Maar Courtney se droom om te kan loop is van haar af weggeruk toe sy maar nog net ’n fetus in haar hoogswanger ma se maag was.

Die eerste keer dat Huisgenoot haar ontmoet het, was sy net 21 maande oud, maar vandag op 21 jaar is sy die toonbeeld van ’n lewenslustige jong vrou, al het die voorval destyds haar verlam en in ’n rolstoel gelaat.

Sy vertel sy het eers die groot mylpaal saam met haar ma, ouma, oupa en oom by ’n nabye koffiewinkel in Kempton Park aan die Oos-Rand, met Franse roosterbrood en stroop en ’n sjokolademelkskommel gevier.

“Ek het nie eens geweet ek gaan ’n koek kry nie,” vertel Courtney, wat daarna die vieringe vir haar mondigwording op Dinsdag by haar ouma Mary Ellerbeck (66) se huis voortgesit het. 

“Daar het ek vonkelwyn gedrink!” vertel sy.

Courtney Hockly het haar mondigwording met vonkelw
Courtney Hockly het haar mondigwording met vonkelwyn gevier. Foto: Verskaf/Huisgenoot
Courtney Hockly se tweelaag koek versier met haar
Courtney Hockly se tweelaagkoek versier met haar gunstelingblom, sonneblomme. Foto: Verskaf/Huisgenoot

Courtney kuier sedert Kersfees hier by haar ouma en haar ma, Lesley (44), het vir haar verjaardag by hulle aangesluit.

Huisgenoot het met Courtney se 18de verjaardag geskryf oor hoe ver dié wonderbaba reeds gekom het, sedert sy die wêreld met groot uitdagings moes binnekom.

Lesley (toe 23) was agt maande swanger met Courtney toe die skokvoorval op 30 Maart 2000 buite haar ouma Miemie Edwards se huis in Boksburg-Suid gebeur het. Sy het net die oggend gou gaan inloer en was weer op pad om te ry.

Terwyl sy besig was om haar ouma en niggie (toe 2) omstreeks negeuur te groet, het twee kapers op haar by haar Toyota Corolla toegeslaan. Die eerste skoot uit die .38 Special-rewolwer is deur haar maag. Die tweede het hulle gemis en die sitplek getref. Die mans het weggehardloop en haar tante, wat in die huis was, het die ambulansdienste ontbied.

Haar verhaal het destyds opslae gemaak. Foto: Verskaf

In die Arwyp-hospitaal is sy in die hoësorgeenheid opgeneem. Sy het by haar bewussyn gebly tot die dokters haar verseker het hulle hoor nog haar baba se hartklop. Courtney is kort daarna met ’n noodkeiser gebore, maar die senuwees om haar rugstring was erg beskadig. Die skoot het haar in die boud getref.

Sy sou nooit soos ander kinders kon leer loop nie.

Wanneer ’n mens vandag met Lesley praat en sy daaraan dink hoeveel Courtney al moes trotseer, raak sy sommer weer bewoë.

“Dit is vir my tog swaar om te dink net die ander dag was sy nog so ’n piepklein babatjie en nou is sy hierdie pragtige jong dame van 21. Daar is soveel dinge wat sy nog wil doen,” vertel Lesley.

Courtney Hockly, wat as baba in haar ma se maag ge
Courtney Hockly, wat as baba in haar ma se maag geskiet is, vier haar 21ste verjaardag. Foto: Verskaf/Huisgenoot

Sy vertel hulle kon die afgelope drie jaar nie daarin slaag om Courtney te help om haar rybewys te kry nie omdat dit te duur is.

Lesley, wat tans werkloos is, vertel hulle gaan nie moed opgee nie en hoop om eendag ’n outomatiese motor vir haar in te rig.

“Courtney doen klaar alles self."

Lesley en Courtney woon saam met haar man, Roley Hockly, ’n onderwyser. Hy het Courtney as sy eie kind grootgemaak en ná Huisgenoot se vorige besoek het sy wettiglik, nes haar ma, sy van aangeneem. Courtney vertel sy sien daarna uit dat hy ook die naweek by hulle kom aansluit.

Courtney by haar ma en stiefpa, Lesley en Roley Ho
Courtney by haar ma en stiefpa, Lesley en Roley Hockly. Foto: Onkgopotse Koloti

“Hy kon nie hier wees op my verjaardag nie, want hy moes werk,” vertel sy.

Courtney vertel in hierdie stadium werk sy nog nie. Sy probeer om aanlyn kursusse in ondernemingsbestuur te voltooi, maar finansies asook die ernstige krag- en waterprobleme op Bethal, maak selfs van die huis af studeer of werk moeilik vir haar en haar ma. 

Sy is onkant betrap toe ons vra wat haar grootste wens is.

“Nee, sjoe, ek weet nie.”

En as sy moet raai?

Courtney huiwer dan nie ’n oomblik nie.

“My grootste droom is om te kan loop. As my droom waar sou word, sou ek opspring en hardlóóp!”

Die trane loop toe sy weer die foon vir ma Lesley aangee.

“Op ’n manier maak dit nog seer om dit te hoor, maar ek is ook trots."