Hoekom moes hy ook sterf?

Die eerste ding wat die 27-jarige Anita Brits opgeval het toe sy in die stikdonker tot verhaal kom, was die doodse stilte. Toe besef sy hul wit Toyota-bakkie lê op sy dak en sy is in die voorste passasiersitplek vasgepen. En toe begin sy na die ander roep.

Eers het sy geroep na haar man, Armand (32), wat agter die stuur van die bakkie was toe dit kort tevore omgeslaan het. Maar hy het haar nie geantwoord nie.

Daarna het sy na Armand se halfbroer, Ruan Pieterse (17), en dié se vriend Lajos van Zyl (22) agter in die dubbelkajuitbakkie geroep. Maar die stilte was haar enigste antwoord.

Haar pa, Chris van Oudsthoorn (58), is koelbloedig in sy huis doodgeskiet.

“Ek kon dit nie glo nie; ek het gedink dit kan nie wees nie. Ek wou dit nie glo nie. Ek het gedink hulle is seker net bewusteloos,” vertel Anita ons vier weke ná die middernagtelike voertuigongeluk op 9 Junie op Springs.

Maar almal in die bakkie was reeds dood toe Anita tevergeefs na hulle roep, het sy later by die reddingsbeamptes gehoor. Dit was ook nie die enigste skok wat Anita gekry het by die wrak waarin haar man en die ander twee gesterf het nie.

Twee jaar tevore was daar nog ’n tragedie in dié fyngeboude vrou van Brakpan se lewe. Haar pa, Chris van Oudsthoorn (58), is koelbloedig in sy huis doodgeskiet.

En ná die paramedici se uur lange stryd om haar uit die wrak te bevry, is sy op ’n onaangename manier aan die dood van haar pa herinner.

Sy was eers verlig toe iemand sê haar suster het op die toneel aangekom, vertel sy. Sy het gedink dit moet haar suster Maryna Roets (26) van Pretoria wees.

Maar dit was nie.

Toe sy opkyk, het sy in die gesig van haar aangenome suster, Cathy van Oudtshoorn (31), vasgekyk. Dieselfde Cathy wat later met haar pa getrou het en tans in die hooggeregshof in Pretoria weens sy moord verhoor word.

Dieselfde waarin Anita se man, Armand, wat kort tevore in hul bakkie gesterf het, ’n sleutelgetuie was omdat hy eerste op haar pa se moordtoneel afgekom het. Die moordsaak waarin Anita se ma, Jorina van Niekerk (58), vyf jaar tronkstraf weens regsverydeling opgelê is.

Anita het geweier om met Cathy te praat.

“Ek kon dit nie glo nie. Ek was woedend. Wat soek sy eerste op die toneel? Sy is dan sieklik en hoogswanger,” sê Anita.

“Ek het aan die paramedici gesê: ‘Nee, sy is nie my suster nie. Sy is niks van my nie.’ ”

Die ander slagoffers

’n Ent van waar Armand beheer oor hul Hilux-bakkie verloor het, het ’n Bantam-bakkie ook teen ’n boom vasgejaag en aan die brand geslaan, het kapt. Johannes Rhampora, polisiewoordvoerder van Springs, aan Huisgenoot bevestig.

“Die passasier in die Bantam-bakkie is dood en die bestuurder is in hoësorg in die hospitaal,” sê Johannes.

Huisgenoot kon intussen vasstel die man wat in die Bantam-bakkie gesterf het, was die gerekende SA stoeier Kleinjan Combrinck (23), wat aan vanjaar se Statebondspele in Australië deelgeneem het. Hy het verkool toe die bakkie aan die brand slaan.

Die beseerde bestuurder was sy stoeimaat van die Statebondspan, Michael Gaitskill (22). Hy het ernstige brandwonde aan die linkerkant van sy lyf opgedoen en word steeds in die Wilgers--hospitaal in Pretoria behandel.

Volgens Johannes word sake van strafbare manslag teen albei partye in die ongeluk ondersoek en is dit na die nasionale vervolgingsgesag verwys.

“Dit is ’n baie groot ondersoek.”

Die moord op haar pa

Dit was twee jaar van ongekende hartseer en woede vir Anita. Die aand van 11 April 2016 het sy op haar pa se bebloede lyk afgekom waar hy op die rusbank voor die TV gesit-lê het. Hy is in die kop geskiet.

Cathy het glo Jorina betrek om te help om die toneel soos ’n gewapende rooftog te laat lyk. Maar albei vroue is in hegtenis geneem en van moord aangekla nadat die polisie die moordwapen op die erf gekry het.

Cathy van Oudtshoorn (31), word tans in die hooggeregshof in Pretoria weens die moord op Anita se pa verhoor.

Jorina is in September verlede jaar gevonnis, maar Cathy se verhoor sloer steeds.

Vir Anita en haar biologiese suster, Maryna, was dit die soveelste bitter pil om te sluk. Eers skei hul pa van hul ma en trou met hul aangenome suster. Toe vermoor hul aangenome suster na bewering hul pa en betrek hul ma daarby . . .

In die uitgawe van 22 Maart 2018 het Anita en haar suster, Maryna, met Huisgenoot oor hul pa se moord gesels.

En nou, met hul ma agter tralies, is Armand ook dood. 

“Ek haat haar,” sê Anita oor Cathy, wat as haar sussie grootgemaak is.

“Ek haat haar nou nog meer as voorheen.”

Die skok en hartseer lê nog vlak terwyl Anita praat. Sy beweer hulle was in Voortrekkerstraat, Brakpan, in ’n ongeluk met ’n wit Bantam-bakkie betrokke. Huisgenoot weerhou die besonderhede van die bewerings aangesien die ondersoek steeds aan die gang is.

Anita saam met Armand. Sy probeer nog sin maak van die hartverskeurende tragedies wat haar gesin geruk het.

10 Junie 2018

Armand het die bakkie agternagesit. Toe hulle Springs binnery, het Armand oorkant die Parkland-hospitaal vermoedelik beheer verloor.

In ’n video van die hospitaal se kringtelevisiemateriaal wat Huisgenoot gesien het, kan ’n mens sien hoe ’n klein wit bakkie eers vinnig verbyry, gevolg deur die Hilux wat met ’n spoed agternakom en dan omslaan. Michael se familie wou glad nie op dié bewerings kommentaar lewer nie aangesien die polisie se ondersoek nog nie afgehandel is nie.

Armand, haar swaer en sy vriend het dié nag patrolliediens vir die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) gedoen en sy het saamgery.

Nou het Anita se man, Armand (regs), en sy halfbroer, Ruan Pieterse (links), en ’n vriend ook tragies omgekom.

“Dit was ’n rustige aand, my eerste keer saam,” vertel sy.

“Ek het geen pyn gevoel nie,” vertel Anita, wat albei haar arms gebreek het.

“Ek het net geroep. Ek was baie bang. Ek kon nie asem kry nie. Armand moes langs my gelê het, ek kon hom nie sien nie, net sy voet voor my.”

En toe kom Cathy op die toneel aan.

Aan Anita het Cathy, wat in Springs woon, niks gesê nie. Maar sy het Maryna gebel.

“Maryna het aanvanklik gedink sy maak ’n grap oor die ongeluk en het die eerste keer die foon in haar oor doodgedruk.”

Anita moes 10 dae lank in die Sunshine-hospitaal in Benoni aansterk ná die ongeluk. Die beendere van haar regterarm en -skouer en -linkervoorarm is met skroewe en plate geheg. Haar regterhand is tans verlam nadat ’n spier glo tydens chirurgie raakgesny is.

Anita is nog in ’n skoktoestand sedert Armand se dood, vertel ’n familielid wat haar ondersteun.

Armand en sy halfbroer is saam in Boksburg begrawe. Dit was ’n baie emosionele geleentheid vir die familie, wat twee jaar tevore ook Anita se pa begrawe het.

’n Dubbele begrafnis is vir Armand en Ruan gehou.

“Ek en Armand het baie oor my pa gepraat. Hy was gebroke toe my pa dood is; hulle was baie na aan mekaar,” vertel Anita.

Armand was haar steunpilaar deur die skokke van die moord op haar pa, Cathy en haar ma se inhegtenisneming en haar ma se vonnis. Hy het haar na die Kgosi Mampuru II-gevangenis in Pretoria vergesel om haar ma te besoek.

“Hy sou my altyd net vashou. Vir my sê alles sal oukei wees; dat my pa op ’n beter plek is.”

Nou is Armand ook weg.

‘Pappa werk nou by Liewe Jesus’

Armand se ma, Alette O’Neill (52), staan haar nou by met hul kinders, Llewellyn (9), Weylin (7) en Shanté (3).

“Ek het aan hulle uit my hospitaalbed gesê: ‘Pappa werk nou by Liewe Jesus’. Hulle het geen vrae gevra nie. Ek het so hard probeer, maar ek het net so hard saamgehuil,” sê Anita.

Oor Cathy se kind, wat ná die noodlottige ongeluk gebore is, wil sy egter niks weet nie.

Anita het nog baie vrae. Hoekom moes Armand ook sterf? En hoekom sloer Cathy se verhoor so?

Met Cathy se vorige verskyning is sy vir psigiatriese waarneming gestuur. Haar saak kom op 30 Julie weer voor.

“Die saak moet nou begin,” sê Anita. “Ek is baie kwaad . . . ”

Wat sê Cathy?

Volgens Cathy het sy toevallig op die toneel aangekom toe sy en ’n vriend onderweg na hul huis in Springs was ná ’n aand uit.

“Ons het die bakkie (se wrak) gesien en ek het geworry, want ek het familie wat met wit bakkies ry. Ek het geweet Armand ry met so ’n Toyota-bakkie.

“Ek het hulle (op die toneel) gevra hulle moet die vrou vra (wat oorleef het) of haar naam Anita is. Hulle het ná ’n ruk teruggekom en gesê haar naam is Anita.

“Toe bel ons Maryna, want hulle wou weet of sy ’n mediese fonds het.”

FOTO'S: ROWYN LOMBARD, FRANCOIS VAN OUDSTHOORN, FACEBOOK/ANITA BRITS