marise.

Sy sê hulle was van plan om in Februarie te trou.

“Ons sal nou maar eers sien wat gebeur. Sy lewe en rehabilitasie is nou prioriteit. Die party kan wag!”